1 Korinthiërs 16
Afrikaans PWL
1Aangaande die dinge wat vir die afgesonderdes bymekaargemaak is, moet julle ook net so doen soos ek vir die gemeentes van Galatia beveel het. 2Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle dit wat hy kan eenkant sit, in sy huis hou sodat wanneer ek kom, daar nie insamelings hoef te wees nie. 3Wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle gekies het, met briewe stuur om dit wat julle gegee het na Yerushalayim te bring, 4maar as dit toepaslik is dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.

5Ek sal egter na julle toe kom wanneer ek vanaf die stad gekom het, want ek gaan deur Makedonia 6en miskien sal ek by julle oorbly of oorwinter sodat julle saam met my kan gaan waarheen ek ook al mag gaan. 7Ek verkies om julle nie díe keer net in die verbygaan te sien nie, maar ek hoop om ’n tyd lank by julle te bly as my Meester dit toelaat, 8maar ek sal in Efesos bly tot die Fees van weke (Shavu’ot), 9want ’n groot deur het vir my oopgegaan, vol geleenthede en daar is baie wat my teëstaan.

10As Timotheos na julle toe kom, kyk dat hy sonder vrees by julle is, want hy versorg die werke van יהוה, net soos ek. 11Laat niemand hom dan minag nie, maar vergesel hom in vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid sodat hy na my toe kan kom, want ek, saam met die broers, wag vir hom.

12Met betrekking tot die broer Apollos: ek het hom baie keer gevra om saam met die broers na julle toe te gaan en hy het sonder twyfel nie die begeerte gehad om nou te gaan nie, maar hy sal gaan wanneer hy tyd het.

13Wees waaksaam, staan in vertroue, wees dapper, wees sterk, 14doen alles in liefde.

15Broers, julle weet dat die huisgesin van Stefanas die eersteling vrug van Agaia is en dat hulle hulself tot diens van die afgesonderdes gemaak het; daarom vra ek julle 16dat julle ook gehoorsaam moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saam met hulle werk en arbei. 17Ek verbly my omdat Stefanas, Fortounatos en Agaikos hier aangekom het aangesien hulle opgemaak het vir my gemis aan julle, 18want hulle het my gees verkwik soos ook julle s’n. Erken daarvolgens sulke manne.

19Al die gemeentes van Asië groet julle. Akulas en Priskilla, saam met die gemeente wat in hulle huis is, stuur vir julle baie groete in ons Meester. 20Al die broers groet julle. Groet mekaar met ’n afgesonderde soen.

21Sha’ul se groete, met my eie hand: 22Wie ook al nie ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, liefhet nie, laat hom vervloek wees! Ons Meester kom! 23Die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, is by julle! 24My liefde is by julle almal in Die Gesalfde Een, Yeshua!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 15
Top of Page
Top of Page