Josua 8
Afrikaans PWL
1יהוה sê vir Y’hoshua: “Moenie vrees of ontsteld wees nie; vat al die manskappe saam met jou en staan op, gaan op na `Ai; kyk, Ek gee die koning van `Ai, sy volk, sy stad en sy land in jou hand. 2Jy moet met `Ai en sy koning doen net soos jy met Yerigo en sy koning gedoen het; net sy buit en sy vee mag julle vir julself buitmaak. Stel ’n hinderlaag op aan die agterkant, teen die stad.”

3Y’hoshua het opgestaan saam met al die manskappe om op te gaan na `Ai en Y’hoshua het dertig duisend man, dapper soldate, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur. 4Hy het hulle beveel en gesê: “Kyk, julle gaan ’n hinderlaag teen die stad opstel, aan die agterkant; moenie ver van die stad af weggaan nie, maar wees julle almal gereed. 5Dan sal ek met al die manne wat by my is, die stad nader en wanneer hulle dan uitkom om ons te ontmoet, sal ons soos die vorige keer, voor hulle uit vlug. 6Hulle sal uitkom agter ons aan totdat ons hulle van die stad af weggelok het, want hulle sal sê: ‘Hulle vlug voor ons uit soos die eerste keer.’ So sal ons voor hulle uit vlug. 7Julle moet uit die hinderlaag opstaan en die stad in besit neem, want יהוה, julle God, sal dit in julle hand gee. 8Dan, wanneer julle die stad verower het, moet julle die stad aan die brand steek. Julle moet dit doen volgens die Woord van יהוה. Kyk, ek het julle beveel. 9So het Y’hoshua hulle dan weggestuur en hulle het na die plek van die hinderlaag gegaan en gebly tussen Beit-El en `Ai, aan die westekant van `Ai, maar Y’hoshua het dié nag tussen die manskappe deurgebring.

10Die oggend vroeg het Y’hoshua opgestaan, die manskappe aangetree en opgegaan saam met die oudstes van Yisra’el, voor die manskappe, na `Ai toe. 11Toe het al die manskappe wat by hom was, opgegaan en nader gegaan en voor die stad aangekom en hulle het laer opgeslaan aan die noordekant van `Ai, met ’n vallei tussen hulle en `Ai. 12Hy het omtrent vyf duisend man gevat en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Beit-El en `Ai, aan die westekant van die stad. 13So het hulle die manskappe opgestel, die hele leër wat aan die noordekant van die stad was, met sy agterhoede aan die westekant van die stad en Y’hoshua het daardie nag in die vallei deurgebring. 14Dit het gebeur, toe die koning van `Ai dit sien, het die manne van die stad gou gemaak en vroeg opgestaan en uitgegaan om Yisra’el in die geveg te ontmoet, hy en al sy manskappe, op ’n aangestelde plek voor die woestynvlakte. Hy het egter nie geweet dat daar agter die stad ’n hinderlaag teen hom lê nie. 15Y’hoshua en die hele Yisra’el het voorgegee om verslaan te wees voor hulle en gevlug in die rigting van die wildernis. 16Al die manskappe in die stad is bymekaar geroep om hulle te agtervolg en hulle het Y’hoshua agtervolg en is weggelok van die stad af. 17Daar was nie ’n man oor in `Ai of Beit-El, wat nie agter Yisra’el aan gegaan het nie en hulle het die stad onbewaak laat staan en Yisra’el agtervolg.

18Toe sê יהוה vir Y’hoshua: “Steek die spies wat in jou hand is, na `Ai toe uit, want Ek sal dit in jou hand gee.” Y’hoshua het die spies, wat in sy hand was, na die stad toe uitgesteek. 19Die manne in die hinderlaag het gou van hulle plek af opgestaan en toe hy sy hand uitgesteek het, gehardloop, die stad ingegaan en dit oorgeneem en die stad gou aan die brand gesteek. 20Toe die manne van `Ai omdraai, let op, het die rook van die stad in die lug opgetrek en hulle het geen plek gehad om heen te vlug nie, nie hierheen of daarheen nie, want die manskappe wat op die vlug was na die wildernis, het omgedraai teen die agtervolgers. 21Toe Y’hoshua en die hele Yisra’el sien dat die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook van die stad af opstyg, het hulle omgedraai en die manne van `Ai verslaan. 22Die ander het uit die stad gekom, hulle tegemoet sodat hulle tussen Yisra’el vasgevang was, sommige duskant en sommige anderkant en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle oor was wat oorleef of ontvlug het nie, 23maar hulle het die koning van `Ai lewendig gevang en hom na Y’hoshua toe gebring.

24Nadat Yisra’el al die inwoners van `Ai in die veld en in die wildernis waar hulle hul agtervolg het, doodgemaak het en almal deur die skerpte van die swaard geval het totdat hulle uitgewis was, het die hele Yisra’el teruggekom na `Ai en dit met die skerpte van die swaard getref. 25Al die wat op dié dag geval het, manne sowel as vroue, was twaalf duisend; al die mense van `Ai. 26Y’hoshua het sy hand met die uitgestrekte spies nie teruggetrek voordat hy al die inwoners van `Ai ten volle vernietig het nie. 27Net die vee en die buit van daardie stad het die Yisra’eliete vir hulle buitgemaak, volgens die woord van יהוה, wat Hy Y’hoshua beveel het. 28Y’hoshua het `Ai verbrand en daarvan ’n puinhoop gemaak vir ewig, ’n verlatenheid tot vandag toe. 29Hy het die koning van `Ai aan ’n paal opgehang tot sonsondergang toe en teen sononder het Y’hoshua beveel dat hulle sy lyk van die paal afhaal en dit by die ingang van die stadspoort gooi en ’n groot hoop klippe oor hom stapel, wat vandag nog daar is.

30Toe het Y’hoshua ’n altaar gebou vir יהוה, die God van Yisra’el, op die berg `Eival, 31soos Moshe, die kneg van יהוה, die seuns van Yisra’el beveel het, soos geskrywe staan in die wetboek van Moshe: ’n altaar van ongekapte klippe waaroor niemand ’n yster geswaai het nie en dáárop het hulle aan יהוה brandoffers gebring en vredesoffers geoffer. 32Hy het daar ’n afskrif van die wet van Moshe op die klippe geskryf, wat hy geskryf het voor die oë van die seuns van Yisra’el. 33Die hele Yisra’el, met sy oudstes en die offisiere en sy regters het aan weerskante van die ark gestaan, voor die Levitiese priesters, die draers van die ark van die verbond van יהוה, die vreemdeling sowel as die burgers: die helfte van hulle voor die berg G’rizim en die ander helfte van hulle voor die berg `Eival, net soos Moshe, die dienskneg van יהוה, tevore beveel het, om die volk van Yisra’el te seën. 34Toe, hierna, het hy al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, volgens alles wat in die boek van die wet geskryf is. 35Daar was nie ’n woord van alles wat Moshe beveel het, wat Y’hoshua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Yisra’el, saam met die vroue en die kinders en die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 7
Top of Page
Top of Page