1 Korinthiërs 15
Afrikaans PWL
1My broers, ek leer vir julle die goeie boodskap wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aanvaar het, waarin julle ook staan, 2waardeur julle lewe het, (dié wat die boodskap onthou wat ek aan julle verkondig het) anders het julle sonder rede vertrou.

3Ek het van die begin af aan julle oorgedra wat ek ook ontvang het, dat Die Gesalfde Een vir ons sondes gesterf het, net soos dit geskryf is; 4dat Hy begrawe is en dat Hy na drie dae opgestaan het, net soos geskryf is 5en dat Hy aan Kefa verskyn het; daarna aan die twaalf. 6Daarna het Hy verskyn aan meer as vyf honderd broers by een geleentheid, waarvan baie nou nog lewe, maar sommige reeds dood is. 7Daarna het Hy verskyn aan Ya’akov; daarna aan al die afgevaardigdes 8en laaste van almal, asof aan ’n verstote baba, het Hy ook aan my verskyn, 9want ek is die geringste van die afgevaardigdes, wat nie werd is om ’n afgevaardigde genoem te word nie omdat ek die gemeente van God vervolg het. 10Deur die onverdiende guns van God is ek egter wat ek is en Sy onverdiende guns aan my was nie tevergeefs nie, maar ek het meer gewerk as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die onverdiende guns van God wat by my is; 11daarom, of dit nou ek is of hulle, so verkondig ons en so het julle vertrou.

12As Die Gesalfde Een verkondig word, wat uit die dood uit opgestaan het, hoe sê sommige onder julle dat daar nie lewe is vir die dooies nie? 13As daar geen lewe vir die dooies is nie, dan is Die Gesalfde Een ook nie opgewek nie 14en as Die Gesalfde Een nie opgewek is nie, dan is ons verkondiging waardeloos en waardeloos ook julle vertroue. 15Dan word ons as valse getuies van God bevind omdat ons van God getuig het dat Hy Die Gesalfde Een opgewek het terwyl Hy Hom nie opgewek het nie, 16want as die wat dood is nie weer sal lewe nie, dan lewe selfs Die Gesalfde Een ook nie 17en as Die Gesalfde Een nie lewend is nie, dan is julle vertroue leeg en is julle nog in julle sondes 18en dan het ook dié wat in Die Gesalfde Een dood is, sonder twyfel vergaan. 19As ons net in hierdie lewe op Die Gesalfde Een ’n versekerde verwagting het, dan is ons die bejammerenswaardigste van alle mense,

20maar nou, Die Gesalfde Een ís opgewek uit die dood uit en Hy ís die eersteling vrug van dié wat dood is. 21Net soos die dood deur ’n mens gekom het, net so het die lewe van hulle wat dood is, deur ’n Mens gekom, 22want net soos alle mense deur Adam doodgaan, net so sal hulle ook almal in Die Gesalfde Een lewe. 23Elke persoon in sy orde: die eersteling vrug is Die Gesalfde Een, daarna hulle wat aan Die Gesalfde Een behoort, wanneer Hy kom 24en dan kom die einde, wanneer Hy die Koninkryk aan God die Vader oorgee, wanneer Hy elke heerser en elke outoriteit en alle kragte vernietig het, 25want Hy gaan heers totdat Hy al Sy vyande onder Sy voete geplaas het. 26Die laaste vyand wat Hy vernietig, is die dood. 27“Want Hy het alles onderwerp onder Sy voete,” maar wanneer Hy sê dat alles ondergeskik gemaak is, is dit duidelik dat Hy wat alles aan Hom ondergeskik gemaak het, uitgesonder is 28en wanneer alles ondergeskik aan Hom gemaak is, dan sal ook die Seun Homself ondergeskik maak aan die Een wat alles ondergeskik aan Hom gemaak het sodat God alles in almal kan wees.

