Jesaja 3
Afrikaans PWL
1Let op, die Meester יהוה-Tzva’ot sal beide die voorsiening en die ondersteuning (stok en die staf) uit Yerushalayim en Y’hudah verwyder; die ganse voorsiening van brood en die ganse voorsiening van water;

2die magtige man en die krygsman, die regter en die profeet, die waarsêer en die oudste,

3die bevelvoerder oor vyftig en die eerbare man, die raadsman en die meester ambagsman en die ervare besweerder.

4Ek sal seuns aanstel as hulle prinse en moedswillige seuns sal oor hulle heers.

5Die mense sal onderdruk word, elkeen deur ’n ander en elkeen deur sy naaste; die jeug sal teen die oueres en die ondergeskiktes teen die eerbares aanstorm.

6Wanneer ’n man sy broer in die huis van sy vader gryp en sê: “Jy het ’n kleed, jy moet ons heerser wees en hierdie puinhoop regeer,”

7dan sal hy in dié dag protesteer en sê: “Ek sal nie julle leier wees nie, want in my huis is daar geen brood of kleed nie; julle kan my nie aanstel as heerser oor die mense nie,”

8want Yerushalayim het gestruikel en Y’hudah het geval, want hulle gepraat en hulle dade is teen יהוה, om teen Sy verhoogde Teenwoordigheid te rebelleer.

9Die uitdrukking van hulle gesigte getuig teen hulle en hulle vertoon hulle sonde soos S’dom; hulle steek dit nie eens weg nie. Wee hulle, want hulle het boosheid op hulleself gebring!

10Sê vir die regverdiges dat dit met hulle goed sal gaan, want hulle sal die vrug van hul dade eet.

11Wee die oortreder van die wet! Met hom sal dit sleg gaan, want wat hy verdien, sal aan hom gedoen word.

12O My volk! Die onderdrukkers is kinders en vroue heers oor julle. O My volk! Die wat jou lei, lei jou op ’n dwaalspoor en verwar die rigting van jou pad.

13יהוה staan op om teë te staan en staan om die mense te oordeel.

14יהוה tree in oordeel met die oudstes en prinse van Sy volk: “Dit is julle wat die wingerd verteer het; wat van die armes geplunder is, is in julle huise.

15Wat bedoel julle dat julle My volk vertrap en die gesig van die armes vergruis?” verklaar die Meester, יהוה-Tzva’ot.

16Verder het יהוה gesê: “Omdat die dogters van Tziyon trots is en met hulle koppe hooggehou en met verleidende oë loop en wegstap met trippelgang en die ringe aan hulle voete laat rinkel en so vir יהוה uittart,

17sal יהוה die skedel van die dogters van Tziyon met skurfheid slaan en יהוה sal hulle voorkoppe kaal maak.”

18In dié dag sal יהוה die mooiheid van voetringe, kopbande en maanornamente wegvat, 19hangende oorringe, armbande, sluiers, 20kopversiersels, enkelkettings, serpe, reukdosies, gelukbringers, 21vingerringe, neusringe, 22feesklere, oormantels, jasse, geldsakkies, 23handspieëltjies, onderklere, tulbande en gesigdoeke.

24Nou sal dit gebeur dat in plaas van soet reukwater daar ’n stank sal wees; in plaas van ’n gordel, ’n tou; in plaas van opgedoende hare, ’n uitgeplukte kopvel; in plaas van fyn klere, ’n roukleed en brandmerke in plaas van mooiheid.

25Jou manne sal deur die swaard val en jou magtiges in die geveg.

26Haar poorte sal kla en treur en sy sal verlate op die grond sit.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 2
Top of Page
Top of Page