Deuteronomium 17
Afrikaans PWL
1Jy mag geen bees of stuk kleinvee waaraan ’n gebrek of iets slegs is, aan יהוה, jou God, offer nie, want dit is vir יהוה, jou God, verwerplik.

2As daar tussen jou, in een van jou dorpe wat יהוה, jou God, jou gee, ’n man of ’n vrou gevind word wat boos doen in die oë van יהוה, jou God, deur Sy verbond te oortree, 3wat ander gode gaan dien en voor hulle neergebuig het, of voor die son of die maan of enige van die leër van die hemele, wat Ek nie beveel het nie 4en dit is aan jou vertel en jy het dit gehoor en jy het behoorlik ondersoek ingestel en let op, dit is waar en staan vas dat hierdie verwerplike ding in Yisra’el gedoen is, 5dan moet jy dié man of dié vrou wat hierdie bose ding gedoen het, na jou poorte uitbring en daardie man of vrou met klippe stenig totdat hulle sterf. 6Wie ook al die dood verdien sal doodgemaak word op grond van die getuienis van twee of drie getuies; hy mag nie doodgemaak word op grond van die getuienis van een getuie nie. 7Die hand van die getuies moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, daarna die hand van die hele volk. So moet jy dan die bose uit jou midde uitroei.

8As ’n saak voorkom wat vir jou te swaar is om oor te oordeel, tussen een soort doodslag of ’n ander, tussen een regs-eis en ’n ander of tussen een aanval en ’n ander, sake van strydpunte in jou poorte, dan moet jy opstaan en gaan na die plek wat יהוה, jou God, sal kies 9en jy moet kom na die Leviete, die priesters en na die regter wat daar in dié dae sal wees en navraag doen en hulle sal vir jou die uitspraak gee oor die saak. 10Jy moet handel ooreenkomstig die woord wat hulle jou sal gee op dié plek wat יהוה sal kies en jy moet versigtig wees om alles te doen presies soos hulle jou leer. 11Ooreenkomstig die wet wat hulle jou leer en volgens die oordeel wat hulle jou beveel, moet jy doen; jy mag nie regs of links afwyk van die woord wat hulle aan jou gee nie. 12Die man wat voorbarig optree deur nie te luister na die priester, wat staan om daar voor יהוה, jou God, te dien, of na die regter, nie; dié man moet sterf. So moet jy dan die bose uit Yisra’el uitroei. 13Die hele volk sal dit hoor en respekvol vrees en nie meer voorbarig optree nie.

14Wanneer jy in die land, wat יהוה, jou God, jou gee, kom, dit besit, daarin woon en dan sê: ‘Ek wil ’n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is,’ 15dan moet jy ’n koning wat יהוה, jou God, sal kies, oor jou aanstel; een vanuit jou broers moet jy as koning oor jou aanstel; jy mag geen buitelander, wat nie jou broer is, oor jou aanstel nie. 16Meer nog, hy mag nie vir hom perde vermenigvuldig nie en hy mag die volk nie na Mitzrayim teruglei om perde te vermenigvuldig nie, want יהוה het vir julle gesê: ‘Julle mag nooit weer teruggaan op hierdie pad nie.’ 17Hy mag ook nie vir homself baie vroue vermenigvuldig nie sodat sy hart nie weggedraai word nie; hy mag ook nie vir homself baie silwer en goud vermenigvuldig nie.

18Dit sal ook wees dat as hy op die troon van sy koninkryk sit, hy vir homself ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek moet skryf, in die teenwoordigheid van die Levitiese priesters 19en dit moet by hom wees, hy moet al die dae van sy lewe daaruit lees dat hy kan leer om יהוה, sy God, respekvol te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie reëls versigtig te doen 20sodat sy verstand, wil en emosie nie opgelig word bo sy broers nie en hy van die opdragte nie regs of links afdraai nie sodat hy en sy seuns lank mag voortbestaan in sy koninkryk, binne Yisra’el.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 16
Top of Page
Top of Page