Deuteronomium 18
Afrikaans PWL
1Die Levitiese priesters, die hele stam van Levi, mag geen deel of erfenis saam met Yisra’el hê nie. Hulle sal die offers deur vuur aan יהוה en Sy deel eet. 2Hulle mag geen erfenis hê onder hul broers nie; יהוה is hulle erfenis, soos Hy hulle beloof het.

3Die volgende moet behoort aan die priesters vanaf die volk, van die wat ’n offer bring, of dit ’n bees of ’n stuk kleinvee is: hulle moet aan die priester die blad (skouer), die twee wange (kakebeen) en die maag gee. 4Jy moet vir hom die eerstelinge van jou graan, jou nuwe wyn, jou olie en die eerstelinge van die skeersel van jou kleinvee gee, 5want יהוה, jou God, het hom en sy seuns uit al jou stamme gekies, om vir altyd te staan en te dien in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה.

6Dus, as ’n Leviet uit een van jou dorpe kom, uit die hele Yisra’el waar hy bly en kom met die begeerte van sy wil, verstand en emosie na die plek wat יהוה sal kies, 7dan moet hy dien in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, sy God, soos al sy mede Leviete, wat daar voor die Teenwoordigheid van יהוה staan. 8Hulle moet gelyke porsies eet, behalwe wat hy verkoop van sy vader se besittings.

9Wanneer jy kom in die land wat יהוה, jou God, jou gee, moet jy nie leer om die verwerplikhede van daardie nasies na te doen nie. 10Daar mag niemand onder julle gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat gaan nie, wat waarsêery, toordery, verklaring van voortekens of towery beoefen nie, 11of wat vloeke en bindings toepas, of wat geeste oproep of ’n towenaar, of een wat die dooies raadpleeg nie, 12want elkeen wat hierdie dinge doen, is verwerplik vir יהוה en as gevolg van hierdie verwerplikhede onteien יהוה, jou God, hulle voor jou uit. 13Jy moet onberispelik wees voor יהוה, jou God, 14want hierdie nasies wat jy onteien, het geluister na towenaars en waarsêers, maar wat jou betref, יהוה, jou God, het jou nie toegelaat om dit te doen nie.

15יהוה, jou God, sal ’n profeet soos ek uit jou midde, uit jou broers, vir jou laat opstaan; na hom moet julle luister 16volgens alles wat jy van יהוה, jou God, by Horev gevra het toe jy op die dag van die vergadering gesê het: ‘Laat my nie weer die stem van יהוה, my God, hoor nie en hierdie groot vuur nie meer sien nie, anders sal ek sterf.’ 17יהוה het vir my gesê: ‘Hulle het goed gepraat.’ 18Ek sal vir hulle ’n profeet soos jy laat opstaan uit die midde van hulle broers en Ek sal My woorde in sy mond lê en hy sal aan hulle sê alles wat Ek hom beveel. 19Dit sal wees dat Ek dit self sal eis van die man wat nie luister, hoor en My woorde doen, wat hy in My Naam (Karakter en Outoriteit) praat nie, 20maar die profeet wat voorbarig is om ’n woord in My Naam (Karakter en Outoriteit) te praat wat Ek hom nie beveel het om te praat nie, of wat in die naam (karakter en outoriteit) van ander gode praat, dié profeet moet sterf. 21Jy mag in jou verstand sê: ‘Hoe sal ons die woord ken wat יהוה nie gepraat het nie?’ 22Wanneer ’n profeet in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה praat en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dít die woord wat יהוה nie gesê het nie; deur voorbarigheid het die profeet dit gesê; jy moenie vir hom bang wees nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 17
Top of Page
Top of Page