Handelinge 16
Afrikaans PWL
1Hy het ook in Derbe en Lustra gekom waar ’n studentevolgeling met die naam van Timotheos was, die seun van ’n Joodse vrou, wat vertrou het en sy vader was ’n Arameër. 2Al die studentevolgelinge vanaf Lustra en Ikonion het van hom getuig. 3Sha’ul wou hê dat hy saam met hom moes gaan en hy het hom gevat en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was, want hulle het almal geweet dat sy vader ’n Arameër was. 4Op hulle reis deur die stede het hulle die boodskap verkondig en geleer dat hulle die opdragte wat deur die afgevaardigdes en die oudstes in Yerushalayim vasgestel is, moet gehoorsaam. 5Hierdeur is die gemeentes versterk in vertroue en hulle het elke dag vermeerder in getal.

6Hulle het deur die streke van Frugia en Galatikos gegaan en die Gees van Afsondering het hulle verbied om in Asië die boodskap te verkondig. 7Toe hulle by Musia kom, wou hulle na Bithunia gaan, maar die Gees van Yeshua het hulle nie toegelaat nie. 8Toe hulle van Musia af weggaan, het hulle na die Troas-streek afgegaan. 9Deur ’n visioen in die nag het daar ’n Makedoniër by Sha’ul gestaan wat hom smeek en sê: “Kom na Makedonia en help ons!” 10Toe Sha’ul die visioen gesien het, het ons dadelik beplan om na Makedonia te gaan omdat ons oortuig was dat ons Meester ons geroep het om die goeie boodskap aan hulle te verkondig.

11Ons het vertrek vanaf Troas reguit na Samothrake en die volgende dag by Neapolis gekom 12en daarvandaan na Filippi, wat die belangrikste stad van daardie deel van Makedonia, ’n Romeinse kolonie, was. Ons het in hierdie stad ’n paar dae deurgebring 13en op die Shabbat het ons uitgegaan, buitekant die stad, langs ’n rivier, na waar ons ’n huis van gebed gesien het en ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het.

14’n Sekere vrou met die naam van Ludia, ’n verkoopster van fyn purper van die stad Thuateira, ’n vrou wat God aanbid, het geluister; die Meester het haar verstand, wil en emosie oopgemaak om te reageer op wat Sha’ul gesê het. 15Nadat sy en die kinders van haar huis gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As u oortuig is daarvan dat ek in ons Meester vertrou, kom dan in my huis en bly daar.” Sy het ernstig by ons aangedring.

16Terwyl ons op pad was na die huis van gebed, ontmoet ons ’n sekere slavin, met die Piton-gees (luislang), wat die toekoms kon voorspel, wat vir haar eienaars groot wins ingebring het deur waarsêery. 17Sy het Sha’ul en ons gevolg en uitgeskree en gesê: “Hierdie manne is slawe van Ha-Elyon, (die Allerhoogste God) en hulle verkondig aan julle die pad van lewe.” 18Dit het sy vir baie dae lank gedoen en Sha’ul het kwaad geword, hom omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die (Naam) Outoriteit en Karakter van Yeshua, Die Gesalfde Een, om uit haar uit te gaan.” Hy het op daardie oomblik uitgegaan.

19Toe haar meesters sien dat die hoop van hulle besigheid uit haar uitgaan, het hulle Sha’ul en Sila gegryp, hulle na die markplein gesleep 20en hulle voor die regters en hoofde van die stad gebring en gesê: “Hierdie manne bring groot moeilikheid in ons stad omdat hulle van Y’hudah is. 21Hulle verkondig gebruike wat vir ons nie wettig is om aan te neem of te doen nie omdat ons Romeine is.

22’n Groot skare het teen hulle bymekaargekom en die regters het hulle klere laat afskeur en beveel om hulle te gésel. 23Nadat hulle hul baie houe gegee het, het hulle hul in die tronk gegooi en die tronkbewaarder beveel om hulle veilig te bewaak. 24Toe hy só ’n bevel ontvang, het hy hulle in die binneste tronksel gegooi en hulle voete in die houtblok vasgemaak.

25In die middel van die nag was Sha’ul en Sila besig om te bid en tot God te sing en die gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondasies van die tronk geskud het en onmiddellik het al die deure oopgegaan en almal se boeie het losgeval. 27Toe die tronkbewaarder wakker word en hy sien dat die deure van die tronk oop is, het hy ’n swaard gevat en wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het, 28maar Sha’ul het met ’n harde stem geroep en gesê: “Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.” 29Hy het ’n lamp aangesteek, na binne gespring en bewend voor Sha’ul en Sila neergeval 30en hy het hulle na buite gebring en gesê: “My meesters, wat moet ek doen sodat ek kan lewe?”

31Hulle sê vir hom: “Vertrou in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een en jy sal lewe, jy en jou huisgesin.” 32Hulle het aan hom die boodskap van יהוה verkondig en aan al die lede van sy huis. 33Daardie tyd van die nag het hy hulle gevat en hulle wonde gewas en hy is dadelik gedoop, hy en al die lede van sy huis. 34Toe bring hy hulle in sy huis en sit vir hulle kos voor en hy het gespring van vreugde, saam met sy hele huisgesin omdat hulle tot vertroue in God gekom het.

35Toe dit dag word, stuur die regters die polisie en sê: “Laat daardie manne los.” 36Die tronkbewaarder het die boodskap aan Sha’ul oorgedra: “Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou weg en reis in vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid!” 37Sha’ul sê vir hom: “Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, ons in die tronk gegooi en wil hulle ons nou in die geheim uitstuur? Nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.” 38Die polisie het hierdie woorde aan die regters oorgedra en dié het bang geword toe hulle hoor dat hulle Romeine is. 39Daarop het hulle gekom en hulle uitgelei met die versoek om uit die stad uit weg te gaan. 40Nadat hulle die tronk verlaat het, het hulle na die huis van Ludia gegaan en hulle het die broers gesien, hulle versterk en weggegaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 15
Top of Page
Top of Page