2 Kronieke 24
Afrikaans PWL
1Yo’ash was sewe jaar oud toe hy begin heers het en hy het veertig jaar lank in Yerushalayim regeer. Die naam van sy moeder was Tzivyah, uit die stad Be’er Sh’va. 2Yo’ash het dit gedoen wat reg was in die oë van יהוה, al die dae van die priester Y’hoyadah. 3Y’hoyadah, die priester, het vir hom twee vroue geneem en hy het die vader geword van seuns en dogters.

4Dit het gebeur na hierdie dinge dat Y’hoyadah in die geheim, saam met Yo’ash, besluit het om die huis van יהוה te herstel en alles wat in dit nodig was. 5Y’hoyadah, die priester, het al die priesters en die Leviete bymekaargemaak en vir hulle gesê: “Gaan uit na die stede van Y’hudah en versamel silwer en goud uit die hele Yisra’el om van jaar tot jaar die huis van julle God te herstel en júlle moet gou maak met die saak! 6Die koning het die hoofpriester, Y’hoyadah, geroep en vir hom gesê: “Waarom het jy nie vereis dat die Leviete uit Y’hudah en uit Yerushalayim die belasting, wat Moshe, die kneg van יהוה, voorgeskryf het, inbring nie en die vergadering van Yisra’el vir die Fees van Sukkot oproep nie?” 7`Atalyah het boosheid onderrig en die huis van God opgebreek en wat ook al die afgesonderde voorwerpe wat in die huis van יהוה was, vir die aanbidding van afgode gebruik.

8Op bevel van die koning het hulle ’n kis gemaak en dit buitekant die poort van die huis van יהוה neergesit. 9Hulle het uitgeroep in Y’hudah en in Yerushalayim om aan יהוה die deel wat Moshe, die dienskneg van God, op Yisra’el in die woestyn gelê het, te bring. 10Al die prinse en die hele volk het hulle verheug en geskenke ingebring, die kis op sy plek gesit en ingegooi totdat dit vol was. 11Wanneer hulle sien dat daar baie geld in die kis was, het die koning se skrywer en die opsigter van die hoofpriester se huis gekom en die geld getel en in sakke gesit. 12Hulle het dit aan hulle gegee wat die werk van die diens van die huis van יהוה doen en het klipkappers en skrynwerkers gehuur om die huis van יהוה te herstel, asook yster- en kopersmede om die huis van יהוה te herstel. 13Die werkers het gewerk en die werk vervolmaak sodat die huis van God herstel is en hulle het dit versterk. 14Toe hulle klaar was, het hulle die orige geld voor die koning en Y’hoyadah gebring, waarvan houers gemaak is vir die huis van יהוה, houers om te dien en te offer en lepels en goue en silwer voorwerpe. Hulle het voortdurend brandoffers gebring in die huis van יהוה al die dae van Y’hoyadah.

15Y’hoyadah het oud geword en was vol van dae toe hy dood is. Hy was ’n honderd en dertig jaar oud toe hy gesterf het. 16Hulle het hom begrawe in die stad van Dawid by die konings en gesê: “So sal hy wat goed doen in Yisra’el beloon word.” Hy het ook baie bygedra vir die huis van יהוה.

17Ná die dood van Y’hoyadah, het die prinse van Y’hudah voor die koning kom buig en die koning het na hulle geluister 18en hulle het die huis van יהוה, die God van hulle vaders, verlaat en gegaan en beelde en afgode gedien. Woede het oor Y’hudah en Yerushalayim gekom omdat hulle hierdie sonde gedoen het. 19Nogtans het God profete na hulle gestuur om hulle terug te bring van hulle lewenswyses af, maar hulle wou nie luister nie. Die profete het teen hulle getuig, maar hulle wou nie gehoor gee nie.

20Die Gees van יהוה het op Z’kharyah, die seun van Y’hoyadah, die priester, gekom en hy het hoër as die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê יהוה: Waarom oortree julle die opdragte van יהוה dat julle nie voorspoedig kan wees nie? Omdat julle My lewenswyses verlaat het, sal Ek julle verlaat.” 21Daarop het hulle ’n sameswering teen hom gesmee en hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van יהוה gestenig. 22So het koning Yo’ash die guns wat Y’hoyadah, sy vader, aan hom bewys het, nie onthou nie, maar sy seun na hom doodgemaak. Toe sy seun op die punt was om doodgemaak te word, het hy gesê: “Mag יהוה dit sien en wraak neem!”

23Dit het gebeur aan die einde van die jaar dat ’n leër van Aram teen hom opgetrek het en hulle het in Y’hudah en Yerushalayim aangekom en al die prinse van die volk uitgeroei en al hulle buit na die koning van Dammesek gestuur. 24Alhoewel die leër van Aram met ’n klein aantal manne gekom het, het יהוה ’n baie groot leër in hulle hand gegee omdat hulle יהוה, die God van hulle vaders, verlaat het. Dit wat Yo’ash gedoen het is veroordeel deur die regters.

25Toe hulle van hom af weggegaan het, want hulle het hom in ’n ernstige siektetoestand verlaat, het sy diensknegte ’n sameswering teen hom gesmee vanweë die bloed van die seun van Y’hoyadah, die priester en hulle het hom op sy bed vermoor en hy is dood. Hy is begrawe in die stad van Dawid, sy vader, maar hulle het hom nie in die grafte van die konings begrawe nie. 26Hierdie is die name van hulle wat teen hom saamgesweer het: Yozakhar, die seun van Shim’at, die `Ammoniet en Y’hozavad, die seun van Shomer, die Mo’aviet, 27asook sy seuns en baie ander het teen hom saamgesweer. Die res van die sondes wat hy gepleeg het in die huis van יהוה, let op, dit is opgeskryf in die Gedigte van die Boek van die konings. Amatzyahu het in sy plek geheers.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 23
Top of Page
Top of Page