Handelinge 13
Afrikaans PWL
1Daar was in die plaaslike gemeente in Antiogeia sekere profete en leraars, naamlik Bar-Nabba, Shim’on (wat Swart genoem word), Loukios (van Kurene), Menagem (seun van hulle wat Herodes, die heerser oor vier streke, grootgemaak het) en Sha’ul. 2Terwyl hulle besig was om God te aanbid en te vas, het die Gees van Afsondering vir hulle gesê: “Sonder Bar-Nabba en Sha’ul vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.” 3Nadat hulle gevas, gebid en hulle die hande opgelê het, het hulle hul uitgestuur.

4Hulle het, nadat hulle deur die Gees van Afsondering uitgestuur is, afgegaan na Seleukeia en daarvandaan op die see gevaar na Kupros. 5Toe hulle in Salamis gekom het, het hulle die boodskap van ons Meester in die bymekaarkomplekke van die Jode verkondig en Yoganan het hulle bedien. 6Hulle het die eiland deurkruis tot by Pafos en ’n towenaar gevind, ’n valse profeet, ’n Jood met die naam van Bar-Y’hoshua. (Ar. Bar-Shuma). 7Hy was by die goewerneur Sergios Paulos, ’n verstandige man. Dié het Bar-Nabba en Sha’ul laat roep en het begeer om die boodskap van God te hoor, 8maar hierdie towenaar, Bar-Shuma, wie se naam vertaal word as Elumas (Gr.), het hulle teëgestaan, want hy wou die goewerneur wegdraai van die geloof. 9Sha’ul, wat ook Paulos genoem is, vol van die Gees van Afsondering, het stip na hom gekyk 10en gesê: “O, een vol van alle misleiding en alle boosheid, seun van die teëstander en vyand van alle onpartydige opregtheid, sal jy nie ophou om die reguit paaie van יהוהte verdraai nie? 11Die hand van יהוה is nou op jou en jy sal blind wees en die son vir ’n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het daar donkerte en duisternis op hom geval en hy het rondgeloop en gesoek na iemand wat hom aan die hand kon lei. 12Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verstom en het vertrou in die leer van יהוה,

13maar Sha’ul en Bar-Nabba het weggevaar van Pafos en by Perge in Pamfulia gekom. Yoganan Markos het hulle verlaat en na Yerushalayim teruggegaan, 14maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiogeia in Pisidia gekom en hulle het op die Shabbat in die bymekaarkomplek ingegaan en gaan sit. 15Ná die lees van die wet en die profete het die oudstes van die bymekaarkomplek na hulle gestuur en gesê: “Broers, as julle ’n boodskap van ondersteuning het, praat met die mense!” 16Toe staan Sha’ul op, wink met die hand en sê: “Manne van Yisra’el en julle wat God aanbid, luister! 17Die God van hierdie mense het ons vaders gekies en die mense opgelig en vermeerder toe hulle vreemdelinge in Mitzrayim was en hulle met ’n verhewe arm daar uitgelei. 18Hy het hulle veertig jaar in die wildernis versorg 19en Hy het sewe nasies in die land Kena’an uitgewis en hulle land aan hulle gegee as erfenis. 20Vir vier honderd en vyftig jaar lank het Hy vir hulle regters gegee tot by Sh’mu’el, die profeet. 21Hierna het hulle gevra vir ’n koning en God het vir hulle Sha’ul, die seun van Kish, ’n man uit die stam van Binyamin, vir veertig jaar lank gegee. 22Hy het hom verwyder en Hy het Dawid vir hulle opgelig as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: “Ek het Dawid, die seun van Yishai, ’n man na My gedagtes en wil gevind, wat My begeertes sal doen. 23Uit die nageslag van hierdie man het God, volgens die belofte, Yeshua as Verlosser laat opstaan vir Yisra’el. 24Hy het Yoganan gestuur om, voor Sy koms, die doop van berou oor sonde en omdraai na God aan al die mense van Yisra’el te verkondig 25en toe Yoganan aan die einde van sy bediening gekom het, het hy gesê: ‘Wie dink julle is ek? Ek is dit nie, maar kyk, Hy kom ná my, Wie se sandaalbande ek nie waardig is om los te maak nie.’

