Daniël 11
Afrikaans PWL
1In die eerste jaar van Daryavesh, die Meder, het die engel opgestaan om my aan te moedig en te versterk 2en hy het gesê: “Nou sal ek vir jou die waarheid wys. Let op, daar sal nog drie konings opstaan in Perse en die vierde sal baie ryker wees as almal van hulle en wanneer hy sterk geword het in sy eie koninkryk, sal hy al die koninkryke van Griekeland opwek. 3’n Magtige koning sal opstaan en heers met groot gesag en maak net soos hy wil. 4Wanneer hy opgestaan het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verstrooi word, maar dit sal nie na sy oorspronklike grense uitstrek of volgens die gesag waarmee hy regeer het nie, want sy koninkryk sal ontwortel word en daar sal geen koninkryk wees, behalwe die verdelings van sy koninkryk nie.

5Die koning van die suide en sy prinse sal onveranderlik sterk wees en die mense sal hom volg en hy sal heers oor ’n groot heerskappy 6en ná ’n paar jaar sal hulle tot ’n ooreenkoms kom en die dogter van die koning van die suide sal na die koning van die noorde kom om vrede tussen hulle te sluit, maar sy sal nie in staat wees om haar doel te bereik nie weens vrees en sy sal oorgee, saam met hulle wat haar gebring het, haar diensmaagde en haar bondgenote van daardie tyd. 7’n Erfgenaam van haar geslag sal oor sy land opstaan en met ’n leërmag en mag teen die koning van die noorde kom en teen hom optree en oorwin. 8Hy sal ook hulle afgode met hulle kosbare voorwerpe van silwer en goud gevange na Mitzrayim wegdra en hy sal een of twee keer teen die koning van die noorde opstaan; 9dan sal die koning van die suide die versterkte stede van die koning van die noorde binnedring, maar hy sal na sy eie land terugkeer.

10Sy seuns, (van die noorde), sal egter opgewek word en ’n menigte groot leërs versamel en hom aanval en stroom deur die land en sal terugkeer al vernietigend tot by sy versterkings. 11Die koning van die suide sal woedend wees en uitkom om te veg teen die koning van die noorde en die koning van die noorde sal ’n groot leër op die been bring, maar hierdie leër sal in die hand van sy vyand gegee word 12en wanneer sy vyand die leër vernietig het, sal sy binneste opgelig word en hy sal baie neerslaan, maar nie staande bly nie, 13want die koning van die noorde sal weer terugkeer en ’n leër twee keer so groot as die vorige op die been bring en sal ná ’n sekere aantal jare kom met ’n groot leër en met ’n groot ruitermag.

14In daardie tyd sal baie teen die koning van die noorde opstaan; ook die gewelddadige mense van jou volk sal hulle oplig om die visioen te vervul, maar hulle sal oorwin word. 15Die koning van die noorde sal kom en walle opgooi en die mees versterkte stede inneem en die wapens van die suide sal nie weerstaan nie omdat hulle geen krag het om te weerstaan nie en die gekose manne van die volk sal opstaan, maar hulle kan nie weerstand bied nie, want hulle het geen krag om te weerstaan nie. 16Hy wat teen hom kom, sal egter maak soos hy wil en niemand sal teen hom staande bly nie en hy sal die land van Yisra’el inval en dit sal in sy hande oorgegee word, 17dan sal hy sy gesig daarop rig om die versterkte stede van al die koninkryke in te val en al die mense wat by hom is, sal vorentoe gaan, maar ’n dogter van die mens sal aan hom gegee word sodat sy hom kan vernietig, maar dit sal nie slaag nie en hy sal haar ook nie vir homself vat nie. 18Daarna sal hy sy gesig draai na die eilande en baie daarvan verower en wegdoen met ’n heerser wat hom verag het en sy veragting laat terugkeer op homself. 19Dan sal hy sy gesig draai na die vestings van die aarde, maar hy sal oorwin word en val en nie meer gevind word nie,

