1 Konings 11
Afrikaans PWL
1Koning Shlomo het baie buitelandse vroue liefgehad saam met die dogter van Farao: Mo’avitiese, `Ammonitiese, Edomitiese, Tzidonitiese en Hittitiese vroue; 2vanuit die nasies waarvan יהוה aan die seuns van Yisra’el gesê het: “Julle mag nie met hulle assosieer nie en hulle ook nie met julle nie, want hulle sal sekerlik julle verstand, wil en emosie wegdraai agter hulle gode aan.” Shlomo het hulle met liefde aangehang. 3Hy het sewe honderd vroue en prinsesse gehad en drie honderd byvroue en sy vroue het sy verstand, wil en emosie weggedraai, 4want toe Shlomo oud was, het sy vroue sy verstand, wil en emosie agter ander gode aan weggedraai en sy verstand, wil en emosie was nie volkome toegewy aan יהוה, sy God, soos die verstand, wil en emosie van sy vader, Dawid, nie. 5Shlomo het agter `Ashtoret, die godin van die Tzidoniërs en agter Milkom, die verfoeilike afgod van die `Ammoniete, aan geloop. 6Shlomo het gedoen wat boos was in die oë van יהוה en יהוה nie ten volle gevolg soos sy vader, Dawid, nie. 7Toe het Shlomo ’n hoë plek, op die berg wat oos van Yerushalayim lê, vir K’mosh, die verfoeilike afgod van Mo’av en vir Molekh, die verfoeilike afgod van die seuns van `Ammon, gebou. 8So het hy ook gedoen vir al sy buitelandse vroue wat wierook gebrand en geoffer het aan hulle gode.

9יהוה was kwaad vir Shlomo omdat sy verstand, wil en emosie weggedraai was van יהוה, die God van Yisra’el, wat twee keer aan hom verskyn het 10en hom aangaande hierdie saak beveel het om nie agter ander gode aan te gaan nie, maar hy het nie gedoen wat יהוה beveel het nie. 11יהוה het vir Shlomo gesê: “Omdat jy dit gedoen het en nie My verbond en My instellings, wat Ek jou beveel het, gehou het nie, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou af wegskeur en dit aan jou dienskneg gee. 12Nogtans sal ek dit nie in jou dae doen nie ter wille van jou vader, Dawid, maar Ek sal dit uit die hand van jou seun skeur. 13Tog sal Ek nie die hele koninkryk wegskeur nie, maar Ek sal een stam aan jou seun gee ter wille van My dienskneg, Dawid en ter wille van Yerushalayim wat Ek verkies het.”

14Toe het יהוה vir Shlomo ’n teëstander opgewek: Hadad, die Edomiet; hy was van die koninklike familie in Edom. 15Dit het gebeur toe Dawid in Edom was en Yo’av, die bevelvoerder van die leër, opgetrek het om die gesneuweldes te begrawe en hy al wat manlik was in Edom doodgeslaan het 16(want Yo’av en die hele Yisra’el het ses maande lank daar gebly totdat hy al die manlike persone in Edom afgesny het) 17dat Hadad, as ’n jong seun, na Mitzrayim gevlug het; hy en sekere Edomiete van sy vader se diensknegte saam met hom. 18Hulle het opgestaan vanuit Midyan en in Pa’ran gekom en vanuit Pa’ran manne saam met hulle gevat en in Mitzrayim aangekom by Farao, die koning van Mitzrayim, wat vir hom ’n huis en kos gegee het en vir hom land gegee het. 19Hadad het groot guns gevind voor Farao sodat hy vir hom sy vrou se suster, die suster van Tagp’neis, die koningin, as vrou gegee het. 20Die suster van Tagp’neis het vir hom geboorte gegee aan sy seun G’nuvat, wat Tagp’neis in die huis van Farao groot gemaak het en G’nuvat was in die huis van Farao tussen die seuns van Farao. 21Toe Hadad egter in Mitzrayim hoor dat Dawid by sy vaders neergelê is en dat Yo’av, die bevelvoerder van die leër, dood is, sê Hadad vir Farao: “Stuur my weg dat ek na my eie land kan gaan.” 22Toe sê Farao vir hom: “Maar wat het jy by my tekort, let op, dat jy begeer om na jou eie land te gaan?” Hy antwoord: “Niks nie; nogtans moet u my sekerlik laat gaan.”

