Daniël 12
Afrikaans PWL
1In daardie tyd sal Mikha’el, die groot engel wat bevel het oor jou volk, opstaan en daar sal ’n tyd van moeilikheid wees soos nog nooit sedert die begin van die wêreld nie en in daardie tyd sal sommige van jou volk bevry word, elkeen wie se naam, opgeskryf in die boekrol, gevind sal word. 2Baie van dié wat in die stof van die aarde slaap, sal wakker word, sommige tot die ewige lewe en sommige tot vernedering en ewige verwerping. 3Hulle wat goed gedoen het en die manne van insig sal skyn soos die glans van die uitspansel en die wat weggedraai het na onpartydige opregtheid sal skyn en wees soos die sterre vir ewig en ewig, 4maar jy, o Dani’el, seël hierdie woorde en wees stil en seël hierdie boek selfs tot die tyd van die einde toe; baie sal die einde wil ken en kennis sal vermeerder word.”

5Toe het ek, Dani’el, gekyk en let op, twee ander engele het, een aan hierdie kant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier gestaan 6en hulle sê aan die man, aangetrek met linne klere, wat bo die waters van die rivier gestaan het: “Hoe lank sal dit wees voor die einde van hierdie dinge?” 7Ek het die man wat met duur klere aangetrek is, wat bo die waters van die rivier staan, gehoor. Hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel toe opgesteek en gesweer by Hom wat vir ewig lewe dat dit vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd sal wees en wanneer ’n afgesonderde volk bevry is, sal al hierdie dinge vervul word. 8Ek, Dani’el het dit gehoor, maar nie verstaan nie; toe het ek gesê: “My Meester, wat sal na hierdie dinge gebeur?” 9Hy het gesê: “Gaan op jou pad, Dani’el, want die woorde is verseël tot die tyd van die einde toe. 10Baie sal gekies word en wit gemaak en getoets word, maar die sondaars sal voortgaan om te sondig en geeneen van die bose mense sal verstaan nie, maar hulle wat goeie werke gedoen het, sal verstaan. 11Vanaf die tyd dat die daaglikse offer afgeskaf en die verwerplike afgode opgerig word, sal een duisend twee honderd en negentig dae verloop. 12Geseënd is hy wat ernstig wag tot die een duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik word. 13Wat jou betref, Dani’el, gaan weg en rus tot die einde; dan sal jy opstaan op jou vasgestelde tyd aan die einde van die dae.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Daniel 11
Top of Page
Top of Page