20dan sal ’n swak heerser in sy plek opstaan en ’n afhanklike van die koninkryke, maar binne ’n kort tydjie sal hy vernietig word, maar nie deur woede of deur oorlog nie. 21In sy plek sal ’n veragtelike persoon opstaan voor wie hulle nie die koninklike eer sal lê nie, maar hy sal skielik kom en deur bedrog die koninkryk gryp 22en die versterkte stede in die provinsies sal geplunder word en selfs die leierpriesters van die verbond voor hom uit verstrooi 23en sommige wat ’n bondgenootskap met hom sal aangaan, sal bedrieglik teen hom werk 24en tog sal hy sterk word en hom verenig met kleinere mensies en met die ryk stede en hy sal doen wat sy vaders en sy vaders se vaders nie gedoen het nie: hy sal roof en buit en rykdom wegdra, ja en planne teen hulle provinsies maak. 25Vir ’n tyd sal hy sy krag en sy moed opwek teen die koning van die suide met ’n groot en magtige leër en die koning van die suide sal uitgetart word in geveg met ’n groot leër en hy sal baie sterk word, maar hy sal nie staande bly nie, want hulle sal planne teen hom beraam. 26Ja, hulle wat sy lekkernye eet sal hom vernietig en sy leër verstrooi en baie sal dood neerval 27en albei daardie konings se verstand, wil en emosie sal gedraai word om kwaad te doen en aan een tafel sal hulle leuens praat, maar hulle sal nie voorspoedig wees nie, want die einde sal op die vasgestelde tyd kom, 28dan sal hy na sy eie land teruggaan met ’n groot leër en sy verstand, wil en emosie sal teen die afgesonderde verbond wees

29en hy sal doen soos die vorige keer, net so in die latere tyd.

30Skepe van Kittim sal teen hom kom en hom oorwin en hy sal terugkom en verontwaardig wees teen die afgesonderde verbond; hy sal ’n verstandhouding hê met hulle wat die afgesonderde verbond verlaat het 31en hulle leërs sal opstaan vanuit hulleself en hulle sal die magtige Afgesonderde Plek onrein maak en wegdoen met die daaglikse offers en die verwerplike afgode opstel. 32Hulle wat boos handel teen die verbond sal hy afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal onveranderlik sterk wees. 33Die regverdiges onder die mense sal baie onderrig; tog sal hulle val deur die swaard en die vuur, deur gevangeskap en berowing, ’n duisend dae lank. 34Wanneer hulle val, sal hulle ’n klein bietjie hulp ontvang, maar baie ander teëspoed sal by hulle bygevoeg word deur misleiding. 35Sommige van die wyse manne sal val, om hulle te toets en te onderskei, selfs tot die einde toe, want daar is ’n lang tyd voordat die vasgestelde tyd aanbreek.

36Die koning sal doen net wat hy wil en hy sal homself oplig en groot maak bo elke afgod en sal groot verwerplikhede teen die God van die gode praat en sal voorspoedig wees totdat die woede sy doel bereik, want dit wat vas besluit is, sal uitgevoer word. 37Hy sal ook nie die gode van sy vaders of die begeerte na vroue of enige god ag nie, want hy sal homself bo alle dinge verhoog, 38maar in plaas daarvan sal hy die god van oorheersing vereer en ’n god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud, silwer, kosbare gesteentes en aangename dinge vereer. 39Hy sal die sterk provinsies binneval, vegtend met vreemde gode dat hy die oorwinning kan behaal en oor baie mense heers; hy sal die land verdeel en vir ’n prys verkoop.

40Ten tye van die einde sal die koning van die suide teen hom veg en die koning van die noorde sal teen hom aankom met strydwaens, perderuiters en baie skepe en hy sal die land inkom. 41Hy sal ook die land van Yisra’el bereik en baie mense sal doodgemaak word, maar hierdie volke sal uit sy hand bevry word: Edom Mo’av en die wat oorbly van die seuns van `Ammon. 42Hy sal ook sy hand uitsteek teen ander lande en die land van Mitzrayim sal nie ontsnap uit sy hande nie, 43maar hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Mitzrayim; Put (Libië) en Kush sal sy bondgenote wees, 44maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom pla; daarom sal hy met groot woede uitgaan om baie mense te vernietig en dood te maak. 45Hy sal sy koninklike tent opslaan tussen die see en die berg en die Afgesonderde Plek beskerm, maar die tyd van sy einde sal kom en niemand sal hom help nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Daniel 10
Top of Page
Top of Page