Johannes 5
Afrikaans PWL
1Na hierdie dinge was daar ’n fees van die Jode en Yeshua het opgegaan na Yerushalayim.

2In Yerushalayim is daar ’n sekere doopbad met vyf afdakke, wat in Aramees, Beit-Hesda genoem word, 3waarby baie siekes gelê het: blindes, kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het, 4want ’n engel het van tyd tot tyd in die doopbad afgekom en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword van watter siekte ook al op hom was. 5Daar was egter ’n sekere man, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het. 6Yeshua het hom gesien lê en Hy het geweet dat hy al ’n lang tyd so is. Hy vra vir hom: “Wil jy gesond word?” 7Die sieke antwoord Hom en sê: “O, my Meester, ek het niemand om my in die doopbad te sit as die water geroer word nie en terwyl ek op pad is, gaan ’n ander een voor my in.” 8Yeshua sê vir hom: “Staan op, tel jou bedmat op en loop.” 9Dadelik het die man gesond geword en sy bedmat opgetel en geloop en daardie dag was Shabbat. 10Die Jode sê vir hom wat genees is: “Dit is Shabbat; dit is nie toegelaat vir jou om jou bedmat te dra nie.” 11Hy antwoord en sê vir hulle: “Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: ‘Tel jou bedmat op en loop’.” 12Hulle vra hom: “Wie is die man wat vir jou gesê het: tel jou bedmat op en loop?” 13Hy wat gesond geword het, het nie geweet wie Yeshua was nie, want Hy het Homself stilweg in die groot skare wat daar was, onttrek. 14Na ’n tyd het Yeshua hom in die tempel gekry en vir hom gesê: “Let op, jy is gesond; moenie aanhou sondig nie sodat daar nie iets ergers as tevore met jou gebeur nie.” 15Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Yeshua was wat hom gesond gemaak het

16en hieroor het die Jode Yeshua vervolg en beplan om Hom dood te maak omdat Hy dit op die Shabbat gedoen het. 17Yeshua self sê vir hulle: “My Vader is tot nou toe besig om te werk en Ek is ook besig om te werk.”

18Hieroor het die Jode toe nog ernstiger beplan om Hom dood te maak omdat Hy nie net die Shabbat verbreek het nie, maar ook omdat Hy beweer het dat God Sy Vader is en daardeur gesê het dat Hy self ook gelyk is aan God.

19Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: die Seun kan niks uit Sy eie wil doen nie behalwe wat Hy die Vader sien doen, want die dinge wat die Vader doen, dit doen die Seun ook, net soos Hy, 20want die Vader het Sy Seun lief en wys Hom alles wat Hyself doen en groter werke as hierdie sal Hy Hom wys sodat julle verwonderd kan wees, 21want net soos die Vader die wat dood is, opwek en vir hulle lewe gee, net so gee die Seun ook lewe vir wie Hy wil. 22Dit is nie die Vader wat die mens oordeel nie, maar Hy het al die veroordeling aan die Seun gegee 23sodat almal die Seun kan eer, net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

24Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: wie ook al My boodskap hoor en Hom vertrou wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die veroordeling nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

25Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: daar kom ’n tyd en dit is nou, wanneer die wat dood is die stem van die Seun van God sal hoor en die wat dit hoor, sal lewe, 26want net soos die Vader lewe het in Homself, net so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. 27Hy het aan Hom outoriteit gegee om ook te veroordeel 28omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie julle hieroor verwonder nie, want daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, Sy stem sal hoor 29en sal uitgaan; die wat goed gedoen het, in die opstanding van die lewe in en die wat bose dade gedoen het, in die opstanding van die veroordeling in.

30Ek kan niks uit My eie wil doen nie. Volgens wat Ek gehoor het, beoordeel Ek en My oordeel is regverdig omdat Ek nie Mý wil begeer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

31As Ek van Myself getuig, dan is My getuienis nie waar nie. 32Daar is ’n ander een wat van My getuig en Ek weet dat die getuienis wat hy aangaande My gee, waar is.

33Julle het na Yoganan toe gestuur en hy het van die Waarheid getuig. 34Ek aanvaar nie die getuienis van ’n mens nie, maar Ek sê dit sodat julle kan lewe. 35Hy was ’n brandende en skynende lamp en julle wou grootpraat oor die tydjie in sy lig,

36maar Ek het ’n groter getuienis as dié van Yoganan, want die werke wat die Vader My gegee het om te voltooi, die werke wat Ek doen, getuig self van My dat die Vader My gestuur het.

37Die Vader wat My gestuur het, Hy getuig van My. Julle het nog nooit van ewigheid af Sy stem gehoor of Sy voorkoms gesien nie 38en julle het Sy Boodskap nie as iets wat bly in julle nie omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie vertrou nie.

39Ondersoek die Skrifte, want in húlle het julle ’n versekerde verwagting dat julle die ewige lewe het en hulle getuig van My, 40tog wil julle nie na My toe kom om die ewige lewe te kry nie. 41Ek aanvaar nie eer, lof en grootheid van mense nie, 42maar Ek ken julle, dat die liefde van God nie in julle is nie. 43Ek het gekom in die Outoriteit en Karakter van My Vader en julle aanvaar My nie. As ’n ander een in sy eie karakter en outoriteit kom, hóm sal julle aanvaar. 44Hoe kan julle vertrou? Julle aanvaar eer en lof van mekaar en die eer en lof wat van die Een God kom, aanvaar julle nie. 45Dink julle dat Ek julle by die Vader aankla? Daar is een wat julle aankla, Moshe op wie julle ’n versekerde verwagting het, 46want ás julle Moshe geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskryf. 47Aangesien julle nie glo wat hy geskryf het nie, hoe gaan julle glo wat Ek sê?”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 4
Top of Page
Top of Page