Jeremia 7
Afrikaans PWL
1Die woord wat van יהוה af tot Yirmeyahu gekom het: 2“Staan in die poort van die huis van יהוה en verkondig hierdie boodskap en sê: ‘Hoor, luister en doen die boodskap van יהוה, die hele huis van Y’hudah, wat deur hierdie poorte ingaan om יהוה te aanbid!’” 3So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Verander julle lewenswyse en julle dade en Ek sal julle in hierdie plek laat bly. 4Moenie vertrou op misleidende woorde wat sê: ‘Hierdie is יהוה se tempel, יהוה se tempel, יהוה se tempel,’ nie, 5want as julle waarlik jul lewenswyse en julle dade verander, as julle waarlik regverdige oordeel toepas tussen ’n man en sy naaste, 6die vreemdeling, wees en weduwee nie onderdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet of agter ander gode aanloop tot julle eie vernietiging nie, 7dan sal Ek julle laat bly in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, vir ewig en ewig.

8Let op, julle vertrou op misleidende woorde wat nie baat nie. 9Sal julle steel, moor, owerspel pleeg, vals sweer, tot Ba’al offer en agter ander gode aan loop, wat julle nie geken het nie 10en dan kom staan voor My Teenwoordigheid in hierdie huis, wat na My Naam (Karakter en Outoriteit) genoem word en sê: ‘Bevry ons?’ Tog doen julle al hierdie gruwels. 11Het hierdie huis, wat volgens My Naam (Karakter en Outoriteit) genoem is, ’n grot van rowers in julle oë geword? Let op, Ek, Ek het dit gesien,” verklaar יהוה.

12“Gaan egter nou na My plek wat in Shiloh was, waar Ek My Naam (Karakter en Outoriteit) vroeër laat bly het en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van My volk Yisra’el. 13Nou, omdat julle al hierdie dinge gedoen het,” verklaar יהוה, “en Ek met julle gepraat het, vroeg opgestaan en gepraat het, maar julle nie gehoor het nie en Ek julle geroep het, maar julle nie geantwoord het nie 14sal Ek daarom aan die huis wat volgens My Naam (Karakter en Outoriteit) genoem is, waarin julle vertrou en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Shiloh gedoen het. 15Ek sal julle uit My sig uit weggooi soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efrayim, uitgegooi het.

16Wat jou betref, bid nie vir hierdie volk nie en lig geen uitroep of gebed op vir hulle nie en moenie by My intree nie, want Ek hoor jou nie. 17Sien jy nie wat hulle in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim doen nie? 18Die seuns maak hout bymekaar, die vaders steek die vuur aan en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die koningin van die hemel en gooi vir ander gode drankoffers uit om My uit te lok tot woede. 19Dit is nie vir My wat hulle uittart nie,” verklaar יהוה. “Hulle tart hulleself tot hul eie skaamte.” 20יהוה-God sê daarom: “Let op, My woede en My toorn sal uitgestort word op hierdie plek, op mens en dier en op die bome van die veld en op die vrug van die grond en dit sal brand en nie uitgeblus word nie.”

21So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Voeg julle brandoffers by julle offers en eet vleis, 22want Ek het nie met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit die land van Mitzrayim uitgelei het, gepraat of bevel gegee in verband met brandoffers of offers nie, 23maar dít is wat Ek hulle beveel en gesê het: ‘Gehoorsaam My stem en Ek sal julle God wees en julle sal My volk wees en julle moet loop in al die lewenswyses wat Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan.’ 24Tog het hulle nie gehoorsaam en hulle oor gedraai nie, maar in hulle eie planne en in die hardkoppigheid van hul bose verstand, wil en emosie geloop en het agteruitgegaan en nie vorentoe nie. 25Sedert die dag dat julle vaders uit die land van Mitzrayim uit gekom het, tot vandag toe, het Ek al My knegte, die profete, na julle toe gestuur, daagliks, vroeg opgestaan en hulle gestuur. 26Tog het hulle nie na My geluister of hulle oor gedraai nie, maar hul nek verhard; hulle het meer boosheid as hul vaders gedoen.

27Jy moet al hierdie woorde vir hulle sê, maar hulle sal nie na jou luister nie en jy moet na hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. 28Jy moet vir hulle sê: ‘Hierdie is die nasie wat nie na die stem van יהוה, hulle God, geluister het of korreksie aanvaar het nie; waarheid het verdwyn en is van hulle mond af afgesny.

29Sny af jou hare, gooi dit weg en neem ’n klaaglied op op die hoofpaaie, want יהוה is kwaad en het die geslag wat verbygaan verwerp,’

30want die seuns van Y’hudah het gedoen wat verkeerd is in My oë,” verklaar יהוה. “Hulle het hul verwerplike dinge in die huis, wat volgens My Naam (Karakter en Outoriteit) genoem is, gesit om dit te verontreinig. 31Hulle het altare by die Tofet gebou, wat in die vallei van die seun van (Ben)- Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters in die vuur te verbrand, wat Ek nie beveel het nie en wat nie in My gedagtes opgekom het nie;

32daarom, let op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “dat dit nie langer Tofet of die vallei van Ben-Hinnom genoem word nie, maar Vallei van die Slagting, want hulle sal in Tofet begrawe omdat daar geen ander plek sal wees nie. 33Die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde en niemand sal hulle verskrik nie. 34Dan sal Ek die stem van vreugde, die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid laat stil word vanuit die stede van Y’hudah en vanuit die strate van Yerushalayim, want die land sal ’n verlatenheid word.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 6
Top of Page
Top of Page