Handelinge 2
Afrikaans PWL
1Toe die dae tot by die Fees van weke (Shavu’ot) voltooid was, was hulle almal as een bymekaar 2en daar kom skielik uit die hemel ’n klank soos van ’n magtige stormwind en dit het die hele huis, waarin hulle gesit het, gevul. 3Daar verskyn aan hulle tonge soos van vuur, wat self verdeel en op elkeen van hulle gaan sit 4en hulle is almal volgemaak met die Gees van Afsondering en het begin praat in verskillende tale, soos die Gees aan hulle gegee het om te praat.

5Daar het ook in Yerushalayim manne gebly wat God respekvol gevrees het, Jode uit elke nasie wat onder die hemel is. 6Toe daardie stemme kom, het ’n groot skare mense saamgedrom en was verward, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal praat. 7Hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: “Let op, is almal wat daar praat, dan nie van die Galil nie 8en hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie geboortetaal?” 9(Parthiane, Mede, `Eilamiete (Perse), die inwoners van `Aram Naharayim, Y’hudah, Kappadokia en van die streke van Pontos en Asië, 10van die streke van Frugia, Pamfulia, Mitzrayim en van die streke van Libue wat naby Kurene is en hulle wat gekom het van Rome, Jode sowel as proseliete, 11vanaf Krete en Arabiere.) “Let op, ons hoor hulle in ons eie tale oor die groot dade van God praat!” 12Hulle was almal verbaas en verward en sê die een vir die ander: “Wat is hierdie gebeurtenis?” 13Ander het met hulle gespot en gesê: “Hulle het nuwe wyn gedrink en is dronk.”

14Na dit het Shim’on Kefa opgestaan, saam met die elf afgevaardigdes en sy stem verhef en vir hulle gesê: “Joodse manne en almal wat in Yerushalayim bly, verstaan wat dit beteken! Luister na my woorde, 15want hulle is nie dronk soos julle aanneem nie omdat dit maar die derde uur (negeuur in die oggend) is, maar let op, 16hiérdie is wat deur die profeet Yo’el gesê is:

17‘Dit sal gedoen word in die laaste dae, sê God: Ek sal My Gees uitstort op alle mense en julle seuns en julle dogters sal profeteer en julle jongmense sal visioene sien en julle oumense sal drome droom

18en ook op My slawe en slavinne sal Ek in dié dae van My Gees uitstort en hulle sal profeteer.

19Ek sal tekens bo in die hemel gee en wondertekens onder op die aarde: bloed, vuur en rookwolke.

20Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en ontsagwekkende dag van יהוה kom

21en dit sal wees dat elkeen wat die Outoriteit en Karakter van יהוה aanroep, sal lewe.’

22Manne van Yisra’el, luister na hierdie boodskap! Yeshua, van Natzeret, die Man wat vanaf God aan julle verskyn het met magtige dade, tekens en wonderwerke, wat God, soos julle self weet, deur Sy hand onder julle gedoen het; 23hierdie Een, wat in die voorkennis en wil van God, hiérvoor tot Hom afgesonder was, wat julle oorgelewer het in die hande van die wetteloses, Hom gekruisig en vermoor het, 24maar deur God opgewek is en die bande van Sh’ol vernietig het omdat dit nie moontlik was om Hom in Sh’ol gevange te hou nie,

25want Dawid sê aangaande Hom: ‘Ek stel יהוה voortdurend voor my omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie geskud word nie;

26daarom is my verstand, wil en emosie bly en my lof en eer juig; my vlees sal ook in veiligheid bly,

27want U sal nie my lewe aan Sh’ol oorgee nie en ook nie U Afgesonderde Een verderwing laat smaak nie.

28U sal aan my die pad van die lewe bekendmaak; in U Teenwoordigheid is daar volheid van vreugde, in U regterhand is daar plesier vir ewig.’

29Broers, ek kan openlik met julle praat oor die stamvader Dawid, dat hy dood is en ook begrawe is en sy graf is by ons tot vandag toe 30omdat hy ’n profeet Neg 12:36 was en geweet het dat God vir hom met ’n eed gesweer het: ‘Een uit die vrug van jou liggaam sal Ek op jou troon laat sit,’ 31het hy, deur dit vooruit te sien, gepraat van die opstanding van Die Gesalfde Een en dat Hy nie in Sh’ol gelos sal word nie en Sy liggaam ook nie verderwing sal sien nie; 32hierdie Yeshua is deur God opgewek, waarvan ons almal getuies is. 33Hy is tot by die regterhand van God verhoog en het van die Vader ’n belofte aangaande die Gees van Afsondering ontvang en dít uitgestort, wat julle nou hier sien en hoor,

34want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: ‘יהוה het vir my Meester gesê: Sit aan My regterhand

35totdat Ek U vyande gemaak het ’n voetstoel vir U voete.’ 36Laat die hele huis van Yisra’el daarom waarlik weet dat God daardie Yeshua, vir Wie julle gekruisig het, יהוה en Die Gesalfde Een gemaak het.”

37Toe hulle hierdie dinge hoor, is hulle verstand, wil en emosie diep getref en hulle het vir Shim’on en die ander afgevaardigdes gesê: “Wat moet ons doen, broers?” 38Shim’on sê vir hulle: “Draai weg van julle sondes na God toe en laat elkeen van julle gedoop word in die Outoriteit en Karakter van יהוה-Yeshua, tot bevryding van sondes sodat julle die geskenk van die Gees van Afsondering kan ontvang, 39want die belofte was vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, die wat God sal roep.” 40Met baie ander boodskappe het hy teenoor hulle getuig en hulle uitgenooi en gesê: “Word gered uit hierdie verdraaide geslag.” 41Dié mense onder hulle wat sy boodskap gewilliglik aanvaar het en vertrou het, is gedoop en daar is op dié dag omtrent drie duisend lewens bygevoeg.

42Hulle het aangehou in die leer van die afgevaardigdes en is deelgenote gemaak in gebed en in die breking van die brood, as Liggaam.

43Vrees en respek het op elkeen gekom en baie tekens en wonderwerke het deur die hand van die afgevaardigdes gebeur in Yerushalayim. 44Almal wat vertrou het, was soos een en het alles gemeenskaplik besit 45en die wat besittings gehad het, het dit verkoop en onder almal verdeel, volgens wat nodig was. 46Voortdurend, dag vir dag, het hulle een van gees, ernstig aangehou in die tempel, van huis tot huis brood gebreek en hulle kos in vreugde ontvang en in eenvoudigheid van verstand, wil en emosie, geniet, 47terwyl hulle God prys soos hulle omgee ontvang by al die mense. Ons Meester het daagliks, die wat tot lewe gekom het, by die gemeente gevoeg.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 1
Top of Page
Top of Page