Eksodus 22
Afrikaans PWL
1As ’n man ’n bees of ’n skaap steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste vir ’n bees en vier skape vir ’n skaap vergoed.

2As ’n dief betrap word terwyl hy inbreek en hy word geslaan sodat hy sterwe, sal daar geen skuld vir bloedvergieting teenoor hom wees nie; 3as die son oor hom opgegaan het, sal daar skuld wees vir sy bloed. Hy moet ten volle vergoeding gee; as hy niks het nie, moet hy vir sy diefstal verkoop word. 4As die gesteelde goed, of dit ’n bees, ’n donkie of ’n skaap is, nog lewendig in sy hand gevind word, moet hy dubbel vergoeding gee.

5As iemand ’n stuk veld of ’n wingerd laat af eet en sy vee vry laat loop sodat dit die veld van ’n ander af eet, moet hy van die beste van sy veld en die beste van sy wingerd as vergoeding gee.

6As ’n vuur uitbreek en na dorings versprei sodat ’n mied of die ongesnyde graan of die veld verteer word, moet hy wat die vuur begin het, ten volle vergoeding gee.

7As iemand aan sy naaste geld of artikels in bewaring gee en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief, as hy gevind word, dubbel vergoeding gee. 8As die dief nie gevind word nie, moet die eienaar van die huis na die regters gaan om te beslis of hy nie sy hand in sy naaste se goed gesteek het nie. 9By alle sake van vertrouensbreuk, of dit gaan oor ’n bees, oor ’n donkie, oor ’n skaap, oor klere of oor enige iets wat verlore is, waarvan iemand sê: ‘Dit is myne!’ moet die saak van altwee voor die regters kom; die een wat die regters skuldig verklaar, moet aan sy naaste dubbel vergoeding gee.

10As iemand aan sy naaste ’n donkie of bees of skaap of enige dier gee om vir hom op te pas en dit gaan dood of word beseer of word verwyder as plunder sonder dat iemand dit gesien het, 11dan moet ’n eed by יהוה tussen hulle altwee wees, of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie en die eienaar moet daarmee tevrede wees en die ander hoef geen vergoeding te gee nie, 12maar as dit van hom gesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee. 13As dit verskeur is, moet hy dit as bewys bring; wat verskeur is, hoef hy nie te vergoed nie.

14As ’n man van sy naaste iets leen en dit kry ’n ongeluk of gaan dood terwyl die eienaar nie by is nie, moet hy ten volle vergoeding gee. 15As die eienaar by was, hoef hy geen vergoeding te gee nie. As dit gehuur was, is die huurgeld daarvoor.

16As iemand ’n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en by haar lê, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop. 17As haar vader beslis weier om haar vir hom te gee, moet hy geld gee volgens die huweliksprys vir jongmeisies.

18’n Heks mag jy nie laat lewe nie.

19Elkeen wat met ’n dier gemeenskap het, moet die dood sterf.

20Hy wat aan enige god offer, behalwe aan יהוה alleen, moet vernietig word.

21Jy mag nie ’n vreemdeling sleg behandel of hom onderdruk nie, want julle was vreemdelinge in die land van Mitzrayim. 22Julle mag geen weduwee of wees leed aandoen nie. 23As jy hulle enigsins leed aandoen en hulle roep uit na My toe, dan sal Ek hulle geroep sekerlik hoor 24en My woede sal brand en Ek sal julle met die swaard ombring; julle vroue sal weduwees en julle kinders vaderloos wees.

25As jy aan My volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ’n skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie. 26As jy ooit jou naaste se klere as pand neem, moet jy dit vir hom teruggee voor die son ondergaan, 27want dit is sy enigste bedekking, dit is die klere vir sy vel. Waarin moet hy anders slaap? As hy na My roep, sal Ek hoor, want Ek is goedgunstig.

28Jy mag die regter nie uitskel en ’n heerser oor jou volk nie vloek nie.

29Jy mag nie die offer van die eerste van jou oes en jou druiwe oes uitstel nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My gee. 30Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou skape: sewe dae moet dit by sy moeder wees en op die agtste dag moet jy dit vir My gee.

31Julle moet vir My afgesonderde mense wees. Julle mag nie vleis eet wat in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gooi.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 21
Top of Page
Top of Page