Job 24
Afrikaans PWL
1Waarom is hulle wat boos is nie verborge voor die Teenwoordigheid van God nie en waarom geniet hulle wat Hom ken nooit hulle dae nie?

2Die bose verwyder die grenslyne; hulle vat ’n trop gewelddadig weg.

3Hulle gryp die donkie van die vaderloses, hulle vat die weduwee se os as pand.

4Die bose kruip weg langs die pad en die sagmoediges van die land kruip almal saam weg.

5Let op, soos wilde-donkies in die woestyn gaan hulle vroeg uit, opsoek na kos vir hulle jonges.

6Hulle sny hooi op ’n veld wat nie hulle s’n is nie en hulle maak druiwe bymekaar in die wingerd van die bose.

7Hulle laat die naaktes bly sonder klere en hulle het geen bedekking in die koue nie.

8Hulle is nat van die stortbuie oor die berge en druk hulself teen die rotse vas by gebrek aan skuiling.

9Hulle vat plunder met geweld af van die vaderloses en hulle verteer die armes.

10Hulle laat hul kaal gaan, sonder klere en hulle vat brood weg by die wat honger is.

11Hulle buig onder die laste tydens die oesfees en is honger wanneer hulle die groot mandjie dra; hulle trap die parskuip, maar is dors.

12Uit die stad kerm die onderdruktes en die lewe van die gewondes roep uit; tog aanvaar God nie hulle gebed nie.

13Hulle was in God se wêreld, maar hulle het nie Sy lewenswyses geken nie en ook nie in Sy paaie geloop nie.

14Die moordenaar staan teen dagbreek op en maak die arme en behoeftige dood en in die nag is hy ’n dief.

15Die oog van die egbreker wag vir die duisternis en sê: ‘Geen oog sal my sien nie en hy vermom sy gesig in die donker.

16In die duisternis breek hulle in huise in wat hulle bedags gemerk het. Die bose ken nie die lig nie;

17daarom soek hulle vir hulself die skaduwee van die dood en het dit gevind; ja, hulle is in die angswekkendheid van die skaduwee van die dood.

18Hulle word vinnig weggedra oor die oppervlakte van die waters; hulle deel is vervloek op die aarde, hulle let nie op na die bekende pad van die wingerdstokke nie.

19Droogte en hitte verteer die sneeuwater, net so Sh’ol vir hulle wat gesondig het.

20Vanaf die baarmoeder het hulle weggedwaal; die wurms sal aan hulle suig; na die dood sal hulle nie meer onthou word nie en die bose sal soos ’n stukkie hout gebreek word.

21Die onvrugbare moeder word boos behandel en hulle doen geen goed aan die weduwee nie.

22Die rykdom van ’n man van krag word onderhou deur sy eie krag, hy is nie afhanklik van Goddelike leiding nie.

23Alhoewel hy veiligheid gegee word waarin hy versekerd is, tog is sy oë op sy eie bose lewenswyses.

24Sulke mense word vir ’n kort rukkie opgelig, maar is gou nie meer nie; ja, almal sal laag afgebring en vernietig word; hulle verdor en word uitgeskud soos ’n graanhalm

25en as dit nie is as gevolg van Sy woede nie, wie sal my dan tot leuenaar maak en my woorde tot niks maak voor God?”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 23
Top of Page
Top of Page