2 Kronieke 2
Afrikaans PWL
1Shlomo het bevel gegee om vir die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה ’n tempel te bou en ’n huis vir sy koninkryk. 2Shlomo het sewentig duisend mans aangestel om vragte te dra en tagtig duisend klipkappers in die berge en drie duisend ses honderd om oor hulle toesig te hou.

3Shlomo het na Hiram, die koning van Tzor gestuur en gesê: “Soos wat u groot guns aan my vader, Dawid, bewys het deur aan hom seders te stuur, om vir hom ’n huis te bou om in te woon, 4let op, ek bou ’n huis vir die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, my God, om dit tot Hom af te sonder, om soet wierook voor Hom te brand, om ’n lamp voortdurend voor Hom te laat brand en om brandoffers, oggend en aand, op die Shabbat en Nuwemane, op die vasgestelde feeste van יהוה, ons God, te bring. Dit is ’n ewige instelling vir Yisra’el. 5Die huis wat ek gaan bou, sal groot wees, want ons God is groter as al die konings, 6maar wie is in staat om vir Hom ’n huis te bou aangesien die hemel en die hoogste hemele Hom nie kan bevat nie? Wie is ek dan, dat ek vir Hom ’n huis kan bou, of om voor Hom soet wierook te brand? 7Stuur dan nou vir my ’n bekwame man om met goud, silwer, koper, yster, purper, fyn linne en bloedrooi en blou stowwe te werk en wat bekwaam is om te graveer, saam met die bekwame manne wat by my in Y’hudah en Yerushalayim is, wat my vader, Dawid, voorsien het. 8Stuur ook vir my seder-, sipres- en sandelhout vanuit die L’vanon, want ek weet dat u diensknegte weet hoe om die seders van L’vanon te kap en let op, my diensknegte sal saam met u diensknegte wees 9en vir my hout in oorvloed bring, want die huis wat ek gaan bou, sal groot en wonderbaar wees. 10Ek sal skrynwerkers, wat bekwaam is in houtwerk, voorsien en kos vir u diensknegte, twintig duisend kor koring en twintig duisend kor gars en twintig duisend bat wyn en twintig duisend bat olie.”

11Hiram, koning van Tzor, het Shlomo in ’n brief geantwoord en gesê: “Omdat יהוה sy volk liefhet, het Hy u koning oor hulle gemaak.” 12Verder het Hiram gesê: “Geseënd is יהוה, die God van Yisra’el, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat aan koning Dawid ’n wyse seun gegee het, begaafd met versigtigheid en begrip, wat besluit het om ’n huis vir יהוה en ’n huis vir sy koninkryk te bou.

13Ek het nou vir jou ’n bekwame man met insig gestuur, Hiram, 14die seun van ’n weduwee uit die huis van Dan en sy vader was ’n bekwame man. Hy weet hoe om te werk in goud, silwer, koper, yster, klippe, hout, purperrooi en blou stowwe, fyn linne en bloedrooi stowwe en om allerhande sleutels vir die deure te maak en om enige kunswerk te beplan wat aan hom opgedra word deur יהוה, saam met u kunstenaars en die kunstenaars van ons meester, u vader, Dawid; 15daarom, laat my meester dan nou die koring, die gars, die olie en die wyn, wat hy aan sy dienskneg belowe het, stuur 16en óns sal sederbome uit die L’vanon kap, net soveel as wat u begeer en ons sal dit na u toe bring as vlotte per see na Yafo; ú kan dit dan na Yerushalayim laat dra.

17Toe het Shlomo al die proseliete bymekaargemaak wat in die land van Yisra’el was, volgens die telling van sy vader, Dawid en daar is een honderd drie en vyftig duisend ses honderd gevind. 18Koning Shlomo het sewentig duisend van hulle vragdraers gemaak en tagtig duisend klipkappers in die berge en drie duisend drie honderd toesighouers om die mense te laat werk.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 1
Top of Page
Top of Page