Amos 8
Afrikaans PWL
1Dít het יהוה-God vir my gewys en let op: ’n mandjie met somervrugte. 2Hy het gesê: “Wat sien jy, `Amos?” Ek het geantwoord: “’n Mandjie somervrugte.” Toe sê יהוה vir my: “Die einde het vir My volk Yisra’el gekom. Ek sal hulle nie langer spaar nie. 3Die liedere van die paleis sal in daardie dag verander tot ’n weeklaag,” verklaar יהוה-God. “Die lyke sal baie wees; hulle sal hulle in stilte op elke plek gooi.”

4Luister en gee ag hierop, julle wat die behoeftige vertrap om weg te doen met die nederiges van die land

5en sê: “Wanneer is die Nuwemaan verby sodat ons koring mag verkoop en die Shabbat sodat ons die graanskuur kan oopmaak, om die efa kleiner en die sikkel groter te maak en te bedrieg met oneerlike skale;

6dat ons aan die armes vir silwer kan verkoop en die behoeftige betaal met die afval van die koring en die afval wat op die vloer van die stoorkamer oorbly, verkoop?”

7יהוה het gesweer by die trots van Ya’akov: “Inderdaad, Ek sal nooit enige van hulle dade vergeet nie.

8Sal die aarde nie hieroor skud en elkeen wat daarin bly, nie treur nie? Inderdaad, dit sal alles oprys soos die Nyl en dit sal rondgegooi word en wegsak soos die Nyl van Mitzrayim.

9Dit sal gebeur in daardie dag,” verklaar יהוה-God, “dat Ek die son twaalf uur die middag (die sesde uur) sal laat ondergaan en die aarde donker maak helder oordag,

10dan sal Ek julle feeste verander in rou en al julle liedere in klaagliedere en Ek sal ’n roukleed om elkeen se heupe sit en elke kop bles maak. Ek sal dit maak soos by die rou oor ’n heeltemal enigste seun en die einde daarvan sal soos ’n bitter dag wees.

11Let op, daar kom dae,” verklaar יהוה-God, “wanneer Ek ’n hongersnood oor die land sal stuur, nie ’n honger na brood of ’n dors na water nie, maar eerder om die boodskap van יהוה te hoor en te doen.

12Mense sal steier van see tot see en van die noorde na die ooste; hulle sal heen en weer gaan om die boodskap van יהוה te soek, maar hulle sal dit nie vind nie.

13In daardie dag sal die mooi maagde en die jongmanne van dors beswyk.

14Dié wat sweer by die skuld van Shomron en sê: ‘So waar as jou god leef, o Dan, so waar as die pad van Be’er-Sh’va leef,’ hulle sal val en nie weer opstaan nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Amos 7
Top of Page
Top of Page