Deuteronomium 13
Afrikaans PWL
1As ’n profeet of een wat drome droom tussen julle opstaan en julle ’n teken of ’n wonder gee 2en die teken of wonder kom waar wat hy jou gegee het met die woorde: ‘Laat ons agter ander gode aan loop, wat jy nie geken het nie en hulle dien,’ 3dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat drome droom nie, want יהוה, julle God, toets julle om te weet of julle יהוה, julle God, liefhet met julle hele verstand, wil en emosie en met julle hele gees en lewe. 4Julle moet יהוה, julle God, volg, Hom respekvol vrees, Sy opdragte uitvoer, Sy stem gehoorsaam, Hom dien en aan Hom vashou. 5Dié profeet of dié man wat drome droom, moet doodgemaak word, want hy het rebellie verkondig teen יהוה, julle God, wat julle uit die land van Mitzrayim uitgebring en jou uit die huis van slawerny losgekoop het, om jou van die pad af te verlei waarop יהוה, jou God, jou beveel het om te loop. So moet jy die boosheid uit jou midde verwyder.

6As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of jou dogter of die vrou wat naby jou is, of jou vriend wat soos jou eie lewe is, jou in die geheim verlei en sê: ‘Laat ons gaan en ander gode dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie, 7uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde,’ 8dan moet jy nie inwillig en nie na hom luister nie; ook mag jou oog hom nie jammer kry nie en jy mag hom nie spaar en niks om sy ontwil wegsteek nie, 9maar jy moet hom tot die dood teregstel; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak en daarna die hand van die hele volk. 10Jy moet hom met klippe stenig sodat hy sterf, want hy het probeer om jou te verlei, weg van יהוה, jou God, wat jou uit die land van Mitzrayim, uit die huis van slawerny, uitgelei het. 11So sal die hele Yisra’el dit hoor en bang wees en nie weer so ’n boosheid onder jou doen nie.

12As jy iemand in een van jou stede, wat יהוה, jou God, vir jou gee om daarin te bly, hoor sê: 13‘Korrupte manne het vanuit jou uitgegaan en die inwoners van hulle stad verlei deur te sê: Laat ons gaan en ander gode dien, wat julle nie geken het nie,’ 14dan moet jy navraag doen, ondersoek instel en deeglik uitvra en as dit waar is en vasstaan dat hierdie verwerplikheid onder jou gedoen is, 15dan moet jy die inwoners van dié stad sekerlik verslaan met die skerpte van die swaard deur dit alles uit te wis, alles wat daarin is, asook die vee, met die skerpte van die swaard. 16Al sy buit moet jy op die stadsplein bymekaarbring en die stad en al die buit volledig met vuur verbrand as ’n volledige brandoffer voor יהוה, jou God. Dit sal vir ewig ’n puinhoop wees, dit mag nooit weer opgebou word nie. 17Geen van die vervloekte goedere sal aan jou hand vassit nie sodat יהוה Hom van Sy brandende woede kan wegdraai en aan jou onverdiende guns bewys, vir jou omgee en jou vermenigvuldig, soos Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het, 18as jy luister na die stem van יהוה, jou God, al Sy opdragte uitvoer wat ek jou vandag beveel en doen wat reg is in die oë van יהוה, jou God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 12
Top of Page
Top of Page