Jesaja 21
Afrikaans PWL
1Die profetiese visioen aangaande die wildernis van die see: soos stormwinde deur die Negev gaan, kom dit vanuit die wildernis, uit ’n vreesaanjaende land;

2’n ernstige visie is aan my gewys! Die valse handel steeds valslik en die vernietiger vernietig. Gaan op, `Eilam en die berge van Madai! Ek het ’n einde gemaak aan al hulle gesug.

3Om hierdie rede is my heupe vol benoudheid; pyne het my aangegryp soos die pyne van ’n vrou wat geboorte gee. Ek is so verward, ek kan nie hoor nie; so angsbevange, ek kan nie sien nie.

4My verstand, wil en emosie duisel, angs oorval my; die skemeraand waarna ek uitgesien het, is vir my verander tot ’n verskrikking.

5Hulle dek die tafel, gooi die lap oor, hulle eet, hulle drink: “Staan op, bevelvoerders, salf die skilde,”

6want so sê יהוה vir my: “Gaan, plaas die brandwag, laat hom rapporteer wat hy sien.

7Wanneer hy ‘n strydwa sien, ‘n paar perderuiters, ’n ruiter op ‘n donkie en ’n ruiter op ‘n kameel, laat hom ernstig aandag gee, baie ernstig.”

8Toe het die brandwag geroep: “O יהוה, ek staan voortdurend op die wagtoring in die dag en ek is op my wagpos elke nag.

9Nou, let op, hier kom een van die paar perderuiters en hy het gesê: ‘Geval, Bavel het geval en al die beelde van haar gode is stukkend op die grond’.”

10O my gedorstes en geteisterdes van die dorsvloer, wat ek gehoor het van יהוהTzva’ot, die God van Yisra’el, maak ek aan julle bekend!

11Die profetiese visioen aangaande Edom: een hou aan om my van Se’ir af te roep: “Waaksman, hoe ver is die nag verby? Waaksman, hoe ver is die nag verby?”

12Die waaksman sê: “Die oggend kom, maar ook die nag. As julle moet vra, vra; kom weer terug.”

13Die profetiese visioen aangaande Arabië: “In die ruigtes van Arabië moet julle oornag, karavane van die D’daniete!

14Bring water vir die wat dors is, o inwoners van die land van Teima, ontmoet die vlugteling met brood,

15want hulle het vir die swaarde gevlug, vir die getrekte swaard, vir die gespande boog en vir die druk van die geveg,

16want so het יהוה vir my gesê: ‘Binne ’n jaar, soos die huurling dit sal tel, sal al die lof en eer van Kedar tot ’n einde kom 17en wat oorbly van die getal boogskutters van die seuns van Kedar, sal min wees,’ want יהוה, God van Yisra’el, het gepraat.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 20
Top of Page
Top of Page