1 Thessalonisense 5
Afrikaans PWL
1Aangaande die tye en seisoene, my broers, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie, 2want julle weet self goed dat die dag van יהוה kom net soos ’n dief in die nag. 3Wanneer hulle sal sê: “Daar is vrede en stilte,” dan sal ’n onverwagte vernietiging op hulle afkom soos geboortepyne op ’n swanger vrou en hulle sal nie ontsnap nie, 4maar julle, broers, is nie in die duister nie sodat dié dag julle nie soos ’n dief sou oorval nie. 5Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag en julle is nie kinders van die nag en ook nie kinders van die duisternis nie. 6Laat ons daarom nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waaksaam en nugter wees, 7want die wat slaap, slaap in die nag en die wat dronk is, is in die nag dronk, 8maar ons wat van die kinders van die dag is, laat ons waaksaam in ons gedagtes wees; trek voortdurend die borsplaat van vertroue en liefde aan en die helm van die versekerde verwagting van lewe, 9want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die lewe te verkry in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een; 10Hy wat in ons plek gesterf het sodat ons, of ons lewe en of ons doodgaan, in eenheid met Hom kan lewe. 11As gevolg hiervan, versterk en vertroos mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.

12Ons smeek julle broers, erken díe onder julle wat hard werk, julle voorgangers in ons Meester is en julle leer 13en beskou hulle, wat onder julle werk, in groter liefde, met die hoogste agting. Leef in vrede met hulle, 14maar ons smeek julle, broers, korrigeer dié wat verkeerd doen, moedig die wat swak van gees is aan, dra die laste van die swakkes en wees geduldig teenoor almal. 15Pas op dat niemand aan ’n ander boosheid terugbetaal vir boosheid nie, maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar asook teenoor almal. 16Verbly julle altyd. 17Bid sonder ophou. 18Gee dank in alles, want dit is die wil van God, in eenheid met Yeshua, Die Gesalfde Een, in julle. 19Blus die Gees nie uit nie. 20Verwerp nie profesieë nie. 21Ondersoek alle dinge en hou vas wat uitstekend is. 22Vlug weg van elke ding wat boos is

23en Hy, die God van vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, sal julle almal volkome afsonder en julle volkome, (gees, verstand, wil, emosie en liggaam) geheel en al foutloos beskerm tot by die koms van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een! 24Hy wat julle geroep het, is vertrouenswaardig; dit is Hy wat dit sal doen.

25My broers, bid vir ons.

26Groet al ons broers met ’n afgesonderde soen. 27Ek bind julle deur ’n belofte in ons Meester dat hierdie brief aan al die afgesonderde broers gelees sal word.

28Die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een bly by julle! Dit is waar.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Thessalonians 4
Top of Page
Top of Page