23God het ook ’n ander teëstander teen hom opgewek, Rezon, die seun van Elyada, wat gevlug het van sy meester Hadad’ezer, die koning van Tzovah. 24Nadat Dawid hulle by Tzovah gedood het, het hy manne by hom versamel en leier van ’n plunderbende geword en hulle het na Dammesek gegaan en daar gebly en in Dammesek geheers. 25Hy was ’n teëstander van Yisra’el al die dae van Shlomo, saam met die boosheid wat Hadad gedoen het en hy het Yisra’el verafsku en oor Aram geheers.

26Toe het Yarov’am, ’n dienskneg van Shlomo, die seun van N’vat, ’n Efrayimiet uit Tz’redah, wie se moeder se naam Tz’ru’ah was, ’n weduwee, ook teen die koning rebelleer. 27Dít was die rede hoekom hy teen die koning rebelleer het: Shlomo het Millo gebou en die skeur aan die stad van sy vader, Dawid, toegemaak. 28Die man Yarov’am was ’n dapper soldaat en toe Shlomo sien dat die jongman ywerig en hardwerkend was, het hy hom aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Yosef. 29Dit het omtrent in daardie tyd gebeur, toe Yarov’am uit Yerushalayim uitgaan dat die profeet Agiyah, die Shiloniet, hom op die pad kry. Agiyah het homself geklee in ’n nuwe mantel en hulle twee was alleen in die veld. 30Toe gryp Agiyah die nuwe mantel wat hy aangehad het en skeur dit in twaalf stukke. 31Hy sê vir Yarov’am: “Vat vir jou tien stukke, want so sê יהוה, die God van Yisra’el: ‘Let op, Ek sal die koninkryk uit die hand van Shlomo skeur en aan jou tien stamme gee, 32maar een stam sal syne wees ter wille van My kneg Dawid en ter wille van Yerushalayim, die stad wat Ek gekies het uit al die stamme van Yisra’el 33omdat hy My verlaat en hom neergebuig het voor `Ashtoret, die godin van die Tzidoniërs, voor K’mosh, die god van Mo’av en voor Milkom, die god van die seuns van `Ammon en nie geleef het op My maniere deur te doen wat reg is in My oë, om My instellings en My opdragte, soos sy vader, Dawid, na te kom nie. 34Nogtans sal Ek nie die hele koninkryk uit sy hand uit vat nie, maar Ek sal hom heerser maak vir al die dae van sy lewe, ter wille van My kneg Dawid wat Ek gekies het, wat My opdragte en My instellings gehoorsaam het, 35maar Ek sal die koninkryk uit die hand van sy seun vat en dit aan jou gee, tien stamme, 36maar aan sy seun sal Ek een stam gee sodat My kneg Dawid altyd ’n lamp kan hê voor My in Yerushalayim, die stad waar Ek vir Myself gekies het om My Karakter en Outoriteit te plaas. 37Ek sal jou vat en jy sal regeer oor alles wat jy begeer en jy sal koning wees oor Yisra’el. 38Dan sal dit wees indien jy luister na alles wat Ek jou beveel en leef in My paaie en doen wat reg is in My oë deur My instellings en My opdragte te gehoorsaam, soos My kneg Dawid gedoen het, Ek dan by jou sal wees en vir jou ’n blywende huis bou, soos Ek vir Dawid gebou het en Ek sal Yisra’el vir jou gee. 39So sal Ek die nageslag van Dawid hieroor beproef, maar nie vir altyd nie.’” 40Shlomo het daarom probeer om Yarov’am dood te maak, maar Yarov’am het opgestaan en na Mitzrayim gevlug, na Shishak, die koning van Mitzrayim en hy was in Mitzrayim tot die dood van Shlomo.

41Die res van die dade van Shlomo en wat hy ook al gedoen het en sy wysheid, is dit nie opgeskryf in die ‘Boek van die dade van Shlomo’ nie? 42Die tyd wat Shlomo in Yerushalayim oor die hele Yisra’el regeer het, was veertig jaar. 43Shlomo is by sy vaders neergelê en is begrawe in die stad van sy vader, Dawid en sy seun, Regav’am, het in sy plek geheers.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 10
Top of Page
Top of Page