Esegiël 9
Afrikaans PWL
1Toe het Hy met ’n harde stem voor my ore uitgeroep en gesê: “Kom nader, laksmanne van die stad, elkeen met sy verwoestende wapen in sy hand.” 2Let op, ses manne kom uit die rigting van die Boonste Poort wat na die noorde toe kyk, elkeen met sy verwoestende wapen in sy hand en tussen hulle was ’n sekere man wat in linne aangetrek was, met ’n skrywer se inkhouer aan sy heupe en hulle het ingegaan en langs die koper altaar gaan staan.

3Toe het die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van die God van Yisra’el opgestyg vanaf die gérub waarop dit was, na die drumpel van die tempel toe en Hy het na die man geroep wat in linne aangetrek was, wat die skrywer se inkhouer aan sy heupe gehad het. 4יהוה sê vir hom: “Gaan deur die middel van die stad, deur die middel van Yerushalayim en maak ’n teken op die voorkoppe van die manne wat sug en steun oor al die verwerplikhede wat in sy midde gedoen word.” 5Aan die ander sê Hy egter voor my ore: “Gaan agter hom aan deur die stad en slaan dood; moenie dat julle oog jammerte hê nie en moenie spaar nie. 6Slaan volkome dood; ou manne, jong manne, jong meisies, klein kindertjies en vroue, maar moet aan niemand raak op wie die teken is nie en julle moet begin by My Afgesonderde Plek.” Hulle het begin by die oudstes wat voor die tempel was. 7Hy het vir hulle gesê: “Onteer die tempel en maak die howe vol met die dooies. Gaan uit!” So het hulle uitgegaan en in die stad doodgeslaan. 8Terwyl hulle doodslaan en ek oorgebly het, het ek op my gesig neergeval en uitgeroep en gesê: “Ag, יהוה-God! Vernietig U almal wat oorgebly het van Yisra’el deur U toorn op Yerushalayim uit te gooi?”

9Toe sê Hy vir my: “Die oortredinge van die huis van Yisra’el en van Y’hudah is baie, baie groot en die land is gevul met bloed en die stad is vol perversie, want hulle sê: ‘יהוה het die land verlaat en יהוה sien nie.’ 10Wat My betref, My oog sal nie jammerte hê nie en Ek sal nie spaar nie, maar Ek sal hulle optrede op hulle koppe afbring.”

11Toe, let op, het die man wat in linne aangetrek was, aan wie se heupe die skrywer se inkhouer was, rapporteer en gesê: “Ek het gedoen net soos U my beveel het.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 8
Top of Page
Top of Page