Daniël 7
Afrikaans PWL
1In die eerste jaar van Belshatzar, koning van Bavel, het Dani’el ’n droom gesien en visioene in sy kop terwyl hy op sy bed lê. Toe het hy die droom opgeskryf en die volheid daarvan vertel. 2Dani’el het gepraat en gesê: “Ek het in die nag in my visioen gesien en let op, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring 3en vier groot diere het uit die see uit opgekom, elkeen verskillend van die ander. 4Die eerste was soos ’n leeu en hy het arendsvlerke gehad; ek het gekyk totdat sy vlerke afgeruk is en hy het van die grond af opgestaan en soos ’n mens op sy voete gestaan en ’n mens se verstand, wil en emosie is daaraan gegee. 5Let op, die tweede dier was soos ’n beer en dit het opgestaan aan een kant en dit het drie ribbes in sy bek tussen sy tande gehad en hulle het só vir hom gesê: “Staan op, verteer baie vlees.” 6Na hierdie dinge het ek gekyk en let op, nog ’n dier, soos ’n luiperd, wat vier vlerke van ’n voël aan sy sye gehad het; die dier het ook vier koppe gehad en heerskappy is aan hom gegee. 7Na hierdie dinge het ek in die visioen in die nag gesien en let op, ’n vierde dier: verskriklik, magtig, uitermate sterk en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en in stukke geskeur en wat oorgebly het, met sy pote vertrap en dit was anders as al die diere wat voor hom was en dit het tien horings gehad. 8Ek het die horings besigtig en let op, daar kom ’n ander horinkie tussen hulle op en drie van die vorige horings is daardeur ontwortel en let op, in hierdie horing was oë soos van ’n mens en ’n mond wat groot dinge praat.

9Toe het ek gekyk en let op, trone is reggesit en die Hoogwaardige van dae (Ewigdurende) het gaan sit; Sy kleed was wit soos sneeu en die hare van Sy kop soos skoon wol; Sy troon was soos ’n brandende vlam, die wiele daarvan soos ’n brandende vuur.

10’n Stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend keer duisende het Hom bedien en tien duisend keer tien duisende het voor Hom gestaan; die regter het gaan sit en die boeke is geopen.

11Ek het gekyk en let op, die dier is gedood en sy liggaam vernietig en aan die brandende vlam oorgegee. 12Wat die ander diere betref, hulle heerskappy is weggevat, tog is hulle lewe verleng vir ’n seisoen en ’n tyd.

13Ek het in die nagtelike visioen gesien en let op, Een soos die Seun van ’n mens het met die wolke van die hemel gekom en Hy het na die Hoogwaardige van dae (Ewigdurende) gekom en hulle het Hom na Hom toe gebring.

14Daar is aan Hom heerskappy en lof en eer en ’n Koninkryk gegee sodat al die volke, nasies en tale Hom sal dien; Sy Heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal verbygaan nie en Sy Koninkryk is een wat nie vernietig sal word nie.

15Wat my, Dani’el, betref, my gees was verontrus in my bed en die visioene van my kop het my gepla. 16Ek het nader gekom na een van die wat daar bedien het en van hom die waarheid gevra aangaande hierdie dinge en hy het aan my die waarheid bekend gemaak en die betekenis daarvan laat verstaan: 17Toe het hy vir my gesê: “Hierdie vier groot diere wat jy sien, is vier konings wat uit die aarde sal opstaan, 18maar die afgesonderdes van die Allerhoogste sal die Koninkryk ontvang en dit besit vir ewig en ewig.”

19Toe wou ek die waarheid weet aangaande die vierde dier wat anders was as al die ander, buitengewoon verskriklik, met tande van yster en naels van koper, wat verslind, in stukke breek en wat oorbly, met sy pote vertrap 20en aangaande die tien horings wat op sy kop is en die ander horing wat tussen hulle opgekom het en waarvoor drie geval het; die horing wat oë en ’n mond gehad het, wat baie groot dinge gepraat het, wat se gestalte groter was as die ander. 21Ek het gekyk en gesien dat hierdie selfde horing oorlog maak teen die afgesonderdes en hulle oorwin, 22totdat die Hoogwaardige van dae (Ewigdurende) gekom het en regverdige oordeel verskaf het aan die afgesonderdes van die Allerhoogste en die tyd het gekom dat die afgesonderdes die Koninkryk sou besit.

23Hy het vir my gesê: “Die vierde dier sal die vierde koninkryk op die aarde wees, wat groter sal wees as al die koninkryke op die aarde en die hele aarde sal verslind, dit sal vertrap en dit in stukkies breek. 24Die tien horings vanuit hierdie koninkryk is tien konings wat sal opstaan en ’n ander koning sal ná hulle opstaan en hy sal groter wees as die eerstes en drie konings verslaan. 25Hy sal woorde praat teen die Allerhoogste en planne maak teen die afgesonderdes van die Allerhoogste en beplan om vasgestelde tye en wette te verander en hulle sal in sy hand oorgegee word vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd, 26maar wanneer die Regter sit in oordeel, sal hulle sy heerskappy wegvat om dit te verteer en te vernietig tot die einde van sy koninkryk toe. 27Die heerskappye en die grootheid van die koninkryk onder die ganse hemel sal gegee word aan die afgesonderde volk van die Allerhoogste, wie se Koninkryk ’n ewige koninkryk is en al die heerskappye sal Hom dien en gehoorsaam.”

28Hier is die einde van die saak. Wat my, Dani’el, betref, my gedagtes het my baie gepla en my voorkoms het aan my verander, maar ek het die saak in my binneste bewaar.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Daniel 6
Top of Page
Top of Page