Handelinge 12
Afrikaans PWL
1In daardie tyd het koning Herodes, wat die bynaam Agrippus gehad het, sy hande aan mense uit die gemeente geslaan om hulle kwaad aan te doen. 2Hy het Ya’akov, die broer van Yoganan, met die swaard vermoor 3en toe hy sien dat dit die Jode tevrede stel, het hy verder ook vir Shim’on Kefa gevang, maar dit was die ‘Dae van Ongesuurde Brood’. 4Hy het hom gearresteer en hom in die tronk gesit en oorgegee aan sestien soldate, om wag te hou oor hom, om hom ná die Pesagfees aan die mense van Y’hudah oor te lewer.

5Terwyl Shim’on in die tronk bewaak is, het die gemeente sonder ophou tot God vir hom gebid.

6Die nag, voor sonsopkoms, voordat Herodes hom wou oorgee, het Shim’on tussen twee soldate geslaap, met twee kettings vasgemaak en ander het voor die deur wag gestaan. 7Daar staan ’n engel van יהוה by hom en ’n lig skyn in die hele plek en hy stamp hom in die sy, maak hom wakker en sê: “Staan vinnig op.” Die kettings het van sy hande afgeval. 8Die engel sê vir hom: “Bind jou gordel vas en trek jou sandale aan!” Hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: “Gooi jou bo-kleed om en volg my!” 9Hy het uitgegaan en hom gevolg, maar hy het nie geweet dat wat deur die engel gebeur het, regtig was nie, maar hy het gedink dat hy ’n visioen sien. 10Toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterhek en dit het vanself vir hulle oopgegaan. Hulle het buitekant gekom, een straat ver gegaan en skielik het die engel van hom af weggegaan. 11Toe besef Shim’on en sê: “Nou weet ek in waarheid dat יהוה Sy engel gestuur en my gered het uit die hand van koning Herodes en uit dit wat die manne van Y’hudah teen my beplan het.” 12Terwyl hy dit oordink, kom hy by die huis van Miryam, die moeder van Yoganan, wat ook Markos genoem word, waar baie in gebed bymekaar was. 13Hy het aan die buitedeur geklop; ’n diensmeisie met die naam van Rhode het gegaan om dit te antwoord 14en sy het die stem van Shim’on herken en in haar blydskap nie die deur oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en aangekondig dat Shim’on voor die deur staan. 15Hulle sê egter vir haar: “Jy is deurmekaar,” maar sy het volhard dat dit so is. Daarop sê hulle: “Miskien is dit sy engel.” 16Shim’on het aangehou met klop en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verwonderd teenoor mekaar. 17Hy het vir hulle met die hand gewys om stil te bly en ingekom en aan hulle vertel hoe יהוה hom uit die tronk uitgebring het en hy sê: “Vertel dit aan Ya’akov en die broers.” Hy het uitgegaan na ’n ander plek toe.

18Toe dit oggend was, was daar ’n groot oproer onder die soldate oor wat van Shim’on geword het! 19Toe Herodes hom gesoek en nie gekry het nie, het hy die wagte veroordeel, beveel dat hulle doodgemaak moes word en hy het van Y’hudah na Kaisareia gegaan en daar gebly.

20Omdat hy in vyandskap was met die mense van Tzor en Tzidon, het hulle saamgespan en na hom toe gekom en nadat hulle Blastos, die koning se hofdienaar, omgepraat het, vrede gevra omdat hulle land voorsiening uit die koning s’n ontvang het. 21Op ’n bepaalde dag het Herodes ’n koninklike kleed aangetrek en op die regstroon gaan sit en met die skare gepraat, 22maar al die mense het uitgeroep en gesê: “’n Stem van ’n god en nie van ’n mens nie!” 23Omdat hy nie die eer, lof en aanbidding aan God gegee het nie, het ’n engel van יהוהhom onmiddellik geslaan en hy is deur wurms opgeëet en is dood,

24maar die goeie boodskap van God is verkondig en het gegroei.

25Bar-Nabba en Sha’ul het vanaf Yerushalayim teruggekeer na Antiogeia nadat hulle hul dienswerk voltooi het en hulle het Yoganan saamgevat, wat ook Markos genoem word.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 11
Top of Page
Top of Page