Johannes 4
Afrikaans PWL
1Yeshua het geweet dat die Fariseërs gehoor het dat Hy baie studentevolgelinge gemaak het en meer gedoop het as Yoganan, 2alhoewel Yeshua self nie gedoop het nie, maar wel Sy studentevolgelinge. 3Hy het weggegaan uit Y’hudah en weer na die Galil gegaan, 4maar dit was nodig vir Hom om deur Shomron te gaan. 5Hy kom by ’n stad van Shomron, wat Sh’khem genoem word, langs die dorpie wat Ya’akov aan sy seun Yosef gegee het. 6Die fontein van Ya’akov was ook daar. Aangesien Yeshua moeg was van die reis, het Hy by die fontein gaan sit. Dit was omtrent die sesde uur (twaalfuur die middag).

7’n Vrou van Shomron het gekom om water te trek. Yeshua vra vir haar: “Gee vir My water om te drink,” 8want Sy studentevolgelinge het na die stad gegaan om vir hulleself kos te koop. 9Die vrou van Shomron vra vir Hom: “Hoe is dit dat U, wat ’n Jood is, van my iets vra om te drink terwyl ek ’n vrou van Shomron is?” Want die Jode assosieer nie met die mense van Shomron nie. 10Yeshua antwoord en sê vir haar: “As jy die geskenk van God geken het en geweet het Wie Hy is wat vir jou sê: ‘Gee vir My iets om te drink,’ sou jy Hom gevra het vir wat Hy het en Hy sal vir jou Lewende Water gee.” 11Die vrou sê vir Hom: “My Meester, U het nie eens ’n emmer nie en die put is diep, van waar het U dié Lewende Water? 12Is U groter as ons vader Ya’akov, wat die put aan ons gegee het en self saam met sy seuns en vee daaruit gedrink het?” 13Yeshua antwoord en sê vir haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors word, 14maar elkeen wat sal drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein van water word wat sal opspring tot die ewige lewe.”

15Die vrou sê vir Hom: “My Meester, gee vir my daardie water sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom trek nie.” 16Yeshua sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom hier.” 17Die vrou antwoord en sê: “Ek het nie ’n man nie.” Yeshua sê vir haar: “Jy het korrek geantwoord: ‘Ek het nie ’n man nie,’ 18want jy het vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.” 19Die vrou sê vir Hom: “My Meester, ek sien dat U ’n profeet is. 20Ons vaders het op hierdie berg aanbid en julle sê dat die plek waar ons moet aanbid, in Yerushalayim is.” 21Yeshua sê vir haar: “Vrou, vertrou My, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Yerushalayim sal aanbid nie. 22Julle aanbid wat julle nie ken nie; Ons aanbid wat Ons ken: Hy wat Lewe is, is vanuit die Jode, 23maar daar kom ’n tyd en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek dié wat Hom só aanbid. 24God is Gees en dit is toepaslik dat hulle wat Hom aanbid, in Gees en waarheid aanbid.” 25Die vrou sê vir Hom: “Ek weet dat Die Gesalfde Een kom en wanneer Hy kom, sal Hy ons alle dinge leer.” 26Yeshua sê vir haar: ‘ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, Ek wat met jou praat!’

27Terwyl Hy praat kom Sy studentevolgelinge en hulle was verbaas dat Hy met ’n vrou praat. Tog het niemand gesê: ‘Wat soek jy?’ of: ‘Waarom praat U met haar?’ nie. 28Die vrou het haar waterkan gelos en die stad ingegaan en vir die mense gesê: 29“Kom kyk, ’n man wat my alles vertel wat ek gedoen het. Is Hy Die Gesalfde Een?” 30Hulle het uit die stad uitgegaan en na Hom toe gekom.

31Te midde van hierdie dinge het Sy studentevolgelinge by Hom aangedring en gesê: “Ons Meester, eet.” 32Hy sê egter vir hulle: “Ek het kos om te eet wat julle nie van weet nie.” 33Die studentevolgelinge vra vir mekaar: “Het iemand dalk vir Hom ete gebring?” 34Yeshua sê vir hulle: “My persoonlike kos is om die wil te doen van Hóm wat My gestuur het en om Sy werk te voltooi. 35Sê julle nie: ‘Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie?’ Let op, Ek sê vir julle, lig julle oë op en kyk na die lande, dat hulle nou reeds wit is van die oes. 36Wie ook al oes, ontvang beloning en vergader vrug vir die ewige lewe en die een wat saai en die een wat oes sal saam bly wees, 37want hierin is ’n woord van waarheid: ‘Die een saai en ’n ander oes.’ 38Ek het julle gestuur om dit waarvoor julle nie gewerk het nie te oes, maar ander het gewerk en julle het ingekom op hulle werk.”

39Baie van die mense van Shomron, uit daardie stad, het in Hom vertrou as gevolg van die boodskap van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” 40Toe die mense van Shomron by Hom kom, het hulle Hom gevra om by hulle te bly en Hy het twee dae daar gebly. 41Baie het op grond van Sy boodskap vertrou 42en aan die vrou gesê: “Ons vertrou nie nou op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik Die Gesalfde Een, die Lewegewer van die wêreld, is.”

43Ná die twee dae het Hy van daar af weggegaan na die Galil toe, 44want Yeshua self het getuig dat ’n profeet nie in sy eie stad eer ontvang nie. 45Toe Hy in die Galil kom, het die mense van die Galil Hom ontvang omdat hulle al die wonderwerke gesien het wat Hy in Yerushalayim op die fees gedoen het, want hulle het ook na die fees gegaan.

46Yeshua het weer in Kanah, in die Galil, gekom, waar Hy die water wyn gemaak het en ’n sekere koning se dienskneg, wie se seun siek was, het in K’far-Nagum gebly. 47Hy het gehoor dat Yeshua vanuit Y’hudah in die Galil aangekom het en na Hom toe gegaan en Hom gesmeek om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. 48Yeshua sê vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit vertrou nie.” 49Die koning se dienskneg sê vir Hom: “My Meester, kom af, anders sal die kind sterf.” 50Yeshua antwoord hom: “Gaan, jou seun lewe!” Die man het dit wat Yeshua vir hom gesê het, vertrou en hy het gegaan. 51Terwyl hy op pad was huis toe, kom sy slaaf hom tegemoet en bring die goeie nuus en sê: “U seun leef!” 52Hy vra van hulle die tyd waarop hy genees is en hulle sê vir hom: “Gister, die sewende uur (om eenuur die middag), het die koors hom verlaat.” 53Die vader het geweet dat dit dieselfde tyd was waarop Yeshua vir hom gesê het: ‘Jou seun leef!’ Hy persoonlik en sy hele huis het vertrou. 54Hierdie was die tweede wonderteken wat Yeshua gedoen het toe Hy uit Y’hudah in die Galil gekom het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 3
Top of Page
Top of Page