2 Thessalonisense 1
Afrikaans PWL
1Van Sha’ul, Sila en Timotheos aan die gemeente van die Thessalonisense wat in eenheid met God-ons-Vader en ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een is: 2onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God-ons-Vader en ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een!

3Ons is dit verskuldig om God elke keer aangaande julle te dank, my broers, soos wat nodig is omdat julle vertroue al hoe meer groei en julle almal se liefde, elkeen teenoor mekaar, groter word, 4vanweë jul vertroue en volharding, te midde van al julle vervolginge en die lyding wat julle deurgaan, waaroor ons self oor julle roem in die gemeentes van God,

5as ’n demonstrasie van die regverdige oordeel van God: dat julle die Koninkryk van God, waarvoor julle ook ly, waardig mag wees 6en as dit reg is in die oë van God, sal Hy dié wat julle lyding gee, met lyding beloon 7en julle wat lyding ontvang, saam met ons, sal lewe ontvang deur die openbaring van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, vanuit die hemel met die leermag van Sy engele, 8wanneer Hy in ’n brandende vuur, vergelding uitvoer op hulle wat God nie ken nie en op hulle wat die goeie boodskap van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een nie erken het nie; 9hulle sal met die oordeel van ’n ewige vernietiging, weg van die gesig van die Meester en van Sy kragtige Gemanifesteerde Teenwoordigheid af, gestraf word 10op daardie dag wanneer Hy kom om eer, lof en aanbidding te ontvang van Sy afgesonderdes en Sy wonders, in hulle wat Hom vertrou, te wys, want julle het ons getuienis teenoor julle vertrou. 11As gevolg hiervan bid ons ook elke keer vir julle dat God julle waardig mag ag aan julle roeping en dat Hy julle volledig maak in die plesier van goedheid en die dade van vertroue in wonderwerkende krag 12sodat die Karakter en Outoriteit van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, volgens die onverdiende guns van ons God en ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, in julle vereer en geloof kan word en júlle in Hom.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Thessalonians 5
Top of Page
Top of Page