Jesaja 22
Afrikaans PWL
1Die profetiese visioen aangaande die Vallei van Visie: wat is dit nou met julle dat julle almal op die huise se dakke geklim het?

2Julle wat vol geraas was, luidrugtige dorp, jubelende stad; jou dooies is nie deur die swaard gedood of het nie in die geveg gesterf nie.

3Al jou heersers het saam gevlug en is sonder boog gevang; almal van jou wat gevind is, is saam gevange geneem, hoewel hulle ver weg gevlug het.

4Ek sê daarom: “Draai jou oë weg van my af, laat my bitterlik huil; moenie probeer om my te troos aangaande die verwoesting van die dogter van my volk nie,”

5want dit is ’n dag van paniek, onderwerping en verwarring in die vallei van die visie voor die Meester, יהוה-Tzva’ot. Hulle het die mure ondersoek en geskreeu op die berge!

6`Eilam het die pylkoker opgeneem met strydwaens, voetsoldate en perderuiters en Kir het die skild ontbloot.

7Dit sal gebeur dat jou beste valleie met strydwaens gevul word en die ruiters vaste posisies inneem by die poort

8en die verdediging van Y’hudah sal weggevat word. In daardie dag het jy staat gemaak op die wapens van die Huis van die Woud

9en julle het gesien dat die breuke in die stad van Dawid baie is en julle het die waters van die onderste poel opgevang.

10Toe het julle die huise van Yerushalayim getel en huise afgebreek om die muur te versterk.

11Julle het ook ’n opgaarplek tussen die twee mure gemaak vir die water van die ou poel, maar julle het nie staat gemaak op Hom wat dit gemaak het nie en Hom wat dit lankal beplan het, ook nie in ag geneem nie;

12daarom het die Meester, יהוה-Tzva’ot, jou in daardie dag geroep tot gehuil en tot weeklag, tot kaal skeer van die kop en om ’n roukleed te dra.

13In plaas daarvan, is daar vrolikheid en blydskap, doodmaak van beeste en slag van skape, eet van vleis en drink van wyn: “Laat ons eet en drink, want môre mag ons sterf.”

14יהוה-Tzva’ot het Homself aan my openbaar: “Hierdie oortreding sal julle nie vergewe word nie totdat julle doodgaan,” sê die Meester, יהוה-Tzva’ot.

15So sê die Meester, יהוה-Tzva’ot: “Kom, gaan na hierdie bestuurder, na Shevnah, wat oor die huishouding aangestel is:

16‘Watter reg het jy hier en wie het jy hier dat jy vir jouself ’n graf hier uitgekap het, jy wat ’n graf in die hoogte uitkap, wat vir jouself ’n rusplek in die rots uitkerf?

17Let op, יהוה is op die punt om jou sekerlik weg te slinger, o mens en jou sekerlik te verlaat,

18jou te teister soos die teistering van ’n groep soldate wat in ’n stad beleër is sonder uitkoms; daar sal jy sterf en daar sal jou pronk strydwaens wees, skande van jou meester se huis!’

19Ek sal jou verwyder uit jou pos en jou uit jou posisie afbring.

20Dan sal dit op daardie dag gebeur dat Ek My dienskneg, Elyakim, die seun van Hilkiyahu, laat roep

21en Ek sal hom aantrek met jou kleed en jou serp stewig om hom bind. Ek sal hom onveranderlik toevertrou met jou outoriteit en hy sal vir die inwoners van Yerushalayim en vir die huis van Y’hudah ’n vader wees.

22Dan sal Ek die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer sit; wanneer hy oopmaak, sal niemand sluit nie; wanneer hy sluit, sal niemand oopmaak nie.

23Ek sal hom inslaan soos ’n pen in ’n vaste plek en hy sal ’n troon van lof en eer word vir sy vader se huis.

24Hulle sal al die lof en eer van sy vader se huis, nageslag en sake, al die kleinste van houers, van komme af tot al die kruike aan hom hang.” 25“In daardie dag,” verklaar יהוה-Tzva’ot, “sal die pen wat in ’n stewige plek ingeslaan is padgee; dit sal afbreek en val en die vrag goed wat daaraan hang, sal afgesny word, want יהוה het gepraat.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 21
Top of Page
Top of Page