Eksodus 34
Afrikaans PWL
1יהוה het vir Moshe gesê: “Beitel vir jou twee kliptafels uit soos die eerstes en Ek sal op hierdie tafels die woorde skryf wat op die eerste tafels was, wat jy gebreek het. 2Wees gereed teen die oggend en klim in die oggend op na die berg Sinai en meld jou by My aan op die top van die berg. 3Niemand mag saam met jou opklim nie en laat daar ook niemand op die hele berg gesien word nie; laat ook geen kleinvee of beeste teen hierdie berg wei nie.” 4Hy het twee kliptafels gebeitel soos die eerstes en Moshe het die oggend vroeg opgestaan en opgegaan met die berg Sinai, soos יהוה hom beveel het en die twee kliptafels in sy hand gevat. 5יהוה het afgekom in die wolk en daar by hom gestaan terwyl Hy die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה aanroep. 6יהוה het by hom verbygegaan en verklaar: “יהוה, יהוה, Magtige God; vol omgee en goedgunstig, stadig om kwaad te word, oorvloedig in vriendelike goedheid en waarheid; 7wat onverdiende guns hou vir duisende, wat boosheid, oortreding en sonde vergewe, maar nooit die skuldige onskuldig verklaar nie; wat die wetsoortreding van die vaders, die seuns en die kleinseuns laat beïnvloed, tot aan die derde en die vierde geslag.” 8Moshe het hom gou laag na die aarde toe neergebuig en aanbid 9en gesê: “יהוה, as ek nou guns in U oë gevind het, laat יהוה asseblief tussen ons trek, al is dit ’n hardnekkige volk, maar vergewe ons oortreding van die wet en ons sonde en vat ons as U eie besitting.”

10Toe sê God: “Let op, Ek sluit ’n verbond. Voor jou hele volk sal Ek uitsonderlike wonderwerke doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie gedoen is nie sodat al die mense tussen wie jy is, die werk van יהוה kan sien, want dit is ’n verskriklike ding wat Ek met jou sal doen.

11Wees seker om te gehoorsaam wat Ek jou op dié dag beveel. Let op, Ek gaan die Emoriete, Kena’aniete, Hittiete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete voor jou uit verdryf. 12Pas jouself op dat jy geen verbond sluit met die inwoners van die land waarheen jy gaan nie sodat dit nie miskien ’n strik tussen julle word nie, 13maar jy moet hulle altare vernietig, hulle afgesonderde pilare afbreek en hulle pale afkap, 14want jy mag jou nie neerbuig voor enige ander god nie, want יהוה se Karakter en Outoriteit is jaloers; ’n jaloerse Magtige God is Hy, 15anders sal julle ’n verbond sluit met die inwoners van die land en agter hulle gode aan hoereer en aan hulle gode offer en iemand sal jou uitnooi en jy sal van sy offers eet 16en jy sal van sy dogters vat vir jou seuns en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer. 17Jy mag vir jou geen gegote gode maak nie.

18Jy moet die Fees van Ongesuurde Brode hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die vasgestelde tyd in die maand Aviv, want in die maand Aviv het jy uit Mitzrayim uitgekom.

19Alles wat die baarmoeder oopmaak, is Myne en elke eersteling van jou vee wat manlik is, van beeste en kleinvee, 20maar die eersteling van ’n donkie moet jy met ’n lam loskoop en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop en niemand mag met leë hande voor My verskyn nie.

21Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus; selfs in die ploegtyd en in die oestyd, moet jy rus. 22Jy moet die Fees van Weke hou, die fees van die eerstelinge van die graan-oes en die Fees van Insameling, by die wisseling van die jaar. 23Al jou mans moet drie maal per jaar voor die Teenwoordigheid van die Meester יהוה, God van Yisra’el, verskyn, 24want Ek sal nasies voor jou uitdryf en jou grondgebied vergroot en niemand sal jou land begeer terwyl jy opgaan om te verskyn voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, drie maal gedurende die jaar, nie.

25Jy mag nie die bloed van My offer saam met gesuurde brood bring nie en die offer van die Pesag mag nie tot die oggend toe oorbly nie.

26Die eerstes van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van יהוה, jou God, bring. Jy mag nie ’n jong bokkie kook in sy moeder se melk nie.”

27יהוה het ook vir Moshe gesê: “Skryf hierdie woorde neer, want volgens hierdie woorde het Ek ’n verbond gesluit met jou en met Yisra’el.” 28Hy was daar by יהוה veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie en Hy het die woorde van die verbond op die tafels geskryf: die tien woorde.

29Dit het gebeur toe Moshe van die berg Sinai afkom (die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moshe toe hy van die berg afgekom het) dat Moshe nie geweet het dat die vel van sy gesig geskyn het omdat Hy met hom gepraat het nie. 30Toe Aharon en al die seuns van Yisra’el Moshe sien, het die vel van sy gesig geskyn en hulle was bang om naby hom te kom. 31Moshe het hulle geroep en Aharon en al die leiers van die vergadering het na hom toe teruggekom en Moshe het met hulle gepraat. 32Na dit het al die seuns van Yisra’el nader gekom en hy het hulle alles beveel wat יהוה met hom gepraat het op die berg Sinai. 33Toe Moshe klaar met hulle gepraat het, het hy ’n sluier oor sy gesig gesit, 34maar wanneer Moshe voor יהוה ingegaan het om met Hom te praat, het hy die sluier afgehaal totdat hy uitgaan. Hy het uitgegaan en vir die seuns van Yisra’el alles gesê wat hom beveel is. 35Wanneer die seuns van Yisra’el na die gesig van Moshe kyk en sien dat die vel van Moshe se gesig skyn, dan trek Moshe weer die sluier oor sy gesig totdat hy ingaan om met Hom te praat.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 33
Top of Page
Top of Page