Johannes 8
Afrikaans PWL
1Yeshua het egter na die Olyfberg gegaan en in die oggend weer na die tempel teruggegaan. 2Toe al die mense na Hom toe gekom het, het Hy gaan sit en hulle geleer, { Die volgende is nie in die Aramese geskrifte nie. Sien Opmerkings. 3maar die leraars van die wet en die Fariseërs het ’n vrou wat in egbreuk betrap is na Hom toe gebring en toe hulle haar tussen hulle laat staan het, 4vir Hom gesê: “Leermeester, hierdie vrou is openlik in die daad van egbreuk betrap. 5In die wet van Moshe het hy ons beveel om sulkes te stenig. 6Wat sê U gevolglik?” Dit het hulle gesê om Hom te toets sodat hulle iets het om Hom op aan te kla. 7Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy opgestaan en vir hulle gesê: “Laat dié een onder julle wat sonder sonde is, die eerste klip na haar gooi.” 8Terwyl Hy weer afbuk, het Hy op die grond geskryf. 9Toe hulle dit hoor, het hulle een vir een weggegaan, beginnende by die oudste en die vrou wat daar tussen hulle gestaan het, is alleen gelos. 10Toe Yeshua opstaan, vra Hy vir die vrou: “Waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?” 11Sy antwoord: “Nie een nie, Meester Yah.” Yeshua sê: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan en van nou af, sondig nie meer nie.”} Tot hier toe die gedeelte wat nie in die Aramese geskrifte is nie. Sien Opmerkings.

12Yeshua het weer met hulle gepraat en gesê: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Lig van die wêreld; wie My ook al volg, sal nie in die duisternis loop nie, maar sal die Lig van die lewe vind” 13Die Fariseërs het vir Hom gesê: “U getuig van Uself, U getuienis is nie waar nie.” 14Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Al getuig Ek ook van Myself, My getuienis is waar omdat Ek weet van waar Ek gekom het en waarheen Ek gaan, maar julle weet nie van waar Ek gekom het en waarheen Ek gaan nie. 15Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie 16en al oordeel Ek, My oordeel is waar omdat Ek nie alleen is nie, maar Ek, saam met die Vader wat My gestuur het 17en dit is ook in julle wet geskrywe, dat die getuienis van twee mense waar is. 18אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees. Ek, wat van Myself getuig en My Vader, wat My gestuur het, het van My getuig.” 19Hulle vra vir Hom: “Waar is U Vader?” Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Julle ken My nie en ook nie My Vader nie. As julle My geken het, sou julle My Vader ook geken het.” 20Hierdie dinge het Yeshua in die skatkamer gesê terwyl Hy in die tempel geleer het en niemand het Hom gevang nie omdat Sy tyd nog nie gekom het nie.

21Yeshua het weer met hulle gepraat: “Ek beweeg aan en julle sal My soek en in julle sonde sterwe. Daar waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.” 22Die Jode het gevra: “Sal Hy Homself nou doodmaak?” want Hy het gesê: “Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie?” 23Hy sê vir hulle: “Julle is van benede, Ek is van bo. Julle is uit hierdie wêreld, Ek is nie uit hierdie wêreld nie. 24Ek het vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf, want as julle nie vertrou אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees nie, sal julle in jul sondes sterf.” 25Die Jode vra: “Wie is U?” Yeshua antwoord hulle: “Wie Ek vir julle van die begin af gesê het. 26Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel, maar Hy wat My gestuur het, is Waar en dít wat Ek van Hom gehoor het, dít sê Ek in die wêreld.” 27Hulle het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader gepraat het nie. 28Yeshua het weer met hulle gepraat: “Wanneer julle die Seun van die mens opgelig het, dan sal julle weet: אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees en dat Ek niks doen vir My eie plesier nie, maar net dit wat My Vader My geleer het, dit sê Ek. 29Hy wat My gestuur het, is saam met My. Die Vader het My nie alleen gelos nie omdat Ek altyd doen wat Hom tevrede stel.” 30Terwyl Hy hierdie dinge sê, het baie in Hom vertrou.

