1 Timotheus 5
Afrikaans PWL
1’n Ouer man moet jy nie bestraf nie, maar versoek hom soos ’n vader, die wat jonk is, soos jou broers, 2ouer vroue, soos moeders en die wat jonger is, soos jou susters in alle reinheid.

3Eer die weduwees wat werklik weduwees is 4en as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet hulle verstaan dat hulle eerste teenoor hulle eie huis verantwoordelik moet wees en dat hulle aan hulle ouers moet betaal, want dit is aanvaarbaar in die Teenwoordigheid van God. 5Die werklike weduwee wat alleen gelaat is, se verwagting is van God en volhard in gebede en versoeke, nag en dag. 6Sy wat die arena aanbid (oorgegee is aan plesier), is dood terwyl sy lewe. 7Beveel hierdie dinge aan hulle sodat hulle onberispelik kan wees, 8maar iemand, veral iemand wat deel is van dié wat vertrou, wat nie vir sy eie huisgenote sorg nie, het die vertroue verwerp en is slegter as ’n ongelowige.

9’n Weduwee van nie minder as sestig jaar oud nie, word gekies, wat die vrou van een man was 10en getuienis het van goeie dade, as sy haar kinders grootgemaak het, gasvry was, die afgesonderdes versorg het, dié met moeilikheid gehelp en in elke goeie daad geleef het, 11maar jy moet die jong weduwees wegwys, want hulle skei af van Die Gesalfde Een en begeer om te trou. 12Hulle oordeel is vas omdat hulle hul eerste vertroue verwerp het, 13maar hulle leer ook ledigheid deur van huis tot huis rond te gaan en nie alleen luiheid nie, maar ook vermeerderde pratery en die bespreking van nietighede en praatjies wat nie toepaslik is nie; 14daarom wil ek hê dat die jong weduwees moet trou, kinders kry, hulle huise administreer en die teëstanders geen geleentheid gee om kwaad te praat nie, 15want tot nou toe het hulle alreeds een vir een afgedraai agter die teëstander aan. 16As ’n man of vrou wat vertrou, se familie weduwees het, moet dié hulle help en laat die gemeente nie belas word nie sodat hulle genoeg het om die wat waarlik weduwees is, te help.

17Oudstes wat goed regeer, verdien dubbele eer, veral die wat hard werk in die boodskap en in lering, 18want die Skrif sê: “Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie” en: “Die werker verdien sy beloning.” 19Moenie ’n klagte teen ’n oudste aanvaar nie, behalwe op die getuienis van twee of drie. 20Bestraf die wat sondig voor almal sodat die ander ook kan vrees.

21Ek getuig tot jou voor God en ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een en Sy gekose engele, dat jy hierdie dinge gehoorsaam en laat jou gedagtes in niks bevooroordeeld wees nie en doen niks uit aanvaarding van mense nie. 22Moenie haastig iemand die hande oplê nie en moet ook nie deel in die sondes van vreemdelinge nie. Hou jouself rein.

23Moet van nou af aan nie langer water alleen drink nie, maar gebruik ’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou kroniese siekte.

24Die sondes van sommige mense is baie duidelik en gaan voor hulle uit na die oordeel, maar die van ander volg eers agterna. 25Net so ook is die goeie werke baie duidelik en selfs die wat nie is nie, kan nie ’n geheim bly nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Timothy 4
Top of Page
Top of Page