Esegiël 27
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה het verder tot my gekom en gesê: 2“Jy, seun van ’n mens, neem ’n klaaglied op oor Tzor

3en sê vir Tzor, wat by die ingang na die see bly, handelaars van die volke na baie kuslande toe: ‘So sê יהוה-God: O Tzor, jy het gesê: Ek is volmaak in mooiheid.’

4Jou grense is in die binneste van die seë; jou bouers het jou mooiheid volmaak gemaak.

5Hulle het al jou planke van dennebome vanaf S’nir gemaak; hulle het ’n seder vanaf L’vanon gevat om vir jou ’n mas te maak.

6Van eikebome vanaf Bashan het hulle vir jou roeispane gemaak; hulle het jou dek van palmhout met ivoor vanaf die kuslande van Kitti ingelê.

7Jou seil was van fyn geborduurde linne vanaf Mitzrayim sodat dit jou uitkennings teken geword het; jou sonskerm was blou en pers vanaf die kuslande van Elishah.

8Die inwoners van Tzidon en Arvad was jou roeiers; jou wyse manne was aan boord, o Tzor, hulle was jou stuurmanne.

9Die oudstes van G’val en haar wyse manne was by jou om jou some reg te maak; al die skepe van die see en hulle seemanne was by jou om met jou koopware handel te dryf.

10Paras (Persië), Lud en Put was in jou leër, jou krygsmanne; hulle het skild en helm in jou opgehang; hulle het aan jou glans gegee. 11Die seuns van Arvad en jou leër was rondom op jou mure en die Gammadiete was in jou torings; hulle het hul skilde rondom op jou mure gehang; hulle het jou mooiheid volmaak gemaak.

12Tarshish was jou kliënt weens die menigte van allerhande rykdom; hulle het met silwer, yster, tin en lood betaal vir jou ware. 13Yavan, Tubval en Meshekh, hulle was handelaars; hulle het vir jou ware betaal met die lewens van mense en houers van koper. 14Hulle van Beit-Togarmah het perde, oorlogsperde en muile gegee vir jou ware. 15Die seuns van D’dan was jou handelaars. Baie kuslande was jou mark; hulle het ivoortande en ebbehout as jou betaling gebring. 16Aram was jou kliënt weens die menigte van jou goedere; hulle het vir jou ware met smaragte, purper, geborduurde werk, fyn linne, korale en robyne betaal. 17Y’hudah en die land van Yisra’el, hulle was jou handelaars; met die koring van Minnit, koeke, heuning, olie en balsem het hulle vir jou ware betaal. 18Dammesek was jou kliënt weens die oorvloed van jou goedere, weens die oorvloed van allerhande rykdom, weens die wyn van Helbon en wit wol. 19Dan en Yavan het vir jou ware betaal vanaf Uzal; smee-yster, kassie (senna) en suikerriet was onder jou handelsware. 20D’dan het met jou handel gedryf in saalklede om op te ry. 21Arabië en al die prinse van K’dar was jou kliënte vir lammers, ramme en bokke; daarvoor was hulle jou kliënte. 22Die handelaars van Sh’va en Ra’mah het met jou handel gedryf; hulle het vir jou ware met die beste van allerhande speserye, allerhande edelgesteentes en goud betaal. 23Haran, Kanneh en `Eden, die handelaars van Sh’va, Ashur en Kilmad het met jou handel gedryf. 24Hulle het met jou handel gedryf in blou kledingstukke, geborduurde werk en in kleurvolle geweefde tapyte, styf vasgebind met koorde en in skepe van sederhout gelaai.

25Die skepe van Tarshish was die koeriers vir jou handelsware en jy was vol en het baie sterk geword.

26Jou roeiers het jou in groot waters gebring; die Oostewind het jou gebreek in die seë.

27Jou rykdomme, jou artikels, jou handelsware, jou seemanne, jou stuurmanne, die wat jou some regmaak, jou handelaars in handelsware en al jou krygsmanne wat in jou is, saam met jou hele menigte wat in jou is, sal in die diepte van die seë val op die dag van jou omverwerping.

28Deur die klank van die krete van jou stuurmanne sal die weivelde skud.

29Almal wat die roeispaan hanteer, die seemanne, al die stuurmanne van die see, sal van hulle skepe afklim; hulle sal op die land staan

30en hulle sal hul stem oor jou laat hoor en bitterlik huil. Hulle sal stof op hul koppe gooi, hulle sal rondrol in as.

31Hulle sal hulself bles maak om jou ontwil en rouklere aangord en hulle sal oor jou huil in bitterheid van verstand, wil en emosie en met bitter rou.

32Hulle sal verder ook in hul huilery ’n klaaglied vir jou ophef en oor jou weeklaag: “Wie is soos Tzor, wat in die see gebou is?

33Toe jou handelsware uitgekom het uit die seë, het jy baie volke tevrede gestel; met die oorvloed van jou rykdom en jou handelsware het jy die konings van die aarde ryk gemaak.

34Noudat jy gebroke is deur die seë in die dieptes van die waters; het jou handelsware en jou hele menigte in jou midde geval.

35Al die inwoners van die kuslande is verskrik oor jou en hulle konings is verskriklik bang; hulle gesigte is besorg.

36Die handelaars onder die volke spot met jou; jy het verskrik geword en jy sal ophou bestaan, vir ewig.”’”’

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 26
Top of Page
Top of Page