31Yeshua sê vir die Jode wat in Hom vertrou het: “As julle voortdurend in My boodskap bly, dan is julle ware studentevolgelinge van My 32en julle sal die waarheid ken en daardie waarheid sal julle vrymaak.” 33Hulle antwoord Hom: “Ons is die nageslag van Avraham en van die ou tyd af het ons niemand as slawe gedien nie; hoe kan U sê: ‘Julle sal vry wees’?”

34Yeshua antwoord hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: elkeen wat sonde doen, is ’n slaaf van die sonde 35en die slaaf bly nie vir altyd in die huis nie, maar die seun bly vir altyd. 36As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees. 37Ek weet dat julle die nageslag van Avraham is, maar julle beplan om My dood te maak omdat julle My boodskap nie begryp nie. 38Ek praat van wat Ek by Mý Vader gesien het; julle doen wat julle by júlle vader gesien het.”

39Hulle antwoord en sê vir Hom: “Ons vader is Avraham.” Yeshua sê vir hulle: “As julle die kinders van Avraham was, sou julle doen wat Avraham gedoen het, 40maar nou, let op, julle beplan om My dood te maak. Dit is Ek wat aan julle die waarheid vertel, wat Ek van God gehoor het. Dit het Avraham nie gedoen nie, 41maar julle doen die dade van julle vader.” Hierop sê hulle vir Hom: “Ons is nie uit seksuele immoraliteit gebore nie; ons het een Vader, naamlik God.”

42Yeshua sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af uitgegaan, want Ek het ook nie uit My eie plesier gekom nie, maar Hy het My gestuur. 43Waarom verstaan julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle nie My boodskap kan hoor nie. 44Julle is van julle vader, die teëstander, en julle begeer om julle vader se wil te doen. Hy is ’n moordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy lieg, praat hy uit wat syne is, want hy is vanuit valsheid en die vader daarvan, 45maar julle vertrou nie in My nie, Ek, wat die waarheid praat. 46Wie van julle kan My oortuig van sonde? As Ek die waarheid praat, waarom vertrou julle My nie? 47Wie ook al van God is, luister na die woorde van God; daarom luister julle nie omdat julle nie van God is nie.”

48Die Jode antwoord en sê vir Hom: “Is ons nie reg as ons sê dat U van Shomron is en dat U ’n demoon het nie?” 49Yeshua antwoord: “Ek het nie ’n demoon nie, maar Ek eer My Vader en julle onteer My. 50Ek soek nie eer, lof en grootheid vir My nie, daar is Een wat soek en oordeel. 51Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê, wie ook al My boodskap uitvoer, sal die dood tot in ewigheid nooit sien nie.” 52Die Jode sê vir Hom: “Nou weet ons dat U ’n demoon het. Avraham en die profete is dood en U sê: ‘Wie ook al My boodskap uitvoer, sal die dood tot in ewigheid nooit sien nie.’ 53Is U groter as ons vader Avraham en as die profete wat dood is? Wat dink U van Uself?” 54Yeshua sê vir hulle: “As Ek eer en lof aan Myself bring, is My eer en lof niks nie; dit is My Vader wat My vereer en loof, van Wie julle sê dat Hy julle God is 55en julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ’n leuenaar wees, maar Ek ken Hom en voer Sy boodskap uit. 56Avraham, julle vader, het begeer om My dag te sien en hy het dit gesien en hom verheug.” 57Die Jode sê vir Hom: “U is nog nie vyftig jaar oud nie en het U Avraham gesien?” 58Yeshua sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: voordat Avraham bestaan het, was Ek.” 59Hulle het klippe opgetel om Hom te stenig, maar Yeshua het Homself weggesteek en tussen hulle deurgeloop by die tempel uit.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 7
Top of Page
Top of Page