Josua 9
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur dat toe al die konings wat wes van die Yarden bly, in die bergland en in die Laagland en aan die hele kus van die Groot See in die rigting van L’vanon: die Hittiete, Emoriete, Kena’aniete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete, daarvan hoor, 2hulle bymekaargekom het om soos een man teen Y’hoshua en Yisra’el te veg.

3Toe die inwoners van Giv’on hoor wat Y’hoshua met Yerigo en met `Ai gedoen het, 4het hulle ook met lis gehandel: hulle het gegaan en hulle as afgevaardigdes voorgestel en verslete sakke en verslete wynsakke wat geskeur en reggemaak was op hulle donkies gevat; 5ook verslete en gelapte sandale aan hulle voete en verslete klere aan hulle self en al die brood van hulle padkos was droog en verkrummeld. 6Hulle het na Y’hoshua gegaan in die kamp by Gilgal en vir hom en die manne van Yisra’el gesê: “Ons kom van ’n ver land af; sluit dan nou ’n verbond met ons.” 7Die manne van Yisra’el het vir die Giviete gesê: “Miskien bly julle in ons land; hoe kan ons dan ’n verbond met julle sluit?” 8Hulle sê egter vir Y’hoshua: “Ons is u diensknegte!” Toe vra Y’hoshua vir hulle: “Wie is julle en waar kom julle vandaan?” 9Hulle sê vir hom: “U dienaars kom van ’n baie ver land af as gevolg van die verslag van die roem van יהוה, u God, wat ons aangaande Hom gehoor het en alles wat Hy in Mitzrayim gedoen het; 10ook alles wat Hy aan die twee konings van die Emoriete oorkant die Yarden gedoen het, aan Sigon, die koning van Heshbon en `Og, die koning van Bashan, wat in `Ashtarot was; 11daarom het ons oudstes en al die inwoners van ons land met ons gepraat en gesê: “Neem padkos in julle hand vir die reis en gaan ontmoet hulle en sê vir hulle: ‘Ons is julle diensknegte, sluit dan nou ’n verbond met ons.’ 12Hierdie brood van ons was warm toe ons dit as padkos uit ons huise gevat het op die dag wat ons uitgegaan het om na julle toe te kom, maar nou, let op, dit is droog en het verkrummeld geword. 13Hierdie wynsakke wat ons volgemaak het, was nuut en let op, hulle is geskeur en hierdie, ons klere en ons sandale, is verslete as gevolg van die baie lang reis. 14Die manne het van hulle padkos gevat en nie die raad van יהוה gevra nie. 15Y’hoshua het met hulle vrede gemaak en met hulle ’n verbond gesluit dat hy hulle sou laat lewe en die prinse van die vergadering het teenoor hulle gesweer.

16Dit het gebeur aan die einde van drie dae nadat hulle die verbond met hulle gesluit het dat hulle gehoor het dat hulle bure is en dat hulle in hulle land woon. 17Toe het die seuns van Yisra’el weggetrek en op die derde dag by hulle stede gekom. Hulle stede was: Giv’on, K’firah, Be’erot en Kiryat-Ye’arim. 18Die seuns van Yisra’el het hulle nie verslaan nie omdat die leiers van die vergadering teenoor hulle gesweer het by יהוה, die God van Yisra’el. Die hele vergadering het teen die leiers gemurmureer. 19Al die leiers sê egter vir die hele vergadering: “Ons het teenoor hulle gesweer by יהוה, die God van Yisra’el en nou mag ons nie aan hulle raak nie. 20Dit sal ons aan hulle doen; hulle laat lewe sodat daar nie toorn oor ons kom ter wille van die eed wat ons teenoor hulle gesweer het nie.” 21Die leiers sê vir hulle: “Laat hulle lewe!” Hulle het houtkappers en optrekkers van water geword vir die hele vergadering, net soos die leiers vir hulle gesê het.

22Toe laat Y’hoshua hulle roep en praat met hulle en sê: “Waarom het julle ons mislei deur te sê: ‘Ons bly baie ver van julle af’ terwyl julle in ons land bly? 23Nou, julle is daarom vervloek en julle sal nooit ophou om slawe, beide houtkappers sowel as optrekkers van water, vir die huis van my God te wees nie.” 24Hulle het Y’hoshua geantwoord en gesê: “Omdat dit verseker aan u diensknegte meegedeel is dat יהוה, u God, aan Moshe, Sy dienskneg, beveel het om die hele land aan julle te gee en al die inwoners van die land voor julle uit te vernietig, was ons daarom baie bevrees vir ons lewens en het ons hierdie ding gedoen. 25Nou, let op, ons is in u hande: doen soos dit goed en reg is in u oë om met ons te doen.” 26So het hy met hulle gedoen en hulle gered uit die hand van die seuns van Yisra’el en hulle het hul nie doodgemaak nie, 27maar Y’hoshua het hulle op daardie dag houtkappers en optrekkers van water vir die vergadering en vir die altaar van יהוה,in die plek wat Hy sou kies, gemaak, tot vandag toe.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 8
Top of Page
Top of Page