Rigters 10
Afrikaans PWL
1Nádat Avimelekh dood is, het Tola, die seun van Pu’ah, die seun van Dodo, ’n man van Yissakhar, opgestaan om Yisra’el te verlos en hy het in Shamir gebly op die Bergland van Efrayim. 2Hy het Yisra’el drie en twintig jaar lank gerig. Toe is hy dood en is in Shamir begrawe.

3Ná hom het Ya’ir, die Gil’adiet, opgestaan en hy het Yisra’el twee en twintig jaar lank gerig. 4Hy het dertig seuns gehad, wat op dertig donkies gery en dertig stede in die land van Gil’ad gehad het wat tot vandag toe Havot-Ya’ir genoem word. 5Ya’ir het gesterf en is in Kamon begrawe.

6Toe het die seuns van Yisra’el weer gedoen wat verkeerd was in die oë van יהוה. Hulle het die Ba’als en die `Ashtarot gedien, die gode van Aram, die gode van Tzidon, die gode van Mo’av, die gode van die seuns van `Ammon en die gode van die F’lishtyne; só het hulle יהוה verlaat en Hom nie gedien nie. 7Die woede van יהוה het gebrand teen Yisra’el en Hy het hulle verkoop in die hand van die F’lishtyne en in die hand van die seuns van `Ammon. 8Hulle het die seuns van Yisra’el gepla en verpletter in daardie jare; vir agttien jaar lank het hulle al die seuns van Yisra’el wat oorkant die Yarden gebly het, in die land van die Amoriete, wat in Gil’ad was, gepla. 9Die seuns van `Ammon het die Yarden oorgetrek om ook teen Y’hudah, Binyamin en die huis van Efrayim te veg sodat Yisra’el baie benoud was.

10Toe roep die seuns van Yisra’el uit na יהוה en sê: “Ons het teen U gesondig, want inderdaad, ons het ons God verlaat en die Ba’als gedien.” 11יהוה het vir die seuns van Yisra’el gesê: “Het Ek julle nie van die Mitzrayiete, van die Emoriete, van die seuns van `Ammon en van die F’lishtyne bevry nie? 12Ook toe die Tzidoniete, `Amalekiete en Ma’oniete julle verdruk en julle My aangeroep het, het Ek julle uit hulle hand verlos. 13Tog het julle My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie langer bevry nie. 14Gaan en gaan roep die gode aan wat julle gekies het; laat hulle julle bevry in die tyd van julle benoudheid.” 15Die seuns van Yisra’el sê vir יהוה: “Ons het gesondig, maak met ons net soos dit goed is in U oë; asseblief, bevry ons net vandag.” 16Hulle het die vreemde gode uit hulle midde uit weggesit en יהוה gedien en Hy kon nie langer die ellende van Yisra’el verdra nie.

17Toe is die seuns van `Ammon bymekaargeroep en hulle het in Gil’ad kamp opgeslaan en die seuns van Yisra’el het bymekaar gekom en kamp opgeslaan in Mitzpah. 18Die mense, die leiers van Gil’ad, het vir mekaar gesê: “Wie is die man wat sal begin om te veg teen die seuns van `Ammon? Hy sal hoof word oor al die inwoners van Gil’ad.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Judges 9
Top of Page
Top of Page