2 Samuel 7
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur dat, terwyl die koning in sy huis bly en יהוה hom rus gegee het van al sy vyande rondom hom 2die koning vir Natan, die profeet, sê: “Kyk nou, ék bly in ’n huis van sederhout, maar die ark van God bly in tentdoeke.” 3Natan het vir die koning gesê: “Gaan, doen alles wat in u gedagtes is, want יהוה is by u,”

4maar in dieselfde nag kom die boodskap van יהוה tot Natan en sê: 5“Gaan en sê aan My dienskneg Dawid: “So sê יהוה: ‘Is jy die een wat vir My ’n huis moet bou om in te woon? 6Ek het nie in ’n huis gebly van die dag af dat Ek die seuns van Yisra’el uit Mitzrayim gebring het tot vandag toe nie, maar Ek het rondgetrek in tente. 7Waar Ek ook al saam met al die seuns van Yisra’el rondgetrek het, het Ek ’n woord gepraat met een van hulle wat Ek aangestel het om My volk Yisra’el te voed en gesê: ‘Hoekom het julle nie vir My ’n huis van sederhout gebou nie?’

8Nou, daarom moet jy vir My dienskneg Dawid sê: ‘So sê יהוה-Tzva’ot: “Ek het jou uit die weiveld, van agter die skape af, weggevat, om heerser te wees oor My volk, Yisra’el. 9Ek was by jou oral waar jy gegaan het en het al jou vyande voor jou afgesny en Ek sal vir jou ’n groot naam (karakter en outoriteit) maak, soos die name van die groot manne wat op die aarde is. 10Ek sal ook vir My volk Yisra’el ’n plek aanstel en hulle plant sodat hulle in hul eie plek kan bly in vrede en nie meer gepla word nie; ook sal bose manne hulle nie weer slawe maak, soos vroeër nie. 11Selfs van die dag af dat Ek jou as regter oor My volk Yisra’el aangestel het, het ek jou rus gegee van al jou vyande. יהוה verklaar ook teenoor jou dat יהוה vir jou ’n huis sal maak. 12As jou dae voltooi is en jy by jou vaders neergelê word, sal Ek jou nageslag na jou oplig, wat uit jou liggaam sal voortkom en Ek sal sy koningskap bevestig. 13Hy sal vir My Naam (Karakter en Outoriteit) ’n huis bou en Ek sal die troon van sy koninkryk bevestig tot in ewigheid. 14Ek sal vir hom ’n Vader wees en hy sal vir My ’n seun wees; wanneer hy ’n oortreding begaan, sal Ek hom straf met ’n roede van mense en met slae van ’n seun van ’n mens, 15maar My liefdevolle goedheid sal nie van hom af weggaan soos wat Ek dit van Sha’ul, wie Ek voor jou verwyder het, af weggevat het nie. 16Jou huis en jou koningskap sal voor My voortbestaan vir ewig; jou troon sal vasgestel word vir ewig.’” 17Volgens hierdie hele boodskap en hierdie hele visioen, so het Natan met Dawid gepraat.

18Toe het Dawid, die koning, ingegaan en voor יהוה gesit en gesê: “Wie is ek en wat is my huis, יהוה-God, dat U my tot hiertoe gebring het? 19Tog was dit gering in U oë, יהוה-God, want U het ook aangaande die huis van U kneg in die verre toekoms gepraat. Hierdie is die gewoonte van mense, יהוה-God! 20Weer, wat meer kan Dawid vir U sê? Want U het ’n verbondsverhouding met U dienskneg, יהוה-God. 21Ter wille van U boodskap en volgens U verstand, wil en emosie het U al hierdie groot dinge gedoen, om U dienskneg te laat weet. 22Om hierdie rede is U groot, יהוהGod, want daar is niemand soos U en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. 23Watter enkel volk is soos U volk Yisra’el, wat God vir Homself as ’n volk gaan bevry het, om vir Homself ’n Naam (Karakter en Outoriteit) te maak en om groot dinge te doen vir U en ontsagwekkende dinge vir U land, voor U volk wat U bevry het vir Uself vanuit Mitzrayim, van nasies en hulle gode? 24Want U het vir Uself U volk Yisra’el bevestig as U eie volk vir ewig en U, יהוה, het vir hulle ’n God geword; 25daarom nou, יהוהGod, bevestig die boodskap wat U aangaande U kneg en sy huis gesê het vir ewig en doen soos U gesê het 26sodat U Naam (Karakter en Outoriteit) vir altyd groot kan wees deur te sê: “יהוהTzva’ot is God oor Yisra’el en mag die huis van U dienskneg Dawid vasgestel wees voor U Teenwoordigheid, 27want U, יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el, het aan U dienskneg ’n openbaring gemaak en gesê: “Ek sal vir jou ’n huis bou;” daarom het U dienskneg moed gevind om hierdie gebed tot U te bid. 28Nou, יהוהGod, U is God, U boodskap is waarheid en U het hierdie goeie ding aan U dienskneg belowe. 29Nou, daarom, mag dit U behaag om die huis van U dienskneg te seën sodat dit vir ewig voor U Teenwoordigheid kan voortgaan, want U, יהוה-God, het gepraat en met U seën, mag die huis van U dienskneg vir ewig geseënd wees.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Samuel 6
Top of Page
Top of Page