Esegiël 28
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה het weer tot my gekom en gesê:

2“Seun van ’n mens, sê aan die leier van Tzor: ‘So sê יהוה-God: “Omdat jou verstand, wil en emosie hoogmoedig was en jy gesê het: ‘Ek is ’n god, ek sit op die troon van gode in die kern van die seë’; tog is jy ’n mens en nie god nie, alhoewel jy jou verstand, wil en emosie maak soos die van ’n god.

3Let op, jy is wyser as Dani’el, daar is geen geheim wat vir jou duister is nie!

4Deur jou wysheid en begrip het jy vir jouself rykdom verkry en goud en silwer vir jou skatkamers.

5Deur jou groot wysheid, deur jou handel, het jy jou rykdom vermeerder en jou verstand, wil en emosie het hoogmoedig geword deur jou rykdom.

6יהוה-God sê daarom: ‘Omdat jy jou verstand, wil en emosie gemaak het soos die van ’n god,

7let daarom op, Ek sal vreemdelinge oor jou bring, die geweldadigste van die nasies en hulle sal hul swaarde trek teen die skoonheid van jou wysheid en jou glans onteer.

8Hulle sal jou afbring na die put en jy sal die dood sterf van die wat doodgemaak word in die diepte van die seë.

9Sal jy nog sê, “Ek is ’n god,” in die teenwoordigheid van hom wat jou doodmaak terwyl jy ’n mens en nie ’n god is nie, in die hand van hulle wat jou wond?

10Jy sal die dood van onbesnedenes sterf, deur die hand van vreemdelinge, want Ek het gepraat,’ verklaar יהוה-God.”’”

11Die woord van יהוה het weer tot my gekom en gesê:

12“Seun van ’n mens, hef ’n klaaglied aan oor die koning van Tzor en sê vir hom: ‘So sê יהוה-God: “Jy het die merk van volmaaktheid gehad, vol wysheid en volmaak in skoonheid.

13Jy was in `Eden, die tuin van God; elke edelgesteente was jou bedekking: robyn, topaas en diamant; beril, oniks en jaspis; lapis lazuli, turkoois en saffier en goud, die vakmanskap van jou monterings en holtes, was in jou. Op die dag toe jy geskape is, is hulle voorberei.

14Jy was by die gesalfde gerub wat bedek en Ek het jou op die afgesonderde berg van God geplaas; jy was veilig tussen die klippe van vuur.

15Jy was onberispelik in jou lewenswyse van die dag af dat jy geskape is totdat daar boosheid in jou gevind is.

16Deur die oorvloed van jou koophandel het jy jou binneste met oortredinge gevul en jy het gesondig; daarom sal Ek jou van die berg van God afgooi en Ek sal jou van tussen die klippe van vuur vernietig, o gérub wat bedek!

17Jou verstand, wil en emosie was hoogmoedig as gevolg van jou skoonheid; jy het jou wysheid korrup gemaak deur jou glans. Ek het jou op die grond neergegooi, Ek het jou voor die konings gesit sodat hulle jou kan sien.

18Deur die menigte van jou oortredinge, deur die partydige onopregtheid van jou koophandel het jy jou afgesonderde plekke onteer; daarom het Ek ’n vuur uit jou binneste laat uitkom; dit het jou verteer en Ek het jou op die aarde tot as gemaak voor die oë van almal wat jou gesien het.

19Almal wat jou ken onder die volke is ontsteld oor jou; jy het verskrik geword en jy sal ophou om te wees vir ewig.”’”

20Die woord van יהוה het tot my gekom en gesê: 21“Seun van ’n mens, draai jou gesig na Tzidon en profeteer teen haar

22en sê: ‘So sê יהוה-God: “Let op, Ek is teen jou, o Tzidon en Ek sal geloof en geëer word in jou midde. Dan sal hulle weet dat Ek יהוה is wanneer Ek oordele oor haar uitvoer en Ek sal My afgesonderdheid in haar duidelik maak,

23want Ek sal die pes na haar toe stuur en bloed na haar strate en die gewondes sal in haar midde val deur die swaard teen haar aan elke kant; dan sal hulle weet dat Ek יהוה is.

24Daar sal nie meer vir die huis van Yisra’el ’n steekdoring of pynlike doring wees van enige wat rondom hulle is, wat hulle verag het nie; dan sal hulle weet dat Ek יהוה-God is.”

25So sê יהוה-God: “Wanneer Ek die huis van Yisra’el versamel vanuit die volke onder wie hulle verstrooi is en Ek My afgesonderdheid in hulle duidelik sal maak voor die oë van die nasies, dan sal hulle in hul land bly wat Ek vir My dienskneg Ya’akov gegee het. 26Hulle sal veilig daarin bly en hulle sal huise bou, wingerde plant en veilig woon wanneer Ek oordele uitvoer op almal wat hulle van alle kante af verag. Dan sal hulle weet dat Ek יהוה, hulle God, is.”’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 27
Top of Page
Top of Page