29Anders, wat sal dit hulle baat wat hulle laat doop met die dood tot doel, as die dooies nie weer sal lewe nie? Waarom laat hulle hul nog tot die dood, doop? 30Waarom leef ons ook elke oomblik in gevaar? 31So waar as wat ek roem op julle in Die Gesalfde Een, Yeshua, ons Meester, sterf ek daagliks, broers. 32As ek in Efesos as mens vir wilde diere gegooi is, watter voordeel was dit vir my? As die dooies nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons! 33Moenie mislei wees nie; bose gesprekke korrup goeie denke. 34Maak julle verstand, wil en emosie wakker in onskuld en moenie sondig nie, want daar is sommige wat nie die kennis van God in hulle het nie. Ek sê dit tot julle skande.

35Iemand van julle sal sê: ‘Hoe staan die dooies op en in watter liggaam verskyn hulle?’ 36Dwaas! Die saad wat jy saai, kan nie lewendig word as dit nie doodgegaan het nie 37en dit wat jy saai is nie die liggaam wat sal word nie, maar ’n kaal korrel, van koring of van gars of van ’n ander graan, 38maar God gee dit ’n liggaam net soos Hy wil en aan elkeen van die saad ’n liggaam volgens sy natuur. 39Elke vlees is nie dieselfde as ander vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van ’n bees, wat anders is as dié van voëls, wat anders is as dié van visse 40en daar is ’n hemelse liggaam en ’n aardse liggaam, maar die eer en lof van die hemelse is anders as dié van die aardse. 41Die son se eer en lof is anders as die eer en lof van die maan en anders as die eer en lof van die sterre en die een ster verskil in eer en lof van die ander ster.

42So is ook die lewe vir díe wat sterf: gesaai wat kan vergaan, opgewek wat nie kan vergaan nie; 43gesaai in oneer, opgewek in eer en lof; gesaai in swakheid, opgewek in krag; 44gesaai in ’n natuurlike liggaam, opgewek in ’n geestelike liggaam. Daar bestaan ’n natuurlike liggaam en daar bestaan ’n geestelike liggaam. 45So is daar ook geskryf: die eerste mens, Adam, was ’n lewende gees; die laaste ‘Adam’, ’n Lewegewende Gees. 46Die geestelike is nie eerste nie, maar die natuurlike, daarna die geestelike. 47Die eerste mens was stof vanuit die grond, die tweede Mens, יהוה vanaf die hemel. 48Soos die man van stof was, so is ook dié vanuit stof en soos die hemelse Man is, so is ook dié hemelse 49en net soos ons die beeld van die stoflike een gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse Een dra,

50maar dit sê ek, broers, dat dit nie moontlik is vir vlees en bloed om die Koninkryk van God te beërwe nie; ook beërwe dit wat vergaan nie dit wat nie kan vergaan nie. 51Let op, Ek vertel vir julle ’n geheim: nie almal van ons sal doodgaan nie, maar ons sal almal verander word, 52skielik, soos die knip van ’n oog, by die laaste ramshoring, wanneer dit sal blaas en die dooies onverganklik opgewek sal word en ons verander sal word, 53want dit wat kan vergaan moet aangetrek word met wat nie kan vergaan nie en dit wat kan doodgaan moet aangetrek word met wat nie kan doodgaan nie 54en wanneer dit wat vergaan aangetrek is met wat nie vergaan nie en dit wat doodgaan met wat nie kan doodgaan nie, dan sal die boodskap wat geskryf is, vervul word: “Die dood is ingesluk in die oorwinning.” 55“Dood, waar is jou angel? Sh’ol, waar is jou oorwinning?” 56Die angel van die dood is die sonde en die krag van die sonde is die geskrewe wet, 57maar dank God, wat ons die oorwinning gee deur ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.

58Van nou af, my broers, vir wie ek lief is, wees standvastig; moenie geskud word nie, maar wees altyd oorvloedig in die werk van יהוה omdat julle weet dat julle werk in יהוה nie tevergeefs is nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Corinthians 14
Top of Page
Top of Page