Handelinge 1
Afrikaans PWL
1Die eerste boek, O Theofilos, het ek geskryf oor alles wat Yeshua, Die Gesalfde Een, begin doen en leer het 2tot op die dag dat Hy na bo geneem is nadat Hy vir die afgevaardigdes, wat Hy deur die Gees van Afsondering gekies het, opdragte gegee het; 3hulle aan wie Hy, ná Sy lyding, Homself lewend gewys het deur baie bewyse terwyl Hy tydens veertig dae aan hulle verskyn en oor die Koninkryk van God gepraat het.

4Terwyl Hy saam met hulle brood geëet het, het Hy hulle beveel om nie van Yerushalayim af weg te gaan nie, maar om: “Te wag op die belofte van die Vader, wat julle van My gehoor het, 5want Yoganan het met water gedoop, maar julle sal, nie baie dae hierna nie, met die Gees van Afsondering gedoop word.”

6Toe hulle saam met Hom was, vra hulle vir Hom en sê: “Ons Meester, gaan U in hierdie tyd die koninkryk van Yisra’el herstel?” 7Hy antwoord hulle: “Dit is nie vir julle om die vasgestelde tye te ken wat die Vader deur Sy eie Outoriteit bepaal het nie, 8maar wanneer die Gees van Afsondering oor julle kom sal julle krag ontvang en julle sal My getuies wees in Yerushalayim en in die hele Y’hudah en ook in Shomron en tot by die grense van die aarde.”

9Nadat Hy hierdie dinge gesê het, het hulle gesien hoe Hy opgelig word in ’n wolk in en Hy was verberg vir hulle oë. 10Terwyl hulle nog na die hemel kyk waarheen Hy weggaan, staan daar twee mans in wit klere langs hulle, 11wat vir hulle sê: “Manne van die Galil, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Yeshua wat van julle af opgevat is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien weggaan het.”

12Na dit gaan hulle af van die berg af wat Beit-Tzeitha genoem word, wat omtrent drie kilometer vanaf Yerushalayim is, terug na Yerushalayim 13en toe hulle daar kom, gaan hulle na die bo-vertrek waar Kefa, Ya’akov, Yoganan, Andréas, Filippos en T’oma, Bar-Talmai en Mattityahu, Ya’akov, die seun van (Bar)-Halfai, Shim’on die Yweraar en Y’hudah, die seun van Ya’akov, gebly het. 14Hulle het almal as een volhard in gebed, in een gees saam met die vroue en met Miryam, die moeder van Yeshua en saam met Sy broers.

15In daardie dae het Kefa tussen die studentevolgelinge, (dié wat bymekaar was, was omtrent honderd en twintig manne), opgestaan en gesê: 16“Broers, dit was reg dat die Skrif vervul moes word wat die Gees van Afsondering vooruit deur die mond van Dawid gesê het aangaande Y’hudah; hy wat die gids was vir húlle wat Yeshua gevang het, 17want hy is saam met ons getal gereken en het ’n deel van hierdie dienswerk gekry. 18Dit is hy wat vir hom ’n stuk grond met die loon van sonde gekoop het en vooroor op die grond geval, oopgebars en al sy ingewande uitgeval het 19en dit het bekend geword aan al die inwoners van Yerushalayim sodat daardie stuk grond in die taal van die streek Gakal-D’ma genoem is, dit is ‘Bloedgrond,’

20want daar staan geskrywe in die boek van die Psalms: ‘Laat sy woonplek verlate wees en laat daar niemand in woon nie! en ’n ander een sal sy dienswerk oorvat.’

21Dit is daarom reg dat een vanuit die manne wat al die tyd, waarin ons Meester Yeshua by ons in en uitgegaan het, saam met ons was, 22van die doop van Yoganan af tot op die dag dat Hy van ons af opgeneem is, saam met ons getuie sal wees van Sy opstanding.” 23Hulle het twee voorgestel: Yosef, die seun van Sabba, wat genoem word Youstos en Mattityahu 24en toe hulle gebid het, het hulle gesê: “U, יהוה, weet wat is in die gedagtes, wil en emosie van almal, wys uit hierdie twee, die een aan wat U gekies het 25om deel aan hierdie dienswerk en die pos as afgevaardigde te kry, waarvan Y’hudah afgewyk het om na sy eie plek te gaan.” 26Hulle het die lot gegooi en die lot het op Mattityahu geval en hy is gekies om afgevaardigde, saam met die elf, te wees.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 21
Top of Page
Top of Page