Daniël 6
Afrikaans PWL
1Dit het Daryavesh behaag om ’n honderd en twintig ‘beskermers van die ryk’ aan te stel wat oor die hele koninkryk sou wees 2en oor hulle, drie ministers, waarvan Dani’el een was, aan wie hierdie ‘beskermers van die ryk’ rekenskap moes gee sodat die koning nie gepla sou word nie. 3Toe het Dani’el bo die ministers en ‘beskermers van die ryk’ uitgemunt omdat ’n ander Gees in hom was en die koning het daaraan gedink om hom oor die hele koninkryk aan te stel. 4Toe het die ministers en die ‘beskermers van die ryk’ ’n rede gesoek om ’n klag teen Dani’el te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen grond vir ’n aanklag of verkeerde handeling vind nie omdat hy getrou was aan sy God en ook kon hulle geen skuld of aanklag teen hom vind nie. 5Toe het die manne gesê: “Ons sal teen hierdie Dani’el geen enkele grond vir ’n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind op grond van die wet van sy God.

6Toe het hierdie ministers en ‘beskermers van die ryk’ voor die koning gekom en vir hom gesê: “Koning Daryavesh, leef vir ewig! 7Al die ministers van die koninkryk, die prinse, die ‘beskermers van die ryk’ en die raadsmanne het beraadslaag dat die koning ’n koninklike verordening en ’n vaste verbod moet uitvaardig dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal word. 8Stel nou hierdie verbod vas, o koning en laat dit op skrif gestel word dat dit nie verander kan word nie, volgens die wet van die Mede en die Perse, wat nie verander kan word nie.” 9Toe het koning Daryavesh die skrywe onderteken en die bevel uitgevaardig.

10Toe Dani’el verneem dat die bevel geskryf is, het hy in sy huis ingegaan en die vensters in sy kamer was oop in die rigting van Yerushalayim. Hy het drie maal op ’n dag op sy knieë gegaan en gebid en dank uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het. 11Toe het hierdie manne hom afgeloer en Dani’el gevind terwyl hy bid en voor sy God smeek. 12Hulle het nader gekom en voor die koning gesê: “Het u nie beveel en geskryf dat elkeen wat gedurende dertig dae ’n versoek rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi moes word nie?” Die koning het geantwoord en gesê: “Die bevel staan vas volgens die wet van die Mede en die Perse, wat nie verander kan word nie. 13Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: “Dani’el, een van die ballinge uit Y’hudah, het u nie in ag geneem, of die bevel wat u gegee het nie, o koning, maar drie maal op ’n dag doen hy sy gebede.”

14Toe die koning hierdie woorde hoor, was hy baie hartseer en hy het besluit om Dani’el te verlos; tot sonsondergang toe het hy probeer om hom te bevry. 15Daardie manne het egter aangehou by die koning en vir hom gesê: “Weet, o koning, dat daar ’n wet van Mede en Perse is dat elke bevel of verordening wat die koning vasgestel het, nie verander mag word nie.”

16Toe het die koning bevel gegee en hulle het Dani’el gebring en in die kuil met leeus gegooi. Die koning het gepraat en vir Dani’el gesê: “Jou God, wat jy gedurigdeur dien, sal jou bevry!” 17Hulle het ’n groot klip gebring en dit op die opening van die kuil gelê en die koning het dit met sy eie seëlring en met die seëlring van sy prinse verseël sodat Dani’el se vonnis nie verander kon word nie. 18Toe het die koning na sy paleis gegaan en die nag in vas deurgebring; geen kos is na hom gebring nie en sy slaap het hom verlaat.

19Die koning het die oggend vroeg opgestaan en haastig na die leeukuil gegaan 20en toe hy by die kuil kom, het hy met ’n harde stem na Dani’el geroep. Die koning het gepraat en vir Dani’el gesê: “Dani’el, kneg van die lewende God, was jou God wat jy voortdurend dien, in staat om jou van die leeus te bevry?” 21Toe het Dani’el met die koning gepraat en gesê: “O, koning, leef vir ewig! 22My God het Sy engel gestuur en die bekke van die leeus toegemaak en hulle het my geen leed aangedoen nie, want ek was onskuldig voor Hom en ook teenoor u, o koning, het ek geen oortreding begaan nie.” 23Die koning was oorweldigend bly oor hom en het beveel dat Dani’el uit die kuil opgetrek word. So is Dani’el uit die kuil opgetrek en daar is geen letsel aan hom gevind nie omdat hy op sy God vertrou het.

24Die koning het bevel gegee en hulle het daardie manne wat Dani’el aangekla het, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle bespring en al hulle bene in stukkies gebreek.

25Toe het koning Daryavesh aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde bly, geskryf: “Mag vrede vir julle vermenigvuldig word!

26Deur my word bevel gegee dat manne in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en respekvol vrees voor die God van Dani’el, want Hy is die lewende God en is vir ewig en Sy Koninkryk sal nie vernietig word nie en Sy heerskappy sal wees, selfs tot die einde toe.

27Hy verlos, bevry en red en doen tekens en wonderwerke in die hemel en op aarde, want Hy het Dani’el uit die mag van die leeus bevry.”

28Dani’el was voorspoedig onder die regering van Daryavesh en onder die regering van Koresh, die Persiër.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Daniel 5
Top of Page
Top of Page