Eksodus 35
Afrikaans PWL
1Moshe het die hele vergadering van die seuns van Yisra’el bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Hierdie is die dinge wat יהוה julle beveel het om te doen:

2werk moet vir ses dae gedoen word, maar die sewende dag moet vir julle afgesonderd wees, ’n Shabbat van volkome rus tot יהוה. Wie ook al enige werk daarop doen, moet doodgemaak word. 3Julle mag geen vuur aansteek op die Shabbat Eks 16:23 in enige een van julle blyplekke nie.” Eks 12:16

4Moshe het met die hele vergadering van die seuns van Yisra’el gepraat en gesê: “Dít is wat יהוה beveel en gesê het: 5Vat vanuit julle ’n bydrae aan יהוה. Laat elkeen met ’n gewillige verstand, wil en emosie dit bring as ’n bydrae aan יהוה: goud, silwer en koper; 6blou, pers en bloedrooi materiaal, wit geweefde linne en bokhaar; 7rooigekleurde ramsvelle, dugongvelle en akasiahout; 8olie vir die lampstaander, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; 9oniksstene en stene om in te lê in die skouerstuk en die borsplaat.

10Almal onder julle wat kunstig is, moet kom en alles maak wat יהוה beveel het: 11die tabernakel, sy tent, sy bedekking, sy hakies, sy borde, sy pale, sy pilare en sy voetstukke; 12die ark en sy pale, die toedekking en die verdelingsgordyn van die toedekking; 13die tafel met sy pale en al sy bybehore en die brode van die Teenwoordigheid; 14asook die lampstaander vir verligting, met sy bybehore, sy lampe en die olie vir die lig; 15die reukaltaar met sy pale, die salfolie en die reukwerk van speserye en die gordyn vir die ingang van die tabernakel; 16die brandofferaltaar met sy raamwerk van koper, sy pale en al sy bybehore; die kom met sy voetstuk; 17die behangsels van die voorhof, sy pilare, sy voetstukke en die gordyn van die poort van die voorhof; 18die penne van die tabernakel, die penne van die voorhof met hulle toue; 19die kunstig geweefde klere om in die Afgesonderde plek te bedien, die afgesonderde klere vir Aharon, die priester en die klere van sy seuns om as priesters te dien.”

20Die hele vergadering van die seuns van Yisra’el het van Moshe se teenwoordigheid af weggegaan. 21Elkeen wie se wil, emosie en verstand hom opgewek het en wie se gees hom beweeg het, het gekom en die bydrae aan יהוה gebring vir die werk aan die Tent van Ontmoeting, vir al sy bedieninge en vir die afgesonderde klere. 22Hulle het gekom, beide manne en vroue, elkeen met ’n gewillige emosie, wil en verstand; hulle het armbande, neusringe, ringe, versierings en allerhande goue goed gebring, elkeen wat ’n offer van goud aan יהוה gebring het. 23Elkeen wat in besit was van blou, pers en bloedrooi materiale, wit geweefde linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle en dugongvelle, het dit gebring. 24Elkeen wat ’n bydrae van silwer of koper kon bring, het die bydrae vir יהוה gebring en elkeen wat akasiahout gehad het vir enige van die werk, het dit gebring. 25Elke vrou wat kunstig was, het met haar eie hande gespin en dit wat sy gespin het gebring: die blou, pers en bloedrooi materiale en die fyn wit geweefde linne. 26Al die vroue wie se wil en denke hulle opgewek het deur kunstigheid, het die bokhaar gespin. 27Die leiers het die oniksstene en die stene om in te lê, vir die skouerstuk en die borsplaat gebring, 28die speserye en die olie vir die lampstaander en vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye. 29Die seuns van Yisra’el het ’n vrywillige offergawe aan יהוה gebring, elke man en vrou wie se wil, emosie en verstand gewillig was om te bring vir al die werk wat יהוה deur die hand van Moshe beveel het om gedoen te word.

30Moshe het vir die seuns van Yisra’el gesê: “Let op, יהוה het B’tzal’el, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Y’hudah, by sy naam geroep 31en Hy het hom met die Gees van God gevul, met wysheid, met begrip, met kennis en met bekwaamheid vir allerhande werk, 32om ontwerpe uit te dink, om te werk in goud, silwer en koper, 33in snywerk, in stene wat ingelê moet word, in houtsneewerk en om te werk in allerhande ontwerpwerk. 34Hy het dit ook in sy wil en verstand gegee om ander te leer, aan hom en aan Oholi’av, die seun van Agisamakh, van die stam van Dan. 35Hy het hulle gevul met wysheid van verstand om allerhande werk te maak van ’n graveerder, ’n ontwerper, ’n maker van veelkleurige muurtapyte in blou, pers en bloedrooi materiale en wit geweefde linne en van ’n wewer; hulle wat al die werk moes doen en kunstige ontwerpe moes uitdink.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 34
Top of Page
Top of Page