Eksodus 23
Afrikaans PWL
1Jy mag geen valse gerug versprei nie. Moenie jou hand by die bose oortreder sit om ’n valse getuie te wees nie. 2Jy mag nie die meerderheid volg in doen van boosheid nie en jy mag nie in ’n regsaak getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie. 3Jy mag nie partydig wees vir die arme in sy regsaak nie.

4As jy jou vyand se bees of donkie teëkom wat wegdwaal, moet jy dit aan hom terugbesorg. 5As jy een wat jou haat se donkie onder sy pak sien lê, moet jy dit nie aan hom oorlaat nie: jy moet hom dit help bevry.

6Jy mag nie die reg van jou behoeftiges in hulle regsaak opsy skuif nie. 7Hou jouself ver weg van valse aanklagte af en moenie die onskuldige en die regverdige doodmaak nie, want Ek sal die bose oortreder nie regverdig verklaar nie.

8Jy mag ook geen omkoopgeskenk aanvaar nie, want ’n omkoopgeskenk maak die siendes blind en verdraai die woorde van die regverdiges.

9Jy mag die vreemdeling ook nie onderdruk nie, want julle verstaan self die lewe van ’n vreemdeling omdat julle vreemdelinge in Mitzrayim was.

10Ses jaar lank moet jy jou land saai en die opbrengs daarvan inbring, 11maar in die sewende jaar moet jy dit laat rus en braak laat lê dat die behoeftiges van jou volk kan eet en wat hulle laat oorbly, die diere van die veld kan opeet. Net so moet jy ook doen met jou wingerd en jou olyfbome.

12Ses dae moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy rus sodat jou os en jou donkie kan rus en die seun van jou slavin en die vreemdeling verfris kan word. 13In alles wat Ek vir julle gesê het, wees versigtig en noem geen ander god by die naam (karakter en outoriteit) nie en laat dit uit jou mond nie gehoor word nie.

14Drie maal per jaar moet jy vir My ’n fees hou. 15Die Fees van Ongesuurde Brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die vasgestelde tyd in die maand Aviv, want daarin het jy uit Mitzrayim uitgetrek; niemand mag met leë hande voor My verskyn nie. 16Jy sal ook die Fees van die Oes hou, van die eersteling-oes van jou werk, van wat jy op die land saai en ook die Fees van die Insameling aan die einde van die jaar wanneer jy jou werk uit die land insamel. 17Drie maal per jaar moet al jou manspersone voor die Meester, יהוה, verskyn.

18Jy mag die bloed van My offer nie saam met gesuurde brood offer nie. Ook mag die vet van My feesoffer nie tot die oggend toe oorbly nie.

19Die eerste van die eersteling-oes van jou grond moet jy in die huis van יהוה, jou God, bring. Jy mag ’n bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.

20Let op, Ek stuur ’n boodskapper voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. 21Wees waaksaam voor hom en luister na sy stem; moenie rebels wees teenoor hom nie, want hy sal julle oortreding nie verdra nie, want My Karakter en Outoriteit is in hom, 22maar as jy sekerlik na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek ’n Vyand van jou vyande en ’n Teëstander van jou teëstanders wees, 23want My boodskapper sal voor jou uit gaan en jou bring na die Emoriete, Hittiete, P’riziete, Kena’aniete, Hiviete en Y’vusiete en Ek sal hulle volkome vernietig. 24Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen volgens hulle dade nie, maar jy moet hulle omgooi en hulle afbreek en hulle klippilare breek en in stukkies slaan. 25Julle moet יהוה, julle God, dien en Ek sal jou brood en jou water seën en Ek sal siektes van tussen jou uit verwyder. 26Niemand in jou land sal ’n miskraam hê of onvrugbaar wees nie. Ek sal die getal van jou dae vervul. 27Ek sal My vrees voor jou uit stuur en verwarring bring by elke volk waarby jy kom en Ek sal dat al jou vyande hulle rûe na jou toe draai 28en Ek sal perdebye voor jou uitstuur; dié sal die Hiviete, Kena’aniete en Hittiete voor jou uitdryf. 29Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdryf nie sodat die land nie woes word en die wilde diere te veel word vir jou nie. 30Bietjie vir biejie sal Ek hulle voor jou uit verdryf totdat jy vrugbaar word en besit neem van die land. 31Ek het jou grense vasgestel van die Sufsee af tot by die See van die F’lishteine en van die wildernis af tot by die Rivier (Eufraat), want Ek sal die inwoners van die land in julle hand oorgee en jy sal hulle voor jou uit verdryf. 32Jy mag met hulle of met hulle gode geen verbond sluit nie. 33Hulle mag nie in jou land bly sodat hulle jou teen My kan laat sondig nie, want as jy hulle gode dien, sal dit vir jou ’n strik wees.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 22
Top of Page
Top of Page