Esegiël 10
Afrikaans PWL
1Toe het ek gekyk en let op, in die ruimte wat bo-oor die koppe van die gérubs was, het iets soos ’n saffiersteen in ’n vorm wat lyk soos ’n troon, bo hulle verskyn. 2Hy het met die man wat in linne aangetrek was gepraat en gesê: “Gaan in tussen die draaiende wiele onder die gérub in en maak jou hande vol met kole van vuur vanaf tussen die gérubs en strooi dit oor die stad.” Hy het voor my oë ingegaan.

3Die gérubs het aan die regterkant van die tempel gestaan toe die man ingegaan het en die wolk het die binnehof gevul. 4Toe het die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה vanaf die gérub af opgestyg na die drumpel van die tempel en die tempel is gevul met die wolk en die hof was vol van die helderheid van die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה. 5Verder is die geluid van die gérubs se vlerke gehoor tot in die buitenste hof, soos die stem van God, die Almagtige, as Hy praat.

6Dit het gebeur toe Hy die man wat in linne aangetrek is beveel en gesê het: “Vat vuur van tussen die draaiende wiele, van tussen die gérubs uit,” hy ingegaan en langs ’n wiel gaan staan het. 7Toe steek ’n gérub sy hand uit van tussen die gérubs, af na die vuur wat tussen die gérubs was, vat daarvan en gee dit in die hande van die man wat in linne aangetrek is; wat dit gevat en uitgegaan het. 8Dit het gelyk of die gérubs die vorm van ’n mens se hand onder hulle vlerke het.

9Toe het ek gekyk en let op, vier wiele langs die gérubs; een wiel langs elke gérub en die voorkoms van die wiele was soos die kleur van topaas (beril). 10Wat hulle voorkoms betref, al vier het dieselfde voorkoms gehad, asof een wiel binne-in ’n ander wiel was. 11Wanneer hulle beweeg, het hulle in enige van hulle vier rigtings beweeg sonder om te draai as hulle beweeg, maar hulle het gevolg in die rigting waarheen hulle kyk, sonder om te draai as hulle beweeg. 12Hulle hele liggaam, hulle rûe, hulle hande, hulle vlerke en die wiele was vol oë reg rondom, die wiele het aan al vier van hulle behoort. 13Die wiele is voor my ore “draaiende wiele” genoem. 14Elkeen het vier gesigte gehad: die eerste gesig was die gesig van ’n gérub, die tweede gesig die gesig van ’n mens, die derde die gesig van ’n leeu en die vierde die gesig van ’n arend.

15Toe het die gérubs opgestyg. Hulle is die lewende wesens wat ek by die K’varrivier gesien het. 16Wanneer die gérubs beweeg, sal die wiele langs hulle beweeg en wanneer die gérubs hulle vlerke oplig om van die grond af op te styg, het die wiele nie weggedraai van langs hulle nie. 17Wanneer die gérubs stilstaan, staan die wiele stil en wanneer hulle opstyg, sal die wiele saam met hulle opstyg, want die gees van die lewende wesens was in hulle.

18Toe het die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה vanaf die drumpel van die tempel vertrek en oor die gérubs gaan staan. 19Toe die gérubs weggegaan het, het hulle hul vlerke opgelig en voor my oë van die grond af opgestyg met die wiele langs hulle en hulle het gaan stilstaan by die ingang van die oostelike poort van die huis van יהוה en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van die God van Yisra’el het oor hulle gehang.

20Dit is die lewende wesens wat ek onder die God van Yisra’el gesien het by die K’varrivier; ek het dus geweet dat hulle gérubs was. 21Elkeen het vier gesigte en elkeen het vier vlerke gehad en onder hulle vlerke was die vorm van mensehande. 22Wat die vorm van hulle gesigte betref, dit was dieselfde gesigte wie se voorkoms ek by die K’varrivier gesien het; elkeen het reguit vorentoe gegaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 9
Top of Page
Top of Page