2 Timotheus 1
Afrikaans PWL
1Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, deur die wil van God en deur die belofte van Lewe, wat in Yeshua, Die Gesalfde Een, is.

2Aan Timotheos, my kind, vir wie ek lief is: onverdiende guns, liefde, vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vanaf God-die-Vader en vanaf ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een!

3Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ’n skoon gewete aanbid. Nag en dag onthou ek jou, onophoudelik, in my gebede 4en ek begeer om jou te sien as ek aan jou trane dink sodat ek vol blydskap kan wees. 5Ek word herinner aan die opregte vertroue wat in jou is, wat eers in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunike was en wat ek oortuig is, ook in jou is.

6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die gawe van God op te wek wat, deur die oplegging van hande, in jou is, 7want God het ons nie ’n Gees van vrees gegee nie, maar van krag, liefde en dissipline.

8Skaam jou daarom nie oor die getuienis van ons Meester en ook nie oor my, sy gevangene nie, maar raak slaags met die bose, deur die krag van God; 9Hy wat vir ons Lewe gegee het en ons geroep het met ’n afgesonderde roeping, nie volgens ons dade nie, maar volgens Sy wil en die onverdiende guns wat van voor die tyd van die wêreld af, in eenheid met Yeshua, Die Gesalfde Een, aan ons gegee is 10en wat nou openbaar is deur die openbaring van ons Lewegewer, Yeshua, Die Gesalfde Een, wat die dood waardeloos gemaak het en die Lewe en die onvernietigbaarheid gewys het deur die goeie boodskap; 11Hy deur Wie ek aangestel is as verkondiger, afgevaardigde en leermeester van die ander nasies. 12Om hierdie rede verduur ek ook hierdie dinge en skaam ek my nie, want ek weet in Wie ek vertrou en ek is oortuig dat Hy in staat is om my vertroue te bewaar tot daardie dag toe.

13Hou, as bloudruk van opregte boodskappe, dié wat jy van my gehoor het in die vertroue en liefde wat in Die Gesalfde Een, Yeshua is. 14Behou jou goeie vertroue deur die Gees van Afsondering, wat in ons woon.

15Jy weet dat, almal wat in Asië is, hulle van my af weggedraai het, onder wie Foegellos en Hermogenes. 16Mag die Meester Sy omgee wys vir die huis van Onesiforos, want hy het my gereeld verkwik en hom nie oor my kettings geskaam nie, 17maar ook toe hy na Rome gekom het, het hy my baie ywerig gesoek en gevind. 18Mag ons Meester vir hom gee dat hy omgee sal vind by ons Meester in dié dag! Jy weet spesifiek ook hoeveel hy my bedien het in Efesos.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Timothy 6
Top of Page
Top of Page