Johannes 9
Afrikaans PWL
1Terwyl Hy verbygaan, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind is. 2Sy studentevolgelinge vra vir Hom en sê: “Leermeester, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” 3Yeshua antwoord: “Nie hy of sy ouers het gesondig nie, maar sodat dit wat God doen, in hom openbaar kan word. 4Vir My is dit gepas om die werk te doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer ’n mens nie kan werk nie. 5So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die Lig van die wêreld.” 6Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond, maak klei van die spoeg en smeer die klei aan die oë van die blinde man 7en Hy sê vir hom: “Gaan was jou in die doopbad van Shiloag.” Hy het gegaan, hom gewas en siende teruggekom. 8Toe het die bure en die wat vroeër gesien het dat hy blind was, gesê: “Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?” 9Sommige sê: “Dit is hy;” ander weer: “Hy lyk na hom;” hyself het gesê: “Dit is ek.” 10Hulle vra vir hom: “Hoe is jou oë oopgemaak?” 11Hy antwoord en sê vir hulle: “’n Man met die naam Yeshua, het klei gemaak, op my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan was jou in die waters van Shiloag.’ Ek het gegaan, my gewas en ek sien.” 12Hulle vra vir hom: “Waar is Hy?” Hy sê: “Ek weet nie.”

13Hulle neem hom, die man wat vroeër blind was, na die Fariseërs. 14Dit was Shabbat toe Yeshua die klei gemaak en sy oë oopgemaak het. 15Die Fariseërs vra hom weer: “Hoe het sig na jou toe gekom?” Hy antwoord hulle: “Hy het klei op my oë gesit, ek het my gewas en ek sien.” 16Sommige van die Fariseërs sê: “Hierdie man kom nie van God nie omdat Hy die Shabbat nie hou nie;” ander sê: “Hoe kan ’n sondige mens sulke wondertekens doen?” Daar was verdeeldheid onder hulle. 17Hulle het weer met die blinde man gepraat: “Wat sê jy van Hom, wat jou oë oopgemaak het?” Hy antwoord: “Ek sê Hy is ’n profeet.”

18Die Jode het nie geglo dat hy blind was en siende geword het nie totdat hulle die ouers, van hom wat kon sien, geroep het. 19Hulle vra vir hulle: “As dit julle seun is, van wie julle gesê het dat hy blind gebore is, hoe sien hy dan nou?” 20Sy ouers antwoord en sê: “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is, 21maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë oopgemaak het, weet ons nie. Hy is self volwasse, vra hom; hy sal vir homself praat.” 22Sy ouers het dit gesê omdat hulle bang was vir die Jode, want die Jode het reeds ooreengekom dat as iemand Hom as Die Gesalfde Een bely, hy uit die bymekaarkomplek geban sou word; 23daarom het sy ouers gesê: “Hy is volwasse, vra hom.”

24Hulle roep toe die man wat blind was vir die tweede keer en sê vir hom: “Gee aan God die eer, lof en aanbidding, want ons weet dat hierdie Man ’n sondaar is.” 25Hy antwoord en sê vir hulle: “Of Hy ’n sondaar is, weet ek nie, maar een ding weet ek: ek was blind en let op, nou sien ek.” 26Weer vra hulle vir hom: “Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë oopgemaak?” 27Hy antwoord hulle: “Ek het julle vertel en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Wil julle ook Sy studentevolgelinge word?” 28Hulle het hom beledig en vir hom gesê: “Jy is Sy studentevolgeling; ons is studentevolgelinge van Moshe. 29Ons weet dat God met Moshe gepraat het, maar ons weet nie van waar Hy is nie.” 30Die man antwoord en sê: “Hierin is dit vreemd dat julle nie weet van waar Hy is nie en Hy het my oë oopgemaak. 31Ons weet dat God nie na die stem van ’n sondaar luister en doen nie, maar Hy luister en doen vir iemand wat God respekvol vrees, aanbid en Sy wil doen. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van ’n blindgebore mens oopgemaak het nie. 33As Hy nie van God was nie, sou Hy dit nie kon doen nie.” 34Hulle antwoord en sê vir hom: “Jy is volledig in sonde gebore en leer jý ons?” Hulle het hom uitgeban.

35Yeshua het gehoor dat hulle hom uitgegooi het en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Vertrou jy in die Seun van God?” 36Hy wat genees is, antwoord en sê: “Wie is Hy, my Meester, dat ek in Hom kan vertrou?” 37Yeshua sê vir hom: “Jy het Hom gesien en Hy wat met jou praat, dit is Hy.” 38Hy sê: “Ek vertrou, my Meester” en hy het voor Hom neergeval in aanbidding. 39Yeshua sê: “Dit is om hierdie wêreld te oordeel dat Ek gekom het sodat die wat nie sien nie, mag sien en die wat sien, blind mag wees.” 40Dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gevra: “Is ons ook blind?” 41Yeshua antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie, maar nou sê julle: ‘Ons sien’; daarom bly julle sonde.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 8
Top of Page
Top of Page