1 Konings 10
Afrikaans PWL
1Toe die koningin van Sh’va hoor van die bekendheid van Shlomo en aangaande die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה, het sy gekom om hom met moeilike vrae te toets. 2Sy het na Yerushalayim gekom met ’n baie groot gevolg, met kamele wat speserye, baie goud en edelgesteentes dra. Toe sy by Shlomo kom, het sy met hom gepraat oor alles wat in haar verstand, wil en emosie was. 3Shlomo het al haar vrae beantwoord; niks was vir die koning verborge wat hy nie aan haar verduidelik het nie. 4Toe die koningin van Sh’va al die wysheid van Shlomo sien, die huis wat hy gebou het, 5die kos van sy tafel, hoe sy diensknegte sit, die bediening van sy bediendes en hulle klere, sy skinkers en sy trap waarmee hy opgaan na die huis van יהוה, het haar asem weggeslaan. 6Toe sê sy vir die koning: “Die verslag wat ek in my eie land gehoor het aangaande u woorde en u wysheid, was waar. 7Nogtans het ek die verslae nie geglo nie totdat ek gekom en met my oë gesien het. Let op, die helfte is nie vir my vertel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die verslag wat ek gehoor het. 8Hoe geseënd is u manne, hoe geseënd is hierdie diensknegte van u wat voortdurend voor u staan en u wysheid hoor. 9Lof aan יהוה, u God, wat bly was oor u om u op die troon van Yisra’el te laat sit! Omdat יהוה Yisra’el vir ewig liefhet; daarom het Hy u koning gemaak om reg en onpartydige opregtheid te doen.” 10Sy het vir die koning ’n honderd en twintig talente goud, ’n groot hoeveelheid speserye en edelgesteentes gegee. Daar het nooit weer so ’n hoeveelheid speserye ingekom as wat die koningin van Sh’va vir koning Shlomo gegee het nie.

11Die skepe van Hiram wat goud uit Ofir gaan haal het, het ook uit Ofir ’n groot hoeveelheid sandelhout en edelgesteentes gebring. 12Die koning het ondersteunings vir die huis van יהוה en vir die huis van die koning, asook liere en harpe vir die sangers van die sandelhout (almug) gemaak; sulke sandelbome het nie weer ingekom of is gesien tot vandag toe nie.

13Koning Shlomo het vir die koningin van Sh’va aan al haar begeertes, wat sy gevra het, voldoen; bo en behalwe wat hy vir haar gegee het volgens sy koninklike vrygewigheid. Toe het sy omgedraai en na haar eie land gegaan saam met haar bediendes.

14Die gewig van goud wat in een jaar vir Shlomo ingekom het, was ses honderd ses en sestig talente goud, (ongeveer 23 metrieke ton) 15behalwe wat ingekom het van die handelaars wat rondtrek en van die wins van die verkopers en van al die konings van die Arabiere en van die goewerneurs van die land. 16Koning Shlomo het twee honderd groot skilde van suiwer goud gemaak; hy het ses honderd sikkels (6,8kg) goud op elke groot skild gebruik 17en drie honderd skilde van suiwer goud met drie minahs (1,7kg) goud op elke skild en die koning het dit in die huis van die L’vanon-woud gesit. 18Verder het die koning ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. 19Die troon het ses trappe gehad en ’n ronde kopstuk bo die troon aan die agterkant en arms weerskante van die sitplek, met twee leeus wat langs die arms staan. 20Twaalf leeus het daar op die ses trappe aan weerskante gestaan; niks soos dit is ooit vir enige ander koninkryk gemaak nie. 21Al koning Shlomo se drinkservies was van goud en al die houers van Die Huis van die L’vanon-woud was van suiwer goud; niks was van silwer nie: dit is in die dae van Shlomo nie as waardevol gereken nie, 22want die koning het ’n vloot van skepe van Tarshish gehad by die skepe van Hiram; een maal elke drie jaar het die skepe van Tarshish ingekom en goud, silwer, ivoor, ape en poue gebring.

23So het koning Shlomo in rykdom en in wysheid, groter geword as al die konings van die aarde. 24Die hele wêreld het die teenwoordigheid van Shlomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy verstand gegee het. 25Elkeen van hulle het sy geskenk saam gebring: silwer voorwerpe, goue voorwerpe, klere, wapens, speserye, perde en muile, jaar na jaar.

26Shlomo het strydwaens en perderuiters bymekaargemaak en hy het een duisend vier honderd waens en twaalf duisend perderuiters gehad en hy het dit in die stede vir stydwaens en by die koning in Yerushalayim gesit. 27Die koning het silwer in Yerushalayim so algemeen gemaak soos klippe en seders so volop soos wildevyebome wat in die Laagland is. 28Shlomo se invoer van perde was uit Mitzrayim en die koning se handelaars het ’n kommissie ontvang op die goedere wat hulle gekoop het. 29’n Strydwa is uit Mitzrayim ingevoer vir ses honderd sikkels silwer en ’n perd vir ’n honderd en vyftig en op dieselfde manier is hulle na al die konings van die Hittiete en die konings van Aram uitgevoer.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 9
Top of Page
Top of Page