26Broers, kinders van die geslag van Avraham en dié wat God saam met julle aanbid; vir julle is hierdie Boodskap van lewe gestuur, 27want die inwoners van Yerushalayim en hulle leiers het Hom nie herken nie en ook nie die skrifte van die profete wat elke Shabbat gelees word nie, maar hulle het Hom veroordeel en so dit wat geskryf is vervul. 28Alhoewel hulle niks gekry het wat die dood verdien nie, het hulle van Pilatos gevra dat Hy doodgemaak moes word. 29Toe hulle alles vervul het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in ’n graf gesit, 30maar God het Hom uit die graf uit laat opstaan 31en gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het vanaf die Galil na Yerushalayim en hulle is nou Sy getuies by die mense. 32Ons bring ook vir julle die goeie boodskap: dat die belofte wat aan ons vaders gedoen is, 33let op, deur God aan ons, hulle kinders, vervul is, deur Yeshua te laat opstaan, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: ‘U is My Seun, vandag het Ek U voortgebring.’ 34So het God Hom laat opstaan uit die graf sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie; soos dit sê: ‘Ek sal aan julle gee die onverdiende guns van die getroue Dawid.’ 35Weer sê Hy op ’n ander plek: ‘U sal U Reine nie gee om verderwing te sien nie,’ 36want nadat Dawid sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, is hy dood en is hy by sy vaders weggelê en het verderwing gesien, 37maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie; 38daarom moet julle weet, broers, dat deur hierdie Man, die bevryding van sondes aan julle verkondig word 39en dat elkeen wat vertrou, deur Hom onskuldig verklaar word van alles waarvan julle deur die wet van Moshe nie onskuldig verklaar kon word nie. 40Wees dan versigtig dat dit wat die profete gesê het nie oor julle kom nie:

41‘Let op, julle bespotters en wees verwonderd en word vernietig, want Ek gaan iets in julle tyd doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie’.”

42Toe hulle van hul af weggaan, het hulle wat van ander nasies is hulle gevra dat hulle die volgende Shabbat hierdie boodskap by hulle sou bring. 43Toe die bymekaarkoms verby was, het baie van die Jode en vreemdelinge, wat aanbidders van God was, saam met Sha’ul en Bar-Nabba gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle oortuig om in die onverdiende guns van God te bly.

44Die volgende Shabbat het die hele stad saamgekom om die boodskap van God te hoor, 45maar toe die Jode die skare mense sien, is hulle met woede vervul en het met bose woorde weerspreek wat deur Sha’ul gesê is. 46Sha’ul en Bar-Nabba het reguit, openlik, gepraat en gesê: “Dit was noodsaaklik dat die boodskap van God eerste aan julle verkondig moes word, maar julle het dit verwerp en teen julleself besluit dat julle nie die ewige lewe werd is nie. Let op, ons draai na die ander nasies toe,

47want so het ons Meester ons beveel, soos dit geskryf is: ‘Ek het U ’n Lig vir die nasies gemaak, om tot lewe te wees tot aan die eindes van die aarde’.”

48Toe dié van ander nasies dit hoor, was hulle verheug en hulle het God geloof, geëer en aanbid en almal wat gevestig was tot die ewige lewe, het vertrou. 49Die boodskap van יהוה is deur die hele streek versprei, 50maar die Jode het die belangrike manne en die gesiene godsdienstige vroue van die stad opgesweep en teen Sha’ul en Bar-Nabba ’n vervolging begin en hulle uit hul gebied verdryf. 51Toe hulle weggaan, het hulle die stof van hulle voete teen hulle afgeskud en na Ikónion gegaan. 52Die studentevolgelinge is vervul met blydskap en met die Gees van Afsondering.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 12
Top of Page
Top of Page