Jeremia 37
Afrikaans PWL
1Tzidkiyahu, die seun van Yoshiyahu, wat N’vukhadnetzar, koning van Bavel, koning gemaak het in die land van Y’hudah, het as koning regeer in die plek van Koniyahu (Y’hoyakin), die seun van Y’hoyakim, 2maar nie hy of sy diensknegte of die mense van die land het geluister na die woorde van יהוה wat Hy deur Yirmeyahu, die profeet, gepraat het nie.

3Tog het koning Tzidkiyahu vir Y’hukhal, die seun van Shelemyahu en Tz’fanyahu, die seun van Ma’aseiyah, die priester, na Yirmeyahu, die profeet, gestuur en gesê: “Bid asseblief tot יהוה, ons God, vir ons.” 4Yirmeyahu het nog in- en uitgegaan tussen die volk, want hulle het hom nog nie in die tronk gesit nie. 5Intussen het die leër van Farao uit Mitzrayim uitgetrek en toe die Kasdeërs wat besig was om Yerushalayim te beleër, die verslag aangaande hulle hoor, het hulle die beleëring van Yerushalayim afgelig.

6Toe kom die woord van יהוה tot Yirmeyahu, die profeet en sê: 7“So sê יהוה, God van Yisra’el: ‘So moet julle sê aan die koning van Y’hudah wat julle na My toe gestuur het om My te raadpleeg: “Let op, die leër van Farao wat uitgetrek het om julle te help, sal teruggaan na sy eie land, na Mitzrayim. 8Die Kasdeërs sal ook terugkom en teen hierdie stad veg, dit inneem en dit met vuur verbrand.’” 9So sê יהוה: ‘Moenie julleself bedrieg deur te sê: “Die Kasdeërs sal sekerlik van ons af weggaan nie,” want hulle sal nie gaan nie, 10want al sou julle die hele leër van die Kasdeërs wat teen julle veg, verslaan en daar onder hulle net gewondes oorbly, elkeen in sy tent, sal hulle opstaan en hierdie stad met vuur verbrand.’”

11Dit het gebeur toe die leër van die Kasdeërs van Yerushalayim af weggetrek het as gevolg van die leër van Farao, 12dat Yirmeyahu uit Yerushalayim uitgegaan het om na die land van Binyamin te gaan, om daar besit te gaan neem van eiendom tussen die mense. 13Terwyl hy by die Binyaminspoort was, was daar ’n kaptein van die wag met die naam van Yir’iyah, die seun van Shelemyahu, die seun van Hananyah en hy het Yirmeyahu, die profeet, gearresteer en gesê: “Jy gaan oor na die Kasdeërs!” 14Yirmeyahu het egter gesê: “’n Leuen! Ek gaan nie oor na die Kasdeërs toe nie;” tog wou hy nie na hom luister nie. Yir’iyah het Yirmeyahu arresteer en hom na die amptenare gebring. 15Toe was die amptenare baie kwaad vir Yirmeyahu en het hom geslaan en hom in die tronk gesit in die huis van Y’honatan, die skrywer, wat hulle as tronk ingerig het, 16want Yirmeyahu is in die kerker, dit is die put opening, laat afsak en Yirmeyahu het baie dae daar gebly.

17Koning Tzidkiyahu het gestuur en hom laat haal en die koning het hom in sy paleis in die geheim gevra en gesê: “Is daar ’n woord vanaf יהוה?” Yirmeyahu antwoord: “Daar is!” Toe sê hy: “U sal in die hand van die koning van Bavel oorgelewer word.” 18Verder het Yirmeyahu vir koning Tzidkiyahu gesê: “Wat het ek teen u of teen u diensknegte of teen hierdie volk gesondig sodat julle my in die tronk gesit het? 19Waar is julle profete dan wat vir julle geprofeteer en gesê het: ‘Die koning van Bavel sal nie teen julle of teen hierdie land kom nie’? 20Luister egter asseblief nou, my meester die koning; laat asseblief my versoek aanvaarbaar wees voor u en laat my nie teruggaan na die huis van Y’honatan, die skrywer, dat ek daar mag sterf nie.” 21Toe gee koning Tzidkiyahu bevel dat hulle Yirmeyahu in die hof van die waghuis moet hou en daagliks vir hom ’n brood uit die Bakkerstraat moet gee totdat al die brood in die stad op was. So het Yirmeyahu in die hof van die waghuis gebly.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 36
Top of Page
Top of Page