Rigters 13
Afrikaans PWL
1Die seuns van Yisra’el het weer boos gedoen in die oë van יהוה sodat יהוה hulle oorgegee het in die hand van die F’lishtyne vir veertig jaar lank.

2Daar was ’n sekere man van Tzor’ah, van die familie van die Daniete, met die naam van Manoag en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie. 3Toe het die engel van יהוה aan die vrou verskyn en vir haar gesê: “Let op, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun. 4Nou, daarom, wees versigtig om nie wyn of sterk drank te drink nie en niks wat onrein is te eet nie, 5want let op, jy sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun en geen skeermes mag op sy kop kom nie, want die seun sal van die baarmoeder af ’n Natzir tot God wees en hy sal begin om Yisra’el te bevry uit die hand van die F’lishtyne.” 6Toe het die vrou gekom en haar man vertel en gesê: “’n Man van God het na my toe gekom en sy voorkoms was soos die voorkoms van die engel van God, baie ontsagwekkend en ek het hom nie gevra van waar hy was nie en hy het my ook nie sy naam vertel nie, 7maar hy het vir my gesê: ‘Let op, jy sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun en jy moet nou geen wyn of sterk drank drink of iets wat onrein is eet nie, want die seun sal ’n Natzir tot God wees van die baarmoeder af tot op die dag van sy dood.”

8Toe het Manoag by יהוה gepleit en gesê: “Ag, יהוה, laat die man van יהוה wat U gestuur het, asseblief nog ’n keer na ons toe kom dat hy ons kan leer hoe ons moet maak met die seun wat gebore sal word.” 9God het geluister na die stem van Manoag sodat die engel van God nog ’n keer na die vrou toe gekom het terwyl sy in die veld sit en Manoag, haar man, was nie by haar nie. 10Die vrou het haastig gehardloop en haar man vertel: “Let op, die man het aan my verskyn wat die ander dag na my toe gekom het.” 11Toe staan Manoag op en volg sy vrou en toe hy by die man kom, vra hy: “Is u die man wat met dié vrou gepraat het?” Hy sê: “Ja.” 12Manoag het gevra: “As u woorde waar word, wat moet die leefwyse en die beroep van die seun wees?” 13Die engel van יהוה sê vir Manoag: “Laat die vrou aandag gee aan alles wat ek gesê het. 14Sy mag niks eet wat van die wingerdstok afkomstig is nie, of enige wyn of sterk drank drink en niks eet wat onrein is nie; alles wat ek haar beveel het, moet sy doen.”

15Toe sê Manoag vir die engel van יהוה: “Laat ons U tog ophou dat ons ’n bokkie vir u kan voorberei.” 16Die engel van יהוה antwoord Manoag: “Al hou jy my op, sal ek nie van jou kos eet nie, maar as jy ’n brandoffer voorberei, offer dit dan aan יהוה,” want Manoag het nie geweet dat dit die engel van יהוה was nie. 17Manoag vra vir die engel van יהוה: “Wat is u naam (karakter en outoriteit) sodat ons u kan vereer wanneer u woord waar word?” 18Die engel van יהוה sê egter vir hom: “Waarom vra jy my naam terwyl dit wonderbaarlik is.” 19Manoag vat die jong bokkie saam met die graanoffer en offer dit op die rots aan יהוה terwyl die engel יהוה loof voor die oë van Manoag en sy vrou, 20want dit het gebeur toe die vlam vanaf die altaar opstyg na die hemel toe dat die engel van יהוה in die vlam van die altaar opgegaan het. Toe Manoag en sy vrou dit gesien het, het hulle op hul gesigte op die grond neergeval.

21Die engel van יהוה het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie. Toe het Manoag geweet dat hy die engel van יהוה was. 22Manoag sê toe vir sy vrou: “Ons sal sekerlik sterf, want ons het God gesien.” 23Sy vrou sê egter vir hom: “As יהוה begeer het om ons te laat sterf, sou Hy nie uit ons hand ’n brandoffer en ’n graanoffer aanvaar het nie en ook nie vir ons al hierdie dinge laat sien het nie, asook nie al hierdie dinge in hierdie tyd laat hoor het nie.

24Toe het die vrou geboorte gegee aan ’n seun en hom Shimshon genoem en die kind het opgegroei en יהוה het hom geseën. 25Die Gees van יהוה het begin om hom op te wek in Mahaneh-Dan, tussen Tzor’ah en Eshta’ol.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Judges 12
Top of Page
Top of Page