Jeremia 25
Afrikaans PWL
1Die woord wat tot Yirmeyahu gekom het aangaande die hele volk van Y’hudah, in die vierde jaar van Y’hoyakim, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah; dit was die eerste jaar van N’vukhadnetzar, koning van Bavel; 2wat Yirmeyahu, die profeet, aan die hele volk van Y’hudah en al die inwoners van Yerushalayim meegedeel en gesê het: 3“Vanaf die dertiende jaar van Yoshiyahu, die seun van Amon, koning van Y’hudah, tot op hierdie dag, hierdie drie en twintig jaar lank, het die woord van יהוה tot my gekom en ek het keer op keer met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie. 4יהוה het ook al Sy diensknegte, die profete, keer op keer na julle toe gestuur, maar julle het nie geluister of julle oor gedraai om te hoor nie, 5om te sê: ‘Draai elkeen nou weg van sy bose pad en van die boosheid van julle dade en bly in die land wat יהוה aan julle en julle voorvaders gegee het, vir ewig en ewig 6en moenie agter ander gode aangaan om hulle te dien en voor hulle neer te buig nie en moet My nie tart tot woede met die werk van julle hande nie en Ek sal julle geen skade aandoen nie.’ 7Tog het julle nie na My geluister nie,” verklaar יהוה “sodat julle My kon tart met die werk van julle hande, tot jul eie skade;”

8daarom, so sê יהוה-Tzva’ot: “Omdat julle nie My woorde gehoorsaam het nie, 9let op, Ek sal al die geslagte van die Noorde laat haal en vat,” verklaar יהוה “en Ek sal N’vukhadnetzar, koning van Bavel, My dienskneg, vat en Ek sal hulle bring teen hierdie land en sy inwoners en teen al hierdie nasies rondom en Ek sal hulle volkome vernietig en hulle tot ’n verwoesting en spot maak en tot ’n ewige verlatenheid. 10Meer nog, Ek sal uit hulle die stem van vreugde en die stem van blydskap uithaal, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die meulsteen en die lig van die lamp. 11Hierdie hele land sal ’n verlatenheid en ’n verskrikking wees en hierdie nasies sal die koning van Bavel sewentig jaar lank dien.

12Dan sal dit wees wanneer sewentig jaar voltooi is, Ek die koning van Bavel, daardie nasie en die land van die Kasdeërs vir hulle oortredinge sal straf,” verklaar יהוה “en Ek sal daarvan ’n ewige verlatenheid maak. 13Ek sal oor daardie land al My woorde bring wat Ek daaroor aangekondig het, alles wat geskryf is in hierdie boek, wat Yirmeyahu geprofeteer het teen al die nasies, 14want baie nasies en groot konings sal ook slawe van hulle maak en Ek sal hulle vergeld ooreenkomstig hul dade en volgens die werk van hul hande,’”

15want so het יהוה, die God van Yisra’el, vir my gesê: “Neem hierdie beker van die wyn van toorn uit My hand en laat al die nasies na wie Ek jou stuur dit drink. 16Hulle sal drink en slinger en rasend word weens die swaard wat Ek tussen hulle sal instuur.”

17Toe het ek die beker uit die hand van יהוה gevat en al die volke na wie יהוה my gestuur het maak drink: 18Yerushalayim en die stede van Y’hudah en sy konings en sy prinse, om van hulle ’n puinhoop te maak, ’n verskrikking, ’n bespotting en ’n vervloeking, soos dit vandag is; 19Farao, koning van Mitzrayim, sy diensknegte, sy prinse en sy hele volk 20en al die vreemde volke, al die konings van die land `Utz, al die konings van die land van die F’lishtyne, selfs Askelon, `Azah, `Ekron en die wat oorgebly het van Ashdod; 21Edom, Mo’av en die seuns van `Ammon; 22al die konings van Tzor, van Tzidon en die konings van die kuslande wat oorkant die see is 23en D’dan, Teima, Buz en almal in die uiterste uithoeke 24en al die konings van Arabië en al die konings van die vreemde mense wat in die woestyn bly 25en al die konings van Zimri, al die konings van `Eilam en al die konings van die Mede 26en al die konings van die noorde wat naby en ver is, die een met die ander en al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is en die koning van Sheshakh sal ná hulle drink.

27Jy moet vir hulle sê: ‘So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Drink, wees dronk, gooi op, val neer en staan nie weer op nie, as gevolg van die swaard wat Ek tussen julle sal instuur.’” 28“Dit sal wees dat as hulle weier om die beker uit jou hand te vat om te drink, dan moet jy vir hulle sê: ‘So sê יהוה-Tzva’ot: “Julle sal sekerlik drink, 29want let op, Ek begin om ’n katastrofe in die stad te begin wat volgens My Naam (Karakter en Outoriteit) genoem is en sal júlle heeltemal vry wees van straf? Julle sal nie vry wees van straf nie, want Ek roep ’n swaard op teen al die inwoners van die aarde,” verklaar יהוה-Tzva’ot;’

30daarom sal jy al hierdie woorde teen hulle profeteer en jy sal vir hulle sê: ‘יהוהsal brul uit die hoogte en Sy stem oplig uit Sy afgesonderde blyplek; Hy sal magtiglik brul teen Sy kudde. Hy sal, soos die druiwetrappers, teen al die inwoners van die aarde uitskreeu.

31’n Groot geraas het gekom tot by die einde van die aarde, want יהוה het ’n geskil met die nasies, Hy tree in die oordeel oor alle vlees; wat die bose oortreders betref, het Hy hulle oorgegee aan die swaard,’ verklaar יהוה.”

32So sê יהוה-Tzva’ot: “Let op, boosheid gaan uit van nasie tot nasie en ’n groot storm word opgewek vanuit die afgeleë dele van die aarde.

33Die wat deur יהוה neergeslaan is, sal op dié dag wees van die een einde van die aarde tot die ander. Daar sal nie oor hulle gerou word nie, hulle sal nie bymekaar gemaak word of begrawe word nie; hulle sal soos mis op die grond wees.

34Huil, o herders en roep uit; rol rond in die as, julle meesters van die kudde, want die dae van julle slagting en uitmekaarjaag het gekom en julle sal val soos keur voorwerpe.

35Die herders sal nie die pad kry om te vlug of die ramme van die trop ontsnap nie.

36Hoor die klank van die geskree van die herders en die gehuil van die meesters van die kudde omdat יהוה hulle weiveld verwoes het

37en die vredevolle kuddes stil gemaak het weens die ernstige woede van יהוה.

38Hy het soos ’n jong leeu sy wegkruipplek verlaat, want hulle land het ’n verskrikking geword weens die gewelddadigheid van die onderdrukkende swaard en weens Sy groot woede.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 24
Top of Page
Top of Page