Rigters 12
Afrikaans PWL
1Toe is die manne van Efrayim bymekaargeroep en hulle het oorgegaan na Tzafon en vir Yiftag gesê: “Waarom het jy oorgegaan om teen die seuns van `Ammon te veg sonder om óns te roep om saam met jou te gaan? Ons sal jou huis oor jou afbrand.” 2Yiftag sê vir hulle: “Ek en my mense het ’n hewige twis met die seuns van `Ammon gehad; toe ek julle geroep het, het julle my nie uit hulle hand bevry nie. 3Toe ek sien dat jy my nie gaan bevry nie, het ek my lewe in my hande geneem en oorgegaan na die seuns van `Ammon en יהוה het hulle in my hand gegee. Waarom het julle dan vandag teen my opgekom om teen my te veg?” 4Toe het Yiftag al die manne van Gil’ad bymekaargemaak en teen Efrayim geveg en die manne van Gil’ad het Efrayim verslaan omdat hulle gesê het: “Julle, o Gil’adiete, is vlugtelinge van Efrayim, tussen Efrayim en tussen M’nashah.” 5Gil’ad het die driwwe van die Yarden oorkant Efrayim ingeneem en dit het gebeur as die vlugtelinge van Efrayim sê: “Laat my oorgaan, dan vra die manne van Gil’ad vir hom: “Is jy ’n Efrayimiet?” As hy sê: “Nee,” 6dan vra hulle vir hom: “Sê nou, Shibbolet!” As hy egter sê: “Sibbolet” omdat hy dit nie reg kan uitspreek nie, dan gryp hulle hom en maak hom by die Yarden-driwwe dood. So het daar dan in dié tyd van Efrayim twee en veertig duisend man geval.

7Yiftag het Yisra’el ses jaar lank gerig. Toe is Yiftag, die Gil’adiet dood en is begrawe in een van die stede van Gil’ad.

8Ná hom het Ibtzan, van Beit-Legem, Yisra’el gerig. 9Hy het dertig seuns gehad en dertig dogters wat hy uitgegee het in die huwelik buite die familie en hy het dertig dogters van buite af ingebring vir sy seuns en hy het Yisra’el sewe jaar lank gerig. 10Toe het Ibtzan gesterf en is begrawe in Beit-Legem.

11Ná hom het Elon, van Z’vulun, Yisra’el gerig en hy het Yisra’el tien jaar lank gerig. 12Toe is Elon, van Z’vulun, dood en is begrawe in Ayalon, in die land Z’vulun.

13Ná hom het `Avdon, die seun van Hillel, van Pir’aton, Yisra’el gerig. 14Hy het veertig seuns en dertig kleinseuns gehad wat op sewentig donkies gery het en hy het Yisra’el agt jaar lank gerig. 15`Avdon, die seun van Hillel, van Pir’aton, het gesterf en is begrawe in Pir’aton, in die land Efrayim, op die Bergland van die `Amalekiete.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Judges 11
Top of Page
Top of Page