Deuteronomium 14
Afrikaans PWL
1Julle is seuns van יהוה, julle God; julle mag julle ter wille van ’n dooie nie stukkend sny of ’n kaalte op julle voorkoppe skeer nie, 2want julle is ’n afgesonderde volk tot יהוה, julle God en יהוה het julle gekies om ’n volk as Sy eie besitting te wees uit al die volke wat op die aarde is.

3Jy mag niks eet wat verwerplik is nie. 4Dit is die diere wat julle mag eet: ’n bees, ’n skaap, ’n bok, 5’n takbok, ’n gasel, ’n gestippelde takbok, ’n wilde bok, ’n ibex, ’n wildsbok, ’n bergskaap 6en al die diere wat gesplete hoewe het, heeltemal in twee gesplete hoewe en wat herkou onder die diere; dié mag julle eet. 7Nogtans mag julle nie eet van die wat net herkou of wat net gesplete hoewe het nie: die kameel, die haas en die dassie, want hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie; hulle is onrein vir julle; 8die vark is ook vir julle onrein, want hy het gesplete hoewe, maar herkou nie; hy is onrein vir julle. Julle mag nie hulle vleis eet of hulle karkasse aanraak nie.

9Hierdie mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het, mag julle eet, 10maar wat ook al nie vinne of skubbe het nie, mag julle nie eet nie; dit is onrein vir julle.

11Julle mag alle rein voëls eet, 12maar hierdie mag julle nie eet nie: die arend, die aasvoël, die seevalk, 13die kuikendief, die valk, die kleinvalk volgens sy soorte, 14elke kraai volgens sy soorte, 15die volstruis, die grootuil, die seemeeu, die valk volgens sy soorte, 16die klein-uil, die steunuil en die nonnetjiesuil, 17die pelikaan, die klein-aasvoël en die visvanger, 18die groot-sprinkaanvoël, die reier volgens sy soorte, die hoep-hoep en die vlermuis. 19Al die vlieënde swerms is vir julle onrein; hulle mag nie geëet word nie. 20Julle mag al die rein voëls eet.

21Julle mag niks eet wat self doodgegaan het nie; jy mag dit vir die besoeker in jou poorte gee dat hy dit eet, of jy kan dit aan ’n buitelander verkoop, want jy is ’n afgesonderde volk tot יהוה, jou God. Jy mag nie ’n bokkie kook in sy moeder se melk nie.

22Jy moet sekerlik ’n tiende gee van al die opbrengs van die saad wat die land jaar vir jaar voortbring. 23Jy moet voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God, op die plek wat Hy sal kies om Sy Naam (Karakter en Outoriteit) daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou nuwe wyn en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee sodat jy kan leer om יהוה, jou God, altyd respekvol te vrees. 24As die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie omdat die plek wat יהוה, jou God, sal kies om Sy Naam (Karakter en Outoriteit) daar te vestig, te ver van jou af is, wanneer יהוה, jou God, jou geseën het, 25dan moet jy dit ruil vir geld, die geld in jou hand vat en na die plek gaan wat יהוה, jou God, sal kies. 26Jy moet die geld spandeer op alles wat jou gees begeer, vir beeste, kleinvee, wyn, sterk drank, vir alles wat jou gees van jou begeer en jy moet daar eet voor die Teenwoordigheid van יהוה, jou God en vol vreugde wees, jy en jou huis. 27Jy mag nie die Leviet wat in jou poorte is, vergeet nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.

28Aan die einde van elke drie jaar moet jy al die tiendes van jou opbrengs in dié jaar uitbring en dit in jou dorp stoor. 29Die Leviet, omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie, die besoeker, die wees en die weduwee wat in jou dorp is, moet kom en hulle moet eet en versadig word sodat יהוה, jou God, jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 13
Top of Page
Top of Page