Jeremia 8
Afrikaans PWL
1“In dié tyd,” verklaar יהוה, “sal hulle die bene van die konings van Y’hudah, die bene van sy prinse, die bene van die priesters, die bene van die profete en die bene van die inwoners van Yerushalayim uit hulle grafte uitbring. 2Hulle sal dit uitsprei voor die son, die maan en voor die hele leër van die hemel wat hulle liefgehad en gedien het, waar agter hulle aangeloop het, wat hulle gesoek en wat hulle aanbid het. Hulle sal nie bymekaargemaak of begrawe word nie, hulle sal wees soos mis op die aardoppervlak. 3Die dood sal bo die lewe verkies word deur almal wat oorbly van hierdie bose familie, wat in al die plekke, waarheen Ek hulle verdryf het, oorgebly het,” verklaar יהוה-Tzva’ot.

4“Jy moet vir hulle sê: ‘So sê יהוה: “Val iemand en staan nie weer op nie? Draai een weg en erken nie en draai nie terug nie?

5Waarom dan het hierdie volk, Yerushalayim, weggedraai in voortdurende afvalligheid? Hulle hou vas aan misleiding, hulle weier om terug te keer.

6Ek het geluister en gehoor: hulle praat wat nie reg is nie; geen mens het erken en berou oor sy boosheid en sê: ‘Wat het ek gedoen’ nie? Elkeen slaan sy koers in, soos ’n perd wat in die geveg in storm.

7Selfs ’n reier in die lug ken haar seisoene en die tortelduif, die swaweltjie en die kraanvoël kom die tyd van hulle migrasie na, maar My volk ken nie die instellings van יהוה nie.

8Hoe kan julle sê: ‘Ons is wys en die wet van יהוה is by ons?’ Let op, die leuenpen van die skrywers het dit tot ’n leuen gemaak.

9Die wyse manne word beskaamd, is ontsteld en uitgevang. Let op, hulle het die woord van יהוה verwerp en watter soort wysheid sou hulle hê?

10Ek sal daarom hulle vroue aan ander gee, hulle landerye aan nuwe eienaars, want van die kleinste tot die grootste is almal gierig na wins; vanaf die profeet tot die priester praktiseer almal misleiding.

11Hulle genees die gebrokenheid van die dogter van My volk kunsmatig en sê: ‘Vrede, vrede,’ maar daar is geen vrede nie.

12Was hulle skaam vir die gruwel wat hulle gedoen het? Hulle was geensins skaam nie. Hulle het nie eens geweet hoe om te bloos nie; daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek hulle straf, sal hulle neergegooi word,” sê יהוה.

13“Ek sal hulle sekerlik weggryp,” verklaar יהוה. “Daar sal geen druiwe aan die wingerdstok wees en geen vye aan die vyeboom nie. Die blare sal verdor en wat Ek vir hulle gegee het, sal verbygaan.’””

14Waarom sit ons stil? Kom bymekaar en laat ons in die versterkte stede ingaan en daar vergaan, want יהוה, ons God, het ons verdoem en giftige water vir ons gegee om te drink, want ons het teen יהוה gesondig.

15Ons het gewag op vrede, maar niks goeds het gekom nie; op ’n tyd van genesing, maar let op, verskrikking!

16Vanaf Dan word die gesnork van sy perde gehoor. Met die klank van die gerunnik van sy hingste bewe die hele land, want hulle kom en verteer die land en sy volheid, die stad en sy inwoners.

17“Want let op, Ek stuur slange teen jou, adders waarteen geen beswering is nie en hulle sal julle byt,” verklaar יהוה.

18My smart is verby genesing, my verstand, wil en emosie is flou binne-in my.

19Let op, luister! Die uitroep van die dogter van my volk uit ’n ver land: “Is יהוה nie in Tziyon nie? Is haar Koning nie in haar nie?” “Waarom het hulle My getart met hulle gesnede beelde, met vreemde afgode?”

20“Die oes is verby, die somer is ten einde en óns is nie gered nie!”

21Vir die gebrokenheid van die dogter van my volk is ek gebroke; ek rou, ontsteltenis het my aangegryp.

22Is daar geen balsem in Gil’ad nie? Is daar geen geneesheer daar nie? Waarom is die gesondheid van die dogter van my volk dan nie herstel nie? 23 Ag, was my kop maar water en my oog ’n fontein van trane sodat ek dag en nag mag huil vir die wat neergeslaan is van die dogter van my volk!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 7
Top of Page
